amalia uys

FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Wat sê Amalia se kêrel ná haar soen-scene?

Amalia Uys deel haar dagboek en in dié week se inskrywing vertel sy van die stres wat akteurs ervaar voor ’n soentoneel. Ja, hulle is ook op hul senuwees!

Amalia skryf elke week oor haar dae op die stel van die nuwe Afrikaanse fliek Sy Klink Soos Lente. Het jy al ooit gewonder oor die lewe van ’n aktrise? Ons trek vandag by Amalia se twaalfde dagboekinskrywing …

The Bohemian … en dié soen

Om in die kunste te wees is nie altyd maklik nie. Ons beeld die werklikheid uit en dit behels natuurlik die goed en die kwaad, die mooi en die lelik, die lig en die donker.

Vandag is een van daai dae in ’n akteur se lewe dat jy altyd so ’n bietjie van ’n hol kol op jou maag het …

Wat vir ’n kyker van ’n romkom lyk na die mooi, die romantiese en opwindende in die lewe, is dalk agter die skerms ietwat ongemaklik en vreemd. Ek het al baie soentonele in my lewe gedoen en is al gewoond daaraan, maar dis altyd so bietjie stresvol en weird voor die tyd. Ek meen, dis meestal ’n wildvreemdeling met wie jy in ’n baie intieme oomblik moet lyk asof jy totaal en al gemaklik is!

amalia

Dis weer ’n nightshoot en die tyd stap aan. Ben (gespeel deur Stiaan Smith) en sy band se vertonings word opgeneem en daar is hier en daar ’n tegniese probleempie. Dit reën ook kliphard en almal sit soos voëltjies in ’n nessie naby aan mekaar om warm en droog te bly. Groenblare se musiek vermaak ons en ek is so opgewonde oor hierdie aspek van die film – die klankbaan gaan in ’n ander klas wees!

Soos die vroegste wakker geveerdes begin piep en twiet, beweeg ons uiteindelik aan na dáái toneel. Stiaan is uiters professioneel en ons kry die soen in die kan sonder te veel geswoeg en gespoeg! Soos ek huis toe ry, kom die son op en al waaraan ek kan dink, is dat ek hoop ek kan nog my kêrel “in die regte lewe” vang voor hy werk toe gaan …

Ek stap by die voordeur in en daar staan my liefde, reg vir die dag. Ek lyk asof ’n orkaan my getref het met frizzy hare van die reën en ondersoekende oë op hom gerig. Hoe voel hy hieroor? Is dit vir hom ook moeilik?

amalia

Hy gee my ’n vet druk en ’n glimlag en sê met ’n tergende glimlag: “Any man’s worst fear: That your girlfriend doesn’t return home after her kissing scene.” Ons bars uit van die lag vir die absurditeit en ek voel onmiddellik gerusgestel. Hierdie man se kop is so reg aangeskroef en sy voete so plat op die aarde. Hy is my anker en my rots. Vir hom wil ek regte egte soene gee tot in lengte van dae!

Lees nou

Was dit liefde? Amalia: “Dinge het net nie uitgewerk soos dit moes nie”

Hoe maak Leandie & Amalia reg vir vanaand?

Lente klink … Bouwer, Amalia, Bennie, Corné vertel