FOTO: Facebook,  Palais Princier de Monaco

FOTO: Facebook, Palais Princier de Monaco

Bekendes

VIDEO: Swanger prinses Charlene se man, prins Albert II, se #ALSIceBucketChallenge

As jy gedink het die #ALSIceBucketChallenge is net ’n gier onder Jan en alleman, dan moet jy weer dink … Selfs die koninklikes aanvaar dié uitdaging. 

Prins Albert II van Monaco het ook dié uitdaging aanvaar. In die video hieronder sê hy dat hy geëerd voel om deel van die projek te wees en geld aan dié verdienstelike saak te skenk.

Die prins het ook 3 ander bekendes benoem om dié uitdaging te aanvaar: Frankryk se president François Hollande, kroonprins Haakon van Noorweë en die sakemagnaat en filantroop Philip Knight.

Charlene is swanger met haar en Albert se eersteling.  FOTO: Facebook,  Palais Princier de Monaco

Charlene is swanger met haar en Albert se eersteling.
FOTO: Facebook, Palais Princier de Monaco

Die #ALS Ice Bucket-uitdaging behels dat ’n video van jou geneem word terwyl jy of iemand anders ’n emmer yswater oor jou kop gooi.

Die veldtog wil bewustheid skep vir amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ook bekend as motorneuronsiekte (MNS). En byna al wat ’n bekende is, neem deel hieraan – van Mark Zuckerberg, Bill Gates, Lady Gaga en Ben Affleck tot SA se Katlego Maboe (wie se suster aan MNS ly) en Joost van der Westhuizen, wat self aan MNS ly.

Ander koninklikes

Koning Philippe van België gaan ook glo aan hierdie liefdadigheidsveldtog deelneem, berig Hello!.

Dié koningshuis het ’n foto van ’n leë emmer getwiet met ’n lys benoemings, wat impliseer dat die koning die uitdaging aanvaar het nadat hy deur ’n radio-omroeper benoem is.

Prins Harry het al minstens 3 benoemings gekry: van die sangeres Ellie Goulding, aktrise Lindsay Lohan en sjef Jamie Oliver.

Sy ouma koning Elizabeth het al minstens twee benoemings van die Gossip Girl-akteur Ed Westwick en die Australiese sportman Brad Ebert. Brad se ouma ly ook aan MNS.

Maar daar is nog geen bewyse dat die Britse koninklikes die uitdaging aanvaar het nie.

Wat dink jy? Moet prins Harry die uitdaging aanvaar? Lewer kommentaar hier onder of op SARIE se Facebook- of Twitter-blad.

Bronne: Palais Princier de Monaco en Hello!