Bekendes

Van Coke Kartel rock MK Awards

Die groep Van Coke Kartel het met drie van die agt toekennings weggestap by dié geleentheid in die Suid-Afrikaanse Staatsteater in Pretoria. Hulle is vir vier toekennings benoem – beste video, beste groep, beste lewende optrede en beste rock.

“Ons is al die laaste twee jaar betrokke by die MK Awards, so ons is rustig. Ons weet mos al hoe dit werk en ons hoop maar net die aand is ’n sukses,” het Francois van Coke, hoofsanger van Van Coke Kartel én Fokofpolisiekar, vooraf gesê.

“Ons hoop ons gaan wen,” het Jason Oosthuizen, Van Coke Kartel se tromspeler, bygevoeg. Toe wen hulle sommer beste video, groep én rock!

Bekendes op die swart tapyt was onder meer Willem Botha, Charné Marwick en die Chaplin-tweeling van Locnville. Jack Parow – hy is saam met Francois van Coke benoem vir die beste rock met hul liedjie, “Hard partytjie hou” – was saam met sy meisie, Jenna Pietersen. Tamara Dey van Flash Republic het baie aandag op die swart tapyt getrek toe sy met twee bollas en ’n interessante swart rok en mantel by die geleentheid opdaag.

Dié jaar se toekennings het ook vir MK-kykers die geleentheid gegee om vir hul eie Superband te stem – hulle kon vir verskillende groeplede stem om ’n splinternuwe groep te skep. Elk van dié groeplede het dan ’n individuele MK-toekenning gewen. Die Superband 2013 was Francois van Coke (Van Coke Kartel), Wynand Myburgh (Van Coke Kartel), Jed Kossew (Van Coke Kartel), Jason Oosthuizen (Van Coke Kartel) en Alex Parker (ISO).

Jaco van der Merwe (van Bittereinder), Bouwer Bosch, ISO, Van Coke Kartel, Tailor en The Black Cat Bones was onder die kunstenaars wie se optredes die verhoog vermaak het.

Die wenners was:

Beste Video 

Van Coke Kartel vir “Tot die son uitkom”

Beste Groep

Van Coke Kartel vir “Dis ’n land”

Beste Nuweling

Gangs of Ballet vir “Hello Sweet World”

Beste Rock

Van Coke Kartel vir “Dis ’n land”

Beste SFX/Animasie:

Haezer ft. Lark vir “Brave”

Beste Indie

Short Straw vir “One Long Day”

Beste Solo Kunstenaar

Jeremy Loops vir “Mission to the Sun – Howling”

Beste Live Act

The Black Cat Bones

Beste SA Musiekfees

Oppikoppi 2012