FOTO: Instagram @taylorswift

FOTO: Instagram @taylorswift

Bekendes

Taylor Swift: die super-superster van langsaan

Die sangeres Taylor Swift is die ‘meisie van langsaan’ maar ook een van die grootste popsterre van ons tyd. ’n Instagram-meester en kat-verslaafde wat terselfdertyd nie skroom om die magtige Apple aan te vat nie . . . Danie Marais probeer die misterie van dié fenomeen ontrafel.

Die treffendste illustrasie van Taylor Swift se fenomenale gewildheid lê waarskynlik in ’n doolhof gesny uit ’n koringland op Summer’s Farm in die Amerikaanse staat Maryland. Want sien (en hierdie nuwe toeriste-trekpleister kan jy net vanuit die lug behoorlik sien) – dié doolhof is in die vorm van haar kop en skouers agter ’n mikrofoon met die woorde
“TAYLOR SWIFT – DARE TO BE DIFFERENT”, wat reg bo die enorme koringsneewerk van haar profiel pryk.

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

Met die histeriese vlakke van Taylormanie die wêreld oor is dit nie verbasend dat die tuiste van die Marylandpampoenfees besluit het om haar beeld as bemarking vir ’n familie-uitstappie in te span nie. In hierdie koring-huldeblyk kry jy egter nie net ’n glimp van die omvang van die 25-jarige sangeres se sukses nie. (Sien kassie op bl. 36.) Die woorde “Dare to be different”, wat gekoppel word aan sowel haar roem as haar andersheid én gesinsvriendelike status, dui aan hoekom sy een van die interessantste raaisels van die 21ste-eeuse popkultuur is.

Wat maak Taylor so anders in ’n bedryf waar ons al gewoond is aan die uitspattigste, skandaligste en eksentriekste pogings tot anders wees denkbaar?

Wanneer jy haar met ander pop-supersterre begin vergelyk, raak dit duidelik: Sy skep nie die indruk dat sy hard probeer om aandag te trek, relevant te bly of te skok nie – en tog volg die kollig haar soos ’n skoothondjie, ongeag wat sy doen. En wat sy doen, is meestal doodgewoon.

Om gedurig soos Taylor foto’s van jou katte op Instagram te plaas, is byvoorbeeld ten minste net so algemeen op dié gewilde sosialemedia-platform soos selfies, foto’s van jou kinders, cappuccino of aandete.Die Swifties, soos haar fanatiese aanhangers bekend staan, kry egter nie genoeg van enigiets Taylor nie. Sy het meer as 59 miljoen volgelinge, dit wil sê die grootste Instagram-gevolg in die wêreld sedert sy in 2015 die ekshibisionistiese werklikheids-TV-beroemdheid Kim Kardashian onttroon het. Toe Kim se omstrede man, die rapper Kanye West, in September verlede jaar vir Swift blomme gestuur het, het haar Instagram-foto van die ruiker om en by 2,6 miljoen hartjies en meer as 47 000 kommentare gekry. En ja, jy’s reg: Dis dieselfde Kanye West wat in 2009 op die verhoog gestorm het terwyl Swift besig was om ’n MTV-videotoekenning vir “You Belong with Me” in ontvangs te neem. West het genoop gevoel om die mikrofoon te gryp en te verkondig “Singles Ladies” van Beyoncé (die Instagram-koningin net vóór Kardashian) het eintlik dié prys verdien.

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

Swift het in ’n onlangse onderhoud met een van Amerika se voorste musiekskrywers en kulturele kommentators, Chuck Klosterman, te kenne gegee dié destydse insident het haar lelik gevang. Sy het aanvanklik gedink die uitjouery by die 2009 MTV-toekennings was teen haar gemik; dat die skare soos West gevoel het sy verdien nie die toekenning nie. Sy was in trane agter die skerms, maar moes vyf minute later “You Belong with Me” sing voor ’n stampvol Radio City Music Hall in New York en ’n geskatte 9 miljoen TV-kykers wêreldwyd.

Dis met potensiële fiasko’s soos dié waar Taylor gewys het haar ster is nie van foelie en karton gemaak nie.Sy het nie net waardig op West se onbeskoftheid gereageer nie, maar het ook daardie aand haar optrede met grasie en styl deurgevoer en tel deesdae West onder een van haar vele, wyd uiteenlopende beroemde ondersteuners.

Sy hoef nie in haar evasgewaad op ’n groot betonbal te swaai soos haar tydgenoot Miley “Smiley Virus” Cyrus om haar verlore onskuld te demonstreer nie. Sy sal waarskynlik nooit soos Lady Gaga in ’n rok van rou tjoppies by ’n glansgeleentheid opdaag nie, en dit lyk nie of sy soos Gaga of die oorspronklike skandaal-popdiva, Madonna, dit gaan nodig vind om Christelike simboliek met erotiese tonele te kombineer in musiekvideo’s wat die sedebewakers die harnas in jaag nie. Die kanse dat sy al haar hare gaan afskeer soos Britney Spears toe laasgenoemde die draaiboek heeltemal verloor het, lyk bitter skraal. Ook die veel minder uitdagende, meestal speels-stuitige Katy Perry wat haar borste al by geleentheid met versiersuikerspuite of kolwyntjies opgedollie het en in haar “I Kissed a Girl” verklap het dat sy dit geniet het om ’n meisie te soen, laat Taylor na ’n hoofmeisie lyk. Perry se versigtige waaghalsigheid het gewoonlik niks meer as ’n ouderdomsperk van 13 nie, maar Swift se werk is heel gemaklik op enige PG familiekanaal.

En dit is sekerlik Katy Perry wat tans haar naaste kompetisie is. Dit word algemeen aanvaar Taylor se vierde nommereen-treffer, “Bad Blood”, van haar grootste trefferalbum tot nog toe – 1989 (2014) – is geïnspireer deur die vete tussen haar en Perry. Dié swartkop-troonaanspraakmaker het glo ’n beduidende hoeveelheid van die blonde kroonprinses se dansers en agtergrondsangers onder haar uitgesteel net voor ’n groot konserttoer.

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

Maar wat hierdie ou poptoeskouer van oor die 40 betref, kan Katy maar gerus solank haar nederlaag aanvaar. As Taylor dit kon regkry om binne ’n paar jaar van outentieke country ster in ’n popgodin te verander, is sy eenvoudig ’n ster in ’n klas van haar eie. Dolly Parton het wel in die 70’s gewys hoe jy vanuit Nashville die pophoofstroom kan binneval en verower, maar Parton het altyd in wese ’n country-ster gebly. En om te dink Madonna of Lady Gaga sal daarin slaag om ’n rits country-treffers te produseer lyk absurd.

Swift het egter van Nashville na New York gewissel soos ’n professionele model wat ’n effe outydse nommerpasblomrok van een ontwerper elegant uittrek om die sexy bikini van ’n ander ontwerper daaronder te onthul. En sou Perry die magtige Apple in ’n ope brief die stryd aansê om beswaar te maak oor die laakbare behandeling van kunstenaars op hul nuwe musiekstroomdiens, soos Swift in Junie verlede jaar gedoen het? Ek twyfel.

Maar dalk is die beduidendste verskil tussen Swift en haar pop-eweknieë dat sy self al haar liedjies skryf en nie op ’n gehuurde treffer-produksiespan staatmaak nie. Die werk uit haar pen word ook nie net deur hormoongeteisterde tieners besing nie, maar deur verskeie meer ernstige popkritici.

Een van 2015 se verrassendste en hoogs aangeskrewe albums is immers 1989 deur Ryan Adams. Hiermee het Adams, ’n liefling van alternatiewemusiek-aanhangers, ’n vindingryke, oorwegend akoestiese weergawe van Swift se hele 1989-album uitgereik – ’n huldeblyk wat ook haar goedkeuring wegdra.

Adams het aan die Amerikaanse musiektydskrif Rolling Stone gesê hy is sedert haar 2008-countrytreffer “White Horse” ’n bewonderaar van Taylor as liedjieskrywer. Haar 1989 het hom egter so beïndruk dat hy besluit het om die hele album te herverbeel in die styl van Bruce Springsteen se onopgesmukte folk-rock-meesterstuk Nebraska (1982). Die effek is verbluffend – jy hoor byvoorbeeld haar monstertreffer “Shake It Off ” as ’n intieme, bittersoet ballade wat familie van Springsteen se “I’m On Fire” kon gewees het.

Adams illustreer met sy vindingryke heropname twee dinge. Eerstens dat die legendariese musiekregisseur Rick Rubin reg is: ’n Liedjie wat jou in sy gestroopte, akoestiese weergawe oorweldig, sal ’n treffer in enige musiekstyl wees. En tweedens dat Swift ’n top liedjieskrywer is wat lirieke met groot emosionele intelligensie skryf.

Maar Taylor Swift het ook iets anders met The Boss gemeen. Springsteen is ’n superster wat steeds die “gewone ou” in Amerika verteenwoordig. Sy kry dit op een of ander soortgelyk onverklaarbare wyse reg om die meisie van langsaan te wees wat toevallig een van die grootste sterre van ons tyd geword het. Sy skryf liedjies oor wat doodgewone mense voel en haar hart breek klaarblyklik nes enige tienermeisie s’n wanneer een of ander beroemdheid haar teleurstel. En dan tree sy nog in die kollig op soos iemand wat daagliks die wonderlike kans kry om Taylor Swift te speel en eenvoudig haar geluk nie kan glo nie. Soveel so dat Buzzfeed.com onlangs 44 foto’s van haar “surprised face” ten toon gestel het, want Taylor lyk inderdaad gereeld soos ’n bakvissie wat haarself moet koud waai wanneer sy weer eens goeie nuus kry.

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

G’n wonder die algemeenste kritiek teen Swift is dat sy berekend is nie. In haar onderhoud met Klosterman het sy verklaar hoe sy die woord “calculating” verpes en sy vraag daaroor slim beantwoord: “Skiet ek uit die heup uit? Sou dit wat met my gebeur het, gebeur het as dit só was? Mense wat my berekend noem, neem iets positiefs – die feit dat ek oor goed nadink en omgee vir my werk – en maak daarvan ’n beledigende insinuasie oor my private lewe. Jy kan toevallig suksesvol wees vir drie of vier jaar. Ongelukke gebeur, maar loopbane vereis harde werk.”

Wat leer jy dan uit die meteoriese loopbaan van Swift? Sy herinner ons charisma en talent is so geheimsinnig soos skoonheid of die effek van ’n volmaan op die gemoed. En dat die slaafse navolging van enige formule nooit tot werklik skouspelagtige sukses lei nie.

“In ’n era soos ons s’n, waar almal op hul hande loop om raakgesien te word, sal ’n individu wat op sy twee eie voete staan, beskou word as ’n akrobaat,” het die Skotse skrywer Gilbert Adair geskryf. Sy woorde geld by uitstek vir Taylor Swift. Wat haar loopbaan tot dusver wys, is nie net die waarde van twee voete stewig op die aarde nie, maar ook van ’n goeie kop op ’n paar slanke skouers.

Toe my sewejarige Swift-verslaafde dogtertjie my dus onlangs ernstig vra: “Wat dink jy van Taylor Swift, Pappa?” het ek sonder huiwering geantwoord: “Ek dink sy’s goed, baie goed.” En toe kyk Lea vir my met ’n verbaasde gesig wat sê: Daar is blykbaar iets aan my pa of iets aan Taylor Swift wat ek nog nie heeltemal verstaan nie.

Taylor Swift: die oortreffer

  • Taylor Swift het ’n Wikipediabladsy so lank soos die titels aan die einde van ’n James Bondrolprent, net om boek te hou van al haar musiektoekennings en rekordprestasies.
  • Sy het al wêreldwyd 238 toekennings en 533 nominasies ontvang sedert haar debuutalbum, Taylor Swift, in 2006 verskyn het. Onder
    hierdie magdom toekennings tel 7 Grammys, 19 American Music Awards, 22 Billboard Music Awards en 11 Country Music Association Awards.
  • Sy is ook opgeneem in die Songwriters Hall of Fame en spog met vyf rekords in die Guinness World Records-boek – sy is onder meer die eerste kunstenaar in Amerika wat dit kon regkry om van elkeen van drie opeenvolgende albums ’n miljoen eksemplare in ’n enkele week te verkoop.

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

Lees nou: