FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Vir Altyd

Vir Altyd se storieverteller, Jaco Smit

Rolprente het sy ‘lewe gered’ ná ’n ernstige motorongeluk. Jaco Smit, regisseur van Vir Altyd, vertel meer oor sy reis.

Hoe het die verfilming verloop?

Die storie het my geraak, want ek is op ’n plek in my lewe waar ek daarmee kan identifiseer. Die fliek vra: Wat presies behels dit om die één te vind? Dit was ’n baie ambisieuse projek, want ons het deels op Mauritius geskiet. Dit was warm en moeilik en daar was min produksiemense op stel. Maar dit was ’n voorreg om weer saam met Ivan Botha en Donnalee Roberts te werk, asook akteurs soos Elize Cawood en vervaardiger Danie Bester. Ons het ook in die Paarl geskiet, waar ek grootgeword het. My ou straat waarin ek as kind gewoon het, is daarin, en my herinneringe. Ek het emosioneel daarin belê en ek’s trots daarop.

Jy’t jou rug gebreek op skool, en dit het jou glo laat besluit om ’n regisseur te word.

Ek sê gereeld films het my lewe gered. Ek was in ’n ernstige motorfietsongeluk in gr. 10 en was vir ’n jaar en ’n half op my rug. Flieks het my geselskap geword. Dit het my hoop gegee, ’n manier om my werklikheid te verwerk. Ek het probeer om weer skool toe te gaan in gr. 11, my hele lyf byna in gips, maar ek het gesukkel en is toe na Abbotts College in Kaapstad. Ek was baie agter en kon daar meer vakke op ’n slag doen. In my matriekjaar, twee weke voordat ek in Bloemfontein argitektuur sou gaan studeer, hoor ek toe van die AFDA- filmskool en het daar en dan besluit ek wil soontoe. Daardie paar jaar was ’n harde les, maar ek glo nou dit het alles om ’n rede gebeur.

Jy, Ivan en Donnalee het weer saamgespan met Vir Altyd. Hoe kom julle oor die weg?

Hulle is die hardwerkendste mense wat ek al teëgekom het, en boonop talentvol en inspirerend. Op stel werk ons goed saam. Hulle lewer insette wanneer ek regie doen, en ek gee insette met die teks, maar ons respekteer mekaar te veel om vas te sit en laat mekaar dus toe om elkeen sy ding te doen.

Sal jy ooit voor die kamera wil wees?

Dis nie nou ’n doelwit nie, maar ek het baie respek vir mense wat albei kan doen. Die klein plaaslike bedryf vereis ook dat almal diversifiseer en meer as een vaardigheid aanleer. Wie weet? Ek sê nooit “nooit” nie.

vir altyd poster

In net drie dae het die romantiese avontuurfilm Vir Altyd meer as R4,7 miljoen gemaak. En dis ook al in die eerste naweek deur 89 731 mense gekyk. Dit plaas Vir Altyd amptelik in die voorste posisie vir beste verdienste vir ’n Afrikaanse fliek tydens sy eerste naweek.

SARIE is ’n trotse mediavennoot.

As jy nog nie Vir Altyd gekyk het, maak ’n punt om dit dié naweek te kyk.

Donnalee Roberts en Ivan Botha het onlangs by die Silverstar Casino foto’s saam met aanhangers geneem.

FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Lees nou