Vir Altyd

FOTO’S: Donnalee se Vesselina Pentcheva-trourok in “Vir Altyd”

Die lang wag is amper verby! More begin Vir Altyd-film landwyd in teaters draai. In Vir Altyd dra Donnalee Roberts ’n Vesselina Pentcheva-trourok. Lees meer oor die ontwerper en haar pragtige skepping. 

Sy klee van ons bekendste sterre en bruide tot gewone vroue op hul groot dae. Ontwerper Vesselina Pentcheva word deur enigiets van die opera tot die woud geïnspireer.

Vesselina is ook die kreatiewe brein agter die trourok wat Donnalee Roberts in die nuwe Afrikaanse fliek Vir Altyd (in teaters 12 Februarie) dra.

Blaai deur dié galery om dié mooi rok van nader te bekyk

Vesselina is oorspronklik van Bulgarye, maar is nou ’n bekende SA ontwerper. Sy het in ons Desember 2015-uitgawe vir SARIE-joernalis Marguerite van Wyk vertel hoe sy in SA beland het.

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

“In 1992 het my ma, Boryana, ewe dapper beter weivelde in Afrika kom soek. Sy het na Harare in Zimbabwe gevlieg en die bus na Johannesburg geneem. Nadat sy ’n jaar lank in ’n kitskos-winkel vis verkoop het in Johannesburg se middestad, het ek op twintig by haar aangesluit. Ons hoofdoel was om Engels te leer praat.

Ek het grootgeword in die 1 200 jaar oue akademiese stad Ruse, bekend as klein Wene, in Bulgarye, en is in my kinderdae baie blootgestel aan die opera en teater. Die drama en skouspel daarvan het my gefassineer en ek het toe al geweet ek wou eendag klere maak. Ná sowat ’n jaar in Suid-Afrika het ek in my mooiste Engels ’n kans gewaag en vir Spero Villiotti, een van dié modekenners wat destyds ’n winkel in Sandton gehad het en wie se opinie ek gerespekteer het, gevra waar ek mode-ontwerp kon studeer.

Nadat ek in 1996 my tweejaar-kwalifikasie verwerf het aan die destydse Gordon Flack-Davison Academy in Johannesburg, het Marianne Fassler my ’n internskap aangebied. Min het ek tóé besef wie sy was …”

Vesselina se 4 trourok-tendense vir dié trouseisoen

1) Rokke is dikwels nie wit nie, maar in skakerings van sjampanje, oester of bloospienk.

2) Vintage- en boheemse style is ook “in”. Al hoe minder bruide trou binnenshuis. Die woud, strand of selfs ’n stal word ingespan. Rokke is dus nie meer so tradisioneel nie, maar is deel van die hele ervaring.

3) Kant en net is groot – dit sorg vir ’n sagte, vroulike, vloeiende voorkoms.

4) Die sogenaamde illusie-neklyn is ook gewild. Dit lyk van ver af asof die nek kaal is, maar van naderby is dit bedek met fyn net of kant, soms geborduur met fyn kraletjies.


Ons fout! Ons het die verkeerde onderskrif by dié foto in ons Februarie-uitgawe gepubliseer. Dié rok is Vesselina Pentcheva se skepping en nie Kobus Rautenbach nie.

KORREKTE ONDERSKRIF: Donnalee en Ivan in 'n toneel uit Vir Altyd. Die trourok is deur Vesselina Pentcheva

KORREKTE ONDERSKRIF:
Donnalee en Ivan in ‘n toneel uit Vir Altyd. Die trourok is deur Vesselina Pentcheva
FOTO: Marijke Willems

In ons Februarie-uitgawe

Donnalee Roberts Februarie Feb 2016

Ons Februarie-uitgawe met Donnalee is nou te koop! Ons het saam met haar en Ivan op Mauritius gekuier. Sien die eksklusiewe foto’s slegs in ons tydskrif! Die Februarie-uitgawe is tot Sondag te koop.

 

FOTO: Marijke Willems

Laatmiddag op die swart vulkaniese rotse van Mauritius. Die rok deur Vesselina Pentcheva is spesiaal vir Vir Altyd ontwerp
FOTO: Marijke Willems