FOTO SARIE

FOTO SARIE

Bekendes

Wat eet bekendes: Margit se sappige bobotie

Aktrise Margit Meyer-Rödenbeck, alombekend as Dowwe Dolla en mede-eienaar van Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, vertel:

“Toe ek as nagraadse Matie-student in ’n woonstel ingetrek het, het ek die eerste keer toe ek my ma, pa, suster en swaer genooi het vir ete, besef ek moet self kos maak. Toe besluit ek op bobotie, wat ek obviously toe nog nooit gemaak het nie. (Ek is steeds lief daarvoor om iets nuuts te probeer as ek mense vir ete nooi, maar nou nog is bobotie my staatmaker as ek nie tyd het nie.) In daardie beknopte ou flatjie het ek toe ’n lekker bak bobotie aanmekaargeslaan. Almal moes op hul skoot eet, maar die samesyn is mos die lekker ding.’’

FOTO: Robert Hamblin

Margit en haar dogter, Luca  FOTO Robert Hamblin

 

Só maak jy:

• Stel oond op 180 °C (wanneer jy begin kosmaak).

• Kap een ui op, braai in botter, sowat 3 tot 4 minute lank.

• Gooi kerrie en borrie (skat self – as jy hou van sterk kerrie, méér) by en laat braai alles ’n paar minute saam.

• Gooi sowat 3 eetlepels suurlemoensap by sowat 1 kg maalvleis. Braai saam met uie tot gaar (maar nou nie doodgaar nie).

• Gooi vleismengsel in oondvaste bak. Voeg by: 2 eetlepels appelkooskonfyt, 1 gerasperde groen appel, 1 fyngedrukte piesang, sowat 2 hande vol pitlose rosyntjies (al die vrugte maak dit baie geurig), 2 snye brood wat in melk gedoop is (fyngedruk), asook sowat 100 ml witwyn (droog of semisoet)

• Meng alles en maak hobbeltjie in middel van bak met vleismengsel. Klits 2 eiers, voeg melk by en meng, gooi bo-oor vleismengsel en sit in oond.

• Bak totdat eiermengsel gestol het – gewoonlik ná ’n halfuur.

• Sit voor met rys en, ’n bak mengelslaai en ’n knoffelbroodjie – veral noudat dit winter is. Lekker herinneringskos. O, ja en ’n bottel heerlike rooiwyn.

Hou Margit dop
8 en 9 Augustus: Dowwe Dolla se nuutste vertoning, #dowwedolla, by die Kalfiefees op Onrus. Kom ontmoet Ouma Dowe Dolla … vir die eerste keer in dié vertoning.
12 Augustus tot 3 September: Vlooi en die Sneeuman by Kunstekaap

www.dowwedolla.co.za; En natuurlik ’n verskeidenheid produksies by Die Boer.  www.dieboer.com