Stiaan Smith as Ben FOTO Werner Botha van Plastiek

Stiaan Smith as Ben FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Wêreld, ontmoet die hoofsanger van Groenblare, Ben #SKSL

Ontmoet die lede van Groenblare, die band waarin James CuninghamBennie Fourie, Wilson Dunster en Stiaan Smith in Sy Klink Soos Lente speel. Daar is soveel om na uit te sien in Sy Klink Soos Lente, maar nou fokus ons eers op die musiek! 

Ben word gespeel deur Stiaan Smith (jy het hom in Vir Altyd gesien), wat ook die skrywer van die fliek én een van die vervaardigers is! Vir hierdie rol moes hy leer sing en kitaar speel, so ja, nou kan Stiaan Smith alles doen. Oftewel, alles behalwe self met meisies praat …

Watter instrument moes jy leer speel? En het jy enige musikale agtergrond voor hierdie film gehad?

Ek moes kitaar speel in die film. Ek het as kind klassieke kitaar gespeel, my ma het ons gedwing om lesse te neem. En toe later as student het ek maar net so af en toe vir myself getokkel. Ek moes my game ’n bietjie lig om Bouwer se styl te kan baasraak.

Jy sing ook in die fliek. Moes jy gaan vir sanglesse? Enige planne vir ’n CD?

Daar is geen planne vir ’n CD nie, haha! Ja, ek het lesse gekry by Tineke Pienaar (Malie Kelly Vocal Academy). Sy het my baie gehelp om te verstaan wat die hele “sing ding” behels. Ek het nie geweet dis so moeilik om te sing nie!

FOTO Werner Botha van Plastiek

FOTO Werner Botha van Plastiek

Moes jy al voorheen nuwe vaardighede aanleer vir ’n rol?

Ek het ’n paar jaar gelede saam met Tyron Janse van Vuuren ’n kortfilm gedoen wat baie uitdagend was in terme van aksentwerk. Daarvoor moes ek ook oor ’n lang tyd ’n stem-afrigter (vocal coach) gaan sien. Ek moes verlede jaar vir ’n verhoogstuk leer mank loop met ’n kruk.

Beskryf asseblief jou Sy Klink Soos Lente-karakter, Ben.

Ben is ’n alleenloper. Hy trek die T-hemp en jeans aan wat hy eerste in sy kas vind; hy’s ’n praktiese mens. Hy geniet dit om te lees, maar hy is ook lief vir wat hy doen, daarom maak hy in sy vrye tyd motors reg. Of hy sal dinge uitmekaarhaal en weer aanmekaarsit. Hy’t min vriende en verkies om alleen te wees, maar JJ en Ryan wat saam met hom werk, het hulle mettertyd in sy lewe ingeboender.

Jy is ook die skrywer van Sy Klink Soos Lente. Hoe lank het dit vir jou gevat om dit te skryf? Hoe het jy op die storie afgekom?

Die storie het begin as ’n idee: Wat as ’n ou ’n mooi meisie raakloop en om haar te beïndruk jok hy vir haar oor wat hy doen vir ’n lewe? En toe ontwikkel ek dit van daar af. Ek het in 2012 begin werk aan die teks en dit het my so vier jaar gevat om op ’n punt te kom waar ek gelukkig was daarmee.

Is dit vreemd om die dialoog te leer wat jy self geskryf het? En is dit moeilik om jou storie net oor te gee aan akteurs en regisseurs?

Die oorgee-deel is die lekker deel. Want dan kan almal hul eie persoonlikhede en kreatiewe benaderings na die storie bring. Só word dit almal se storie.

Het jy al ooit iets vreemds gedoen of gesê om ’n meisie te beïndruk?

Nee, ek’s te skaam. Ek wag gewoonlik net totdat hulle met my praat en dan hoop ek ek sê iets snaaks …

Noem een eienskap/sêding/kenmerk wat vir jou uitstaan of opgewonde maak oor jou karakter?

Niks val my by nie.

As jou karakter ’n klankbaan gehad het, watter liedjie/liedjies sou in sy lewe speel?

Third Eye Blind se “Semi-Charmed Life”.

Wat is die een ding wat ons nie weet van Sy Klink Soos Lente nie?

Die film se naam was eers “Ek’s in ’n band“.

Wie gaan van hierdie film hou?

As jy die Sy Klink Soos Lente-musiekvideo kyk en dit maak jou opgewonde, gaan jy van die film hou.

Lees nou

Bennie Fourie: ‘Ek het halfte van my tand verloor vir dié rol!’ #SKSL

Ontmoet die band! #SKSL

Sy Klink Soos Lente-lusmaker