amalia uys

FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Amalia se laaste dag op stel!

Amalia het elke week oor haar dae op die stel van die nuwe Afrikaanse fliek Sy Klink Soos Lente geskryf. Ons trek vandag by Amalia se laaste inskrywing, want Sy Klink Soos Lente begin vandag landwyd speel!

Hierdie inskrywing is 5 Desember 2015 gemaak. Kan jy glo, dit vat byna ’n jaar voordat die fliek op die groot skerm verskyn!

Die einde van die hoofstuk

Dis die laaste aand en daardie onvermydelike realiteit dat die einde van die reis aangebreek het, hang swaar in die lug. Almal is op ’n high, maar dis ’n lag met ’n traan … Dit gaan nie maklik wees om weg te stap van hierdie produksie nie.

Dis weer ’n nightshoot, want ons moet klomp tonele in ’n verskeidenheid voertuie verfilm en die strate moet so stil moontlik wees.

Ek kry die geleentheid om in ’n klassieke ou Porsche te ry en voel soos “high society” uit die 50’s met my retro-hare en -grimering!

amalia

Claudia Hamman doen Amalia se grimering

Dis vreeslik interessant hoe hulle dit op verskillende maniere afneem om al die regte invalshoeke vir die kamera te kan kry. Soms ry die tegniese span voor jou uit en die kameramanne sit agter op ’n bakkie en neem jou af van voor af. Hulle kommunikeer dan met ons deur walkie-talkies. Ander kere word die kamera vasgemaak op die enjinkap van die kar waarin jy ry. Dis ’n baie tegniese proses, want niemand beman daardie kamera  terwyl hy rol nie, dus moet als presies reggestel word voor ons wegtrek.

Die laaste toneel van die aand is die snaaksste. Linda ry in haar kar en soek na die regte kanaal op die radio. Corné, die regisseur, en Adam Bentel, die hoofkameraman, is saam met my in die kar. Ek ry en speel toneel en hulle neem af. Dis al vroegoggend en wat jy noem “silly hour” – wanneer jy so moeg is dat als wat gebeur snaaks is. ’n Bekende Afrika-treffer begin oor die radio speel en ons al drie val in en sing uit volle bors saam. Die warm somerbries waai deur my hare, ons lag ons ’n papie en ek voel lewendig!

amalia

’n Uur later word ’n wrap vir Sy Klink Soos Lente geroep. Ons is in Linden op die hoek van 4de en 7de Laan en soos die son begin opkom, gee Johannesburg vir ons die mooiste uitsig op sy skyline wat ek nóg gesien het. Ons omhels en bedank mekaar met glimlagte en trane vir ’n ongelooflike tyd saam.

Ek ry huis toe met ’n onbeskryflike gevoel van geluk in my hart. Dit was ’n voorreg om deel te wees van hierdie produksie en ek kan nie wag om die eindresultaat te sien nie. Ek het geleer, gegroei en gewerk aan my craft en ek het ongelooflike mense ontmoet met wie ek hopelik nog ’n lang pad vorentoe sal stap.

Hoe sê hulle? “Life is Beautiful!”

Lees nou

Was dit liefde? Amalia: “Dinge het net nie uitgewerk soos dit moes nie”

Geen Egoli-Joe – so lyk Darren Kelfkens nou!

Die 1ste liedjie van Sy Klink Soos Lente is hier!