sy klink soos lente

Wilson Dunster. FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Wilson Dunster: “Ek is ook ’n loner” #SKSL

Ontmoet die lede van Groenblare, die band waarin James Cuningham, Bennie Fourie, Wilson Dunster en Stiaan Smith in Sy Klink Soos Lente speel. Daar is soveel om na uit te sien in Sy Klink Soos Lente, maar nou fokus ons eers op die musiek! 

Wilson Dunster is geen nuweling in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie, maar het jy hom al sien kitaar speel? In Sy Klink Soos Lente speel hy oom Fanie, die karakter wat vir Ben (Stiaan Smith) en sy vriende help om die band Groenblare te stig. Hy is die kenner, speel kitaar en meer en as hy ’n klankbaan gehad het, sê Wilson, sou die oom se liedjie “Nothing else Matters” van Metallica wees.

Watter instrument moes jy leer speel? En het jy enige musikale agtergrond voor hierdie film gehad?

Kitaar. My ouma het in die kerkkoor gesing, my ma was ’n goeie klassieke pianis, my oom het vir my ’n ukelele gegee wat ek nooit bemeester het nie. Ek is gevra om die klavierlesse asseblief te verlaat!

Moes jy al voorheen nuwe vaardighede aanleer vir ’n rol?

Ja, ek was nog altyd lief vir perde en het al baie rolle gespeel waar ek moes perdry. As ek dit vandag moet doen, sal hulle my moet ophelp!

sy klink soos lente

Wilson Dunster. FOTO Werner Botha van Plastiek

Hoe was dit om op stel omring te wees met soveel jong akteurs (en wat nog nie so lank in die bedryf is nie)? Wat het jy by hulle geleer?

As jong akteur was daar van my verwag om van die ouer akteurs te leer, nie andersom nie!

Ek het al ’n enorme hoeveelheid werk met jong akteurs gedoen en ek het nog altyd van hulle geleer. Gewoonlik lyk hulle so rustig en kalm, maar hulle doen hul werk wanneer dit verwag word. Hulle is ook baie kundig en dra baie kennis van die bedryf in die algemeen.

In die laaste jaar het ek met jong regisseurs gewerk soos Jaco Smit (Vir Altyd), Jozua Malherbe (Bloedbroers) en nou Corné van Rooyen (Sy Klink Soos Lente) en hulle was uitsonderlik! Hulle weet hoe om met ’n akteur te praat – hulle bou jou op en breek jou nooit af nie. Daar moet vertroue tussen die akteur en die regisseur wees. Daar is egter ’n denkskool wat glo dat die regisseur die akteur so moet afbreek dat hy putty in die regisseur se hande word. Daai, in my opinie, is suiwer en totale gemors.

Ook die jong DOP’s (“director of photography”) is fantasties! Jacques Koudstaal en Adam Bentel se insette is vreeslik waardevol vir die kreatiewe proses.

Is daar iets van jou Sy Klink Soos Lente-karakter wat ooreenstem met jou eie persoonlikheid?

Ek is ook ‘n loner.

Noem een sêding wat vir jou uitstaan of opgewonde maak oor jou karakter?

Oom Fanie sê in ’n stadium vir Ben: ” ‘n Vrou laat jou amazing dinge doen”. Ek stem saam.

As jou karakter ’n klankbaan gehad het, watter liedjie sou in sy lewe speel?

“Nothing else Matters” van Metallica.

Enige plek wat vir jou uitgestaan het tydens die verfilming?

Die tonele wat ons in die aand by The Bohemian gedoen het, staan vir my uit. Die kroeg was steeds oop vir kliënte, so dit was nogal ’n eye-opener om die mense te sien wat gereeld daar is en hul stories te hoor. Dis ’n onbekende wêreld vir my.

Kyk Sy Klink Soos Lente se lokprent hier:

Lees nou

Die 1ste liedjie van Sy Klink Soos Lente is hier!

Bennie Fourie: ‘Ek het halfte van my tand verloor vir dié rol!’ #SKSL

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent