amalia uys

FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Amalia: ‘My eerste toneel met Stiaan Smith!’

Amalia Uys speel die hoofrol in die nuutste fliek wat SA aan die praat het, Sy Klink Soos Lente. Al ooit gewonder hoe dit voel om in ’n fliek te speel? Hier verklap Amalia iets oor haar eerste toneel saam met Stiaan Smith!

Amalia speel die rol van Linda, ’n beeldskone en uitgesproke ouditeur. Sy ontmoet Ben (gespeel deur Stiaan Smith) een aand in ’n kroeg. Hul storie begin daar, want om haar te beïndruk jok Ben en sê hy is in ’n band, Groenblare.

Talent in Linden se strate

Ons skiet iewers in Linden. Die straat is afgebaken en spanlede kommunikeer met handradio’s. Die res van Johannesburg is besig om korporatiewe lere te klim, terwyl ons kreatiewes probeer movies maak! Daar word mooi gekyk na die filmspan, in teenstelling met my karakter Linda se wêreld waar niemand haar waarsku teen gevare nie. Hierdie toneel is heelwat later in die fliek, maar dit is die eerste een wat ek en Stiaan saam verfilm.

Linda is verdiep in haar gedagtes tydens haar oggenddraffie. Só verdiep dat sy in die Goudsatd se rommelbelaaide herwinningstrollies vasdraf en ook byna in Ben, wat in sy ou Land Rover sit.

sy klink soos lente

Waldemar Coetsee, produksie-ontwerper en kunsregisseur

As akteur is dit belangrik om veilig te voel saam met jou medespeler en om saam binne die toneel kreatief te kan wees. Ons voel byna onmiddellik hierdie simbiose aan. Ek is baie beïndruk deur Stiaan. Dis nie aldag dat jy iemand in die bedryf teëkom met talent op soveel vlakke nie; en hy is vir seker nié ’n Jack of all trades, master of none nie.

Ek vat ’n oomblik om rondom my te kyk en al wat ek sien, is talent: Van die man wat teenoor my speel, die produksiespan wat seker maak als verloop seepglad, hare-en-grimering-afdeling wat alles tot in die fynste detail dophou, die kunsdepartement wat vir ons die oudste en mooiste ou Land Rover Defender gekry het, tot ons regisseur, Corné van Rooyen, wat jou met toewyding en ’n warm glimlag op die regte pad en in lyn met die film se visie hou.

’n Warm gevoel kom oor my en die liefde wat ek vir hierdie beroep het, blom opnuut. Ons sit nie hier met ’n klomp “Jacks” nie. Allermins. Ons sit met meesters!

Lees nou

Amalia se insiggewende gesprek … op pad huis toe

Amalia Uys deel haar dagboek! #SKSL

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent