amalia uys

FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Ja, Amalia stres ook!

Amalia Uys deel haar dagboek en in dié week se inskrywing vertel sy oor die toneel wat haar veral laat stres het. Sy verklap ook meer oor die eerste ontmoeting tussen haar en haar held in Sy Klink Soos Lente!

Amalia skryf elke week oor haar dae op die stel van die nuwe Afrikaanse fliek, Sy Klink Soos Lente. Het jy al ooit gewonder oor die lewe van ’n aktrise? Ons trek vandag by Amalia se sesde dagboekinskrywing …

Spies en Plessis

Dis ’n reënerige oggend en ons skiet by ’n kroeg in Melville. Ben (Stiaan Smith) en Linda (Amalia) se ontmoetingstoneel: Hulle is albei op ’n vreemde plek in hul onderskeie lewens en bevind hulself toevallig ná werk in dieselfde kroeg. Linda is nie die tipe meisie wat sommer alleen by ’n kroeg sal instap nie, maar vandag doen sy dit. Sy vra die kroegman of hulle dalk mojito’s maak.

Ben, wat weet dat Linda sy baas se dogter is, gee ’n snorklag vir die vreemde versoek. Mojito’s in ’n kroeg? Sterk meisie wat sy is, besluit sy om hom uit te daag pleks van te ignoreer en begin kwansuis vir die vreemde man ’n grappie vertel – die weirdste grappie in die geskiedenis van die mensdom! En so begin die reis van Ben en Linda.

sy klink soos lente

Stiaan Smith

As dit nie vir regisseur Corné van Rooyen was nie, was hierdie toneel dalk een van die moeilikstes wat ek nog in my ganse lewe moes speel.

Hulle sê altyd die moeilikste genre om te speel is komedie, verál as dit sulke fyngeskrewe humor is. Ek het slapelose nagte gehad oor daai grap! Hoe gaan ek dit kan vertel dat ek nie soos ’n volslae aap oorkom nie? Maar danksy Corné se leiding tydens repetisies en op stel, en natuurlik die ondersteuning van Stiaan, dink ek ons gee die toneel lewe op ’n uiters unieke manier.

Dit is die wonder van toneelspel: jy gaan terug na die begin en jy begin vrae vra. Op watter plek in haar lewe is die karakter? Hoekom besluit sy juis sy wil by daardie spesifieke kroeg instap? Wat laat haar besluit om vir ’n vreemdeling ’n grappie te vertel? Wat laat haar besluit om te bly en nie te gaan nie?

sy klink soos lente

Corné van Rooyen en Amalia

Dit is uiteindelik ’n absolute fees om die toneel te verfilm. Nie net as gevolg van die inhoud nie, maar ook die keuses wat Corné maak met sy kameraskote en beligting. Die stemming is byna soos ’n ver verwyderde droomwêreld. Ben en Linda ontmoet mekaar toevallig in ’n tipe “oase” weg van hul gewone lewens en dié tegniek word meesterlik aangewend om die kyker subtiel bewus te maak dat daar nou ’n belangrike wending plaasvind.

Ek dink Suid-Afrika kan maar vir Corné dophou. Hierdie man gaan nog diep spore trap in ons bedryf. Wie weet, as hy wil, dalk nog internasionaal.

Lees nou

Cover ‘Sy Klink Soos Lente’ en WEN!

Die 1ste liedjie van Sy Klink Soos Lente is hier!

Sy Klink Soos Lente-lusmaker

Só baie SA flieks!