SARIE-joernalis kuier in Ierland

Junie 1ste, 2009 deur Suzette Truter

‘n Klompie bloedrooi verbrande Suid-Afrikaners is nie juis iets om oor huis toe skryf nie, maar as jy dit in Ierland opgedoen het, verdien dit hoofopskrifte.

Hier in Ierland is die sonskyn al waaroor die mense die afgelope paar dae praat - dit en die rugby natuurlik.

En ons groepie joernaliste - gepantser teen die tipiese triestige klimaat - met reënjasse, serpe, waterdigte skoene, truie en ‘n spesiale windjekker met die komplimente van die bemarkingsorganisasie Tourism Ireland, is totaal onkant betrap. Sonder sonskerm. Maar darem op ‘n baie avontuurlike manier - aan boord van ‘n boot aan die weskus van Ierland, waar ons die seiljagte kon bekyk wat deel is van die Volvo Ocean Race wat by die kusdorpie Galway kom aandoen het.

En wat ‘n feestelike affêre om die seiljagte welkom te heet - markiestente, kosstalletjies, musikante, oumas en oupas en ma’s en pa’s en kinders in stootwaentjies . . . ek het gevoel ek is terug in SA. Al wat gekort het, was die boereworsrolle.

In ons vyf dae hier in Ierland het ons al vele beleef - van die een uiterste tot die ander: van besoeke aan antieke katedrale tot die hip Temple Bar-distrik in Dublin. Van ondergrondse grotte tot golwende groen heuwels en mere en digte woude waar daar vele feetjies en kabouters bly. (Ek het die yskasmagnete om dit te bewys.)

Van besoeke aan die Strokestown-museum, wat baie roerend uitbeeld hoe duisende weens die hongersnood gesterf het, tot indrukwekkende kastele en luukse landgoedere wat jou asem wegslaan.

Van tipiese Ierse danse en musiek in die ”hoogste pub in Ierland”, waar die banjospeler ons met ‘n ”baie dankie” verras het, tot ‘n konsert van die Hothouse Flowers waar my jolige Ierse buur-omie, Guiness in die hand, my verseker het dis als ”craic” - dit beteken pret, as ek dit reg verstaan.

Sonder om soos ‘n persverklaring te klink, Ierland is regtig “craic”. Die mense is ongelooflik vriendelik en lief vir gesels, die kos is fantasties (ek het nog nooit in my lewe soveel aartappels in soveel verskillende gedaantes geëet nie), dit is inderdaad sekerlik die groenste plek in die wêreld en daar is nog soveel lae om te ontdek - die mites, die legendes, die geskiedenis.

** As julle meer wil lees, klik op www.discoverireland.com.

Nuus uit Sol se kroeg

Mei 29de, 2009 deur Marguerite van Wyk

Kort rokkies, baie lang bene (heelwat sonder kouse, al is dit winter in die Kaap!), hoë hakke, baie parfuum, mooi mense, min kos, en heelwat Grolsch-bier.

Nobu Bar in Sol Kerzner se One&Only in die Kaapse Waterfront was raserig en lewendig.

Al die mooi mense en goedgevormde kuite om my het my laat dink aan ‘n Japannese kulturele aand jare gelede by die Palace by Sun City, wat ek saam met ‘n joernalis-vriendin, Martjie Roos wat nou by Rapport werk, bygewoon het. Ons het gestaan langs ‘n vroueskakelbeampte met besonder mooi kuite en ‘n Japannese sakeman het na haar bene gestaar.

“Vellie nice, vellie nice, to be continued,” het hy droogweg gesê toe sy wegstap. Ek kan my voorstel wat hy gisteraand sou sê . . .

Lydia van der Merwe, spesialis-redakteur van SARIE, en ek was gisteraand gelukkig om te beland by Tammy-Anne Fortuin, aanbieder van Roer op kykNET, Paul Venter, besturende direkteur van Home Brew Productions, en Werner Kotzé, landskapargitek van Kaapstad. Hulle was haar dates.

Lydia van der Merwe en Marguerite van Wyk (albei van SARIE)

Lydia van der Merwe en Marguerite van Wyk (albei van SARIE)

Tammy-Anne was elegant in haar swart blinkertjie-mini, sykouse en hoëhakskoene, swart jas en eksotiese grimering. Maar daar is nie ‘n tikkie aansit aan haar nie. In ‘n stadium sê sy so ewe. “Waar’s die kos? Kom ons gaan vir ‘n wandeling en soek iets om te eet.’”

Paul, een van die vervaardigers van die nuwe vlagskip-TV-reeks (vermaak, geen skinder, net mooi glam-stories, verseker Paul my!) van M-Net, All Access, wat Donderdagaande van 19:30 tot 20:30 uitgesaai word, sê Tammy-Anne, een van die veldaanbieders, doen dit “wonderlik”. Dié reeks eindig in September.

Werner Kotze, Tammy-Anne Fortuin en Paul Venter

Werner Kotzé, Tammy-Anne Fortuin en Paul Venter

Tammy-Anne self borrel oor van geesdrif oor dié projek. “Dis ‘n samevatting van die vermaaklikheidswêreld. Niks sleaze nie. Ek het Suid-Afrika platgereis daarvoor. Dit was so lekker gewees om te help konseptualiseer aan die program.’’

Terwyl hy ‘n slukkie Grolsch neem en vertel hy hou nogal daarvan, al is hy nie ‘n bierdrinker nie, laat Paul nog ‘n lekker aap uit die mou. Van die eerste gaste op die bekendstelling van All Access is . . . As jy die televisieprogram Brothers and Sisters gekyk het, dan sal jy Justin Walker (Dave Annable) en Scotty Wendell (Luke Macfarlane) ken. En Annable en Macfarlane is sowaar op die bekendstellingsepisode!

Toe die geraas en die mense te erg raak in Nobu Bar, wyk ek en Lydia na die rustiger sitkamer en bestel elkeen koffie. En wie sal daar sit, diep in gesprek? Mnr. Sol Kerzner, in ‘n ligblou hemp. Ons het vroeër die aand gehoor hy sou later by Nobu gaan eet, maar het hom nie gesien nie en het toe gewonder wat het van hom geword. Daar sit hy toe al die tyd!

Hou SARIE gerus dop om ‘n dieper kyk in die Sonkoning se siel te kry, want in die einste Nobu het ek ‘n maand gelede oor ‘n glas water met hom gesels…

Bargain-blog: warm vertrekke, winterkos en boeke

Mei 28ste, 2009 deur Lou-Ann Stone

Boeke, CD’s en skootrekenaars teen afslag op Kalahari.net.

40% afslag op ALLE musiek!
20% afslag op sowat 1,5 miljoen boeke
Kurt, Theuns en Bok - 3 Topverkoper Afrikaanse CD’s is nou teen onder R100 elk beskikbaar - klik hier.

i-love-shopping-162x180Die groot winkelkompleks Northgate Island in Kaapstad het tans ‘n massiewe uitverkoping. Van die Pro Shop (die enigste uitverkoping wat ‘n man se hart vinniger laat klop), Tile Africa (25% af op sekere teëls, krane en badkamer-toebehore) tot ingevoerde Indonesiese meubels by Indofurn.

Terloops, ek sien Builders Warehouse (landwyd) is ‘n paradys vir enige huiseienaar wat sy huis winterbestand wil maak. Verf die mure in warm winterkleure vir ‘n fraksie van die prys met hul Dulux-aanbiedins. Daar’s ook klein, kompakte verwarmers vir onder R200 elk, asook gordyne, kussings en waterstewels (R50 ‘n paar).

Die Hadeda-dekorwinkel in Kaapstad het van 28 tot 30 Mei ‘n uitverkoping met afslag van 20 - 30%. Hier koop jy ingevoerde, handgemaakte items uit Mexiko, Peru en Guatamala - soos Frida Kahlo-afdrukke, kandelare, spieëls, kruise en 1 000 ander om uit te kies.

Die restaurant-kollig val op die Kaap. Five Flies (R125 p.p. vir ‘n tweegangmaal en ‘n glas wyn). Cognito (Stellenbosch) - beste hamburger in die Boland vir R40. Andiamo - R99 vir pasta vir 2 en 2 glase wyn.

En kyk dan nou net hier. As jy nog nie die volkslied ken nie - leer dit vandag op die internet. Klik op www.myanthem.co.za.

Salsa-danssessies is die beste manier om warm te bly. By Buena Vista Social Club in Kaapstad kan jy  Sondae gratis gaan heupswaai. En in Hatfield, Pretoria, kan jy op Vrydag 29 Mei op die klanke van ‘n regte egte Latyns-Amerikaanse orkes dans by Just Cuban. Hulle doen dit elke laaste Vrydag van die maand. Jy kan ook Vrydag- en Saterdagaande by Le-Si Restaurant - Casa Toscana (Pretoria) na die dinner dance gaan - goeie wyn, goeie kos en goeie musiek.

Bly warm en onthou om my te laat weet van bargains in jou omgewing: louann.stone@sarie.com of skryf in die kommentaar-boks hieronder.

Topsi Venter - ‘Die Madiba van SA kookkuns’

Mei 20ste, 2009 deur Lou-Ann Stone

Die mens is ‘n behoeftige spesie. En ek wil nou nie by Maslow se hiërargie daarvan vashaak nie, maar ons almal reageer van tyd tot tyd op daardie oer-instink van basiese behoeftes wat vervul word. Dis hoe ek Maandagaand by Topsi Venter se benefit dinner gevoel het. Ek’t geëet (my maag was vol), ek het veilig gevoel en ek was in goeie geselskap. Volgens Maslow se piramide was ek dan nou volmaak, gelukkig.

Topsi Venter

Topsi Venter

Mense gee nog om, en dit het ek met my eie oë gesien. Hoe hulle hul tyd en geld gee, hulle harte oopmaak vir iemand wat dit regtig nodig het. Vir iemand soos Topsi Venter, een van ons mees geliefde sjefs en kos-persoonlikhede, wat nou ‘n knievervanging moet kry. Haar gesondheid is dalk aan’t afneem, maar die gees is groter as ooit!

Nataniël meen sy’t elkeen van boeke eintlik geskryf, al staan sy naam daarop. Elzabé Zietsman vertel hoe Topsi haar lewe lank net gee - van haar eie hond aan ‘n vreemdeling tot ‘n diamantborsspeld vir iemand wat net gedink het dis mooi. Sy is al jare op haar voete om aan ander te voorsien en nou het die wyer Franschhoek- en kosgemeenskap besluit dis tyd om in te gryp.

Daar was feestelik geëet en gedrink by kerslig en orgideë. Top-restaurante en wynplase het ruim voorsien … en op die verhoog het Nataniël, Coenie de Villiers, Danielle Pascal, Elzabé Zietsman, Bravo en Rocco de Villiers gesing, vertel oor hulle pad met Topsi.

“The best you can have is today,” het sy gesê, haar glas gelig en die volgende lirieke van Nat King Cole voorgelees.

Let there be you

Let there be me.
Let there be oysters
Under the sea.
Let there be wind,
An occassional rain.
Chile con carne,
Sparkling champagne –

Let there be birds
To sing in the trees,
someone to bless me
Whenever I sneeze.

Let there be cuckoos,
A lark and a dove,
But first of all, please –
Let there be love.

Elsabé Zietsman en Coenie de Villiers

Elzabé Zietsman en Coenie de Villiers

Die manne van Bravo

Die manne van Bravo

Topsi Venter en sjef Cass Abrahams

Topsi Venter en sjef Cass Abrahams

Ek’t ‘n e-pos van Nazareth House, ‘n nonne-tehuis in Kaapstad, ontvang. Hulle het ‘n 2 week oue baba op die stasie opgetel en wil maar net laat weet dat sy nou veilig is, en dat mense asseblief kan help deur geld te skenk. Jy kan ook help.

Bargain-blog: Dis tyd vir uiteet, warmkomberse en DVD’s

Mei 15de, 2009 deur Lou-Ann Stone

Restaurante dek van nou tot September die tafels vir winter-specials. As ek kan raad gee, maak gebruik hiervan. Dis nou die tyd om die voorste SA sjefs se kos teen ‘n fraksie van die prys te proe! (Net vanoggend hoor ek oor die radio dat ‘n paar van Kaapstad se top-restaurante glo hul deure sluit weens die naderende resessie. Oi!)

Eerste op my lysie is Myoga-restaurant (Nuweland, Kaapstad) wat vir net R150 ‘n sesgang-maal voorsit. Die bekroonde sjef Mike Bassett se kos is fantasties. En teen R150 per kop … (R255 as jy van hulle wyn ook bestel).

Terroir op die Kleine Zalze-landgoed buite Stellenbosch het ‘n soortgelyke aanbod - R150 vir tweegang-maal, R195 vir ‘n driegang. Hier voel dit asof  ‘n mens in jou eie eetkamer sit. Knus en lekker, om nie te praat van die sappige lamskenkel en gebakte poeding nie.

En vir julle daar in die Noorde … teen slegs R180 vir ‘n driegang-maal, (glo van die beste Franse kookkuns hier te kry):

Maandae by La Canard in Johannesburg.
Dinsdae
by Brasserie de Paris in Pretoria

>>Ek hou julle op hoogte - hier gaan nog baie geëet word.

DVD’s. Musica het tans die R100 vir 2 aanbod. Goue oues en ‘n paar nuwe vrystellings.  Gorillas In The Mist, Mrs. Doubtfire - onthou jy nog? Gaan kyk  bietjie daar.

Dan weet Clicks net wat ‘n mens nodig het die winter te trotseer. Hulle groot Electric Sale met enigiets van ‘n elektriese kombers tot ‘n haartang op special maak dit die moeite werd om tog ‘n draai te gaan maak.

**Vakansie-bargains.
Op Flight Centre se webtuiste is daar gedurig lekker aanbiedinge.  Al iets gereël vir die winter-skoolvakansie? Twee kinders onder 18 bly verniet wanneer jy een van hierdie pakkette vat - Kyk bietjie hierso.

**Vlieg nou Londen toe vir R5130, als ingesluit.

>>Ek hoor graag van julle - is daar bargains in jou omgewing? Stuur vir my ‘n e-pos by louann.stone@sarie.com<<

Nuut op sarie.com - bargain-blog

Mei 12de, 2009 deur Lou-Ann Stone
lou-ann

Ek’s my lewe lank al ‘n bargain hunter. En ek’s nie eers skaam om dit te erken nie. Want waarom dan nou een item koop as jy 3 vir dieselfde prys kan kry? Verál as ‘n mens die ekonomiese wipplank dophou.

Dus skryf ek nou ‘n bargain-blog waar júlle ook in die klein vreugde van ‘n special kan deel.

* Wetherleys het tans ‘n groot uitverkoping - tot 70% af uitgesoekte voorraad. Spaar tot R6000 op ‘n sitkamerstel.

* Die Kapenaars sal bly wees om te hoor dat dit binnekort die Good Food & Wine Show is. Vir net R75 eet & drink ‘n mens mos heeldag - te lekker!

**My bargain-van-die-dag is Woolies se Moedersdag-voorraad wat nou teen 50% van die prys verkoop word. Dis die ideale verjaardagpresent, met stunning verpakking. Daar’s Belgiese sjokolade, Chuckles, fortune cookies, marshmallows, brosbrood en jellielekkers.  (Terwyl voorraad hou - slegs by uitsoek Woolworths-takke)

PLUS as jy as ‘n aanlyn-gebruiker op www.woolworths.co.za registreer kry jy R50 af op jou eerste aankope.

* Spaar R119,84 deur nou op SARIE en SARIE KOS in te teken - dus, jou 2 gunsteling-tydskrifte teen slegs R18,90 per uitgawe. Jy kan ook ‘n Yardley-geskenkpak ter waarde van R225 wen. SMS SUBS SARIE na 32361 (geen leestekens) en ons kontak jou binne 24 uur of skakel 0860 103 664. sarie_inteken@media24.com

As jy weet ‘n bargain, hoor ek graag van jou. Stuur ‘n e-pos louann.stone@sarie.com of laat my sommer weet hieronder.

Michélle skryf uit Londen

Mei 8ste, 2009 deur Michélle van Breda

Die FIPP-konferensie vir wêreldtydskrifte is verby (byna 1 000 uitgewers, redakteurs en bestuurders van 57 lande het dit oor 3 dae bygewoon) en ek het nou nog 3 dae oor in Londen. (FIPP = International Federation of the Periodical Press.)

Maar kan julle glo, dis sowaar weer koud en reënerig – geen teken van lente nie, nes toe ek so ’n maand terug in New York was. So, ek gee nou op! Selfs die Teems, waarop my hotelkamer uitkyk, is wintervaal. Maar moenie dink dit sit die Engelse af nie, o, nee, vroue hardloop hier in dun chiffon-rokkies, op hoë skoene en hul kaal, whiter-shade-of-pale-bene rond asof dit hoogsomer is!

Van die maskers teen Mexikaanse griep, soos hulle dit hier noem, is daar geen teken nie. Moet sê, elke keer as iemand om my nies en proes – veral op die underground – stuur ek maar ’n skietgebedjie op en hoop vir die beste.

Kensington-paleis, waar die opening van die konferensie was en voorheen Diana se blyplek, was vir my so-so. Die tuine is wel ongelooflik mooi, maar die paleis self donker en somber. Die geskiedenis rus te swaar in daai donker gange en ek sweer al die ou konings en koninginne spook daar!

Ek het darem geleer om te “curtsy” – net ingeval ek die Queen êrens raakloop. So met die een knie agter die ander en jou voete netjies geplaas en nie wyd uitmekaar soos ’n wandelende eend nie. Toe ook ’n uitstalling van Diana se rokke gesien, en sowaar baie van hulle herken. Van naby is hulle regtig iets om te bewonder – en kyk, sy mag lank gewees het, maar sy was veel maerder as wat ek gedink het.

Die Picasso-tentoonstelling in die National Gallery is die groot gebeurtenis tans in Londen. Kunswerke uit die verskillende fases van sy lewe is te sien. Of jy nou hou van sy werk hou of nie, om die kunswerke van ’n meester van nader te sien is net ’n voorreg. Toe ek laas hier was, was dit Frida Kahlo se tentoonstelling en dit was byna ’n spirituele ondervinding.

Ek wil nêrens anders in die wêreld bly as in Afrika nie, maar dit bly darem die wonderlike ding van ’n Europese wêreldstad soos Londen – jy het toegang tot so baie: kuns, kultuur, tale, wêreldburgers.

Maar terug by die belangrike: Ek het nou net ’n lekker bak sop en brood hier in ’n knus kafeetjie geniet en gaan nou straat af stap om ook kaartjies (hopelik teen halfprys) te kry vir ’n klassieke musiekkonsert in my gunsteling-kerk in Londen, St Martin-in-the-Field, op Trafalgar-plein. Dan sien ek ook daar is groot advertensieborde oral vir ’n nuwe show met Rowan Atkinson (Mr Bean). Ek’s mal oor Britse humor, en dit kan dalk net die moeite werd wees.

Intussen bly die Engelse apple pie en room net so lekker soos ek onthou het …

Groete, geserp en gejas uit Londen!

Michélle

Zambië Deel II - “In my hele lewe was ek nog nooit so bang nie!”

Mei 7de, 2009 deur Charis Labuschagne

In my hele lewe was ek nog nooit so bang nie. Om te gorge swing in ‘n kloof is glad nie ‘n vinnige foefie-slide soos ek gedink het dit gaan wees nie. Toe ek sien hoe dit lyk as iemand oor die rand van ‘n afgrond afspring, het ek besef vrees is waaragtig jou grootste vyand. Ek was só bang dat my mede-springers gesê het as ék dit kan doen, kan hulle ook.
Dit is my werk om vrae te vra en gister was dit die meeste vrae wat ek nóg in ‘n halfuur gevra het: Is dit superveilig; kan jy jou rug of jou nek breek; hoeveel keer het mense al hier afgespring; vir hoe lank bedryf hulle al hul ‘besigheid’…?

Die antwoorde was: Ja; nee; meer as 43 000 en 11 jaar.
Vóór ek op die rand van die afgrond by die Batoka-kloof in Livingstone, Zambië, gaan staan het, het ek gesukkel om my asemhaling onder beheer te kry en nóg vrae gevra. Is dit beter om vorentoe te kyk as ek spring of moet ek my rug op die niks voor my draai?

Eddie Mukelabai, met sy video-kamera in die hand (om die bewyse op DVD vas te lê dat jy mal genoeg is om te spring) se antwoord was ‘Look ahead, it’s better to see what’s coming.’

Charis voor haar sprong

Charis voor haar sprong

Gister, een of ander tyd ná 12:00, staan ek toe, springer nommer 43 407, en kyk reg voor my, want ek is te bang om af te kyk. Ek vra vir Fred Ndumba, die man met die bemoedigende glimlag langs my, om my asseblief af te stamp as ek dit nie self regkry om te spring nie. Fred sê net ‘we don’t push anyone.’

Ek het vir ‘n paar sekondes oorweeg om halt te roep en om te draai, maar ek

Dis presies hoe hoog dit is

Dis presies hoe hoog dit is

het my oë toegemaak, ‘n tree vorentoe gegee, 53 m in 3,2 sekondes teen sowat 125 km/h gevryval en gevoel of ek na my dood val. Maar toe ek uiteindelik rustig deur die kloof swaai, het ek gedink Eddie mag dalk dink it’s better to see what’s coming, maar jy moet nooit ophou om treë na die onbekende te gee nie.

SARIE in Zambië vir nuwe TV-program

Mei 6de, 2009 deur Charis Labuschagne

Dit was een van háár drome: Om Zambië toe te gaan vertel M-Net se publisiteitsbestuurder, Lani Lombard, gistermiddag in ‘n bussie op pad na die  Thorntree Lodge, 10 km buite Livingstone. Heel gepas het sy haar droom bewaarheid met die bekendstelling van dié kanaal se nuwe realiteitsreeks I wanna be, wat mense se drome vir die volgende 13 weke waar gaan maak. Toe hulle gewonder het waar om die bekendstelling vir die media te hou was Zambië die eerste keuse.
Selfs die weer het Lani se droom verwelkom. Net twee dae terug het die reën hard neergeslaan in Livingstone waar ons vir drie dae bly. Maar toe ‘n klein groep joernaliste, ‘n paar lede van M-Net en een van I wanne be se aanbieders, Ed Jordan, gister saam met Lani by die internasionale lughawe hier land, was die lug helderblou soos wat jy net in Afrika kan sien en die temperatuur ‘n bedompige 30 grade - perfekte weer om op ‘n olifantse rug deur die bos te ry. (Die lughawe is kleiner as Bloemfontein s’n en jou bagasie word bloot op ‘n vervoerband neergesit wat nie draai nie).

Ek self het sowat twee jaar terug ook voor ‘n olifant gestaan – in Chiang Mai in Thailand – maar daar is iéts aan ‘n Afrika-olifant, dis of hulle meer persoonlikheid het. Dalk omdat Afrika in hul bloed is. Ons gids, Gerard, vertel naas die mens en die dolfyn, is die olifant die intelligentste soogdier (hoewel hy die mens se intelligensie soms betwyfel). Hulle is intuïtief, emosioneel en vir sommige mense ook spiritueel.

Ek en Martjie Roos, ‘n joernalis van Rapport, ry op Marula, ‘n 25-jarige olifant-bul met ‘n groot lus vir die maroela-vrug. Later kom ek agter Marula is ook erg temperamenteel en hou nie daarvan om saam met die ander olifante in ‘n ry te loop nie – ‘n heerlike avontuur.

Ons ry vir ‘n uur deur die bos en stop langs die Zambezi-rivier met Zimbabwe sigbaar in die verte. Later, wanneer die son rooi-oranje oor die rivier sak, besef ek hoekom Lani juis Zambië gekies het om ‘n realiteitsreeks oor drome bekend te stel.

Dalk is dit die ongerepte landskap wat jou bietjie meer waaghalsig maak - dit is ordéntlik Afrika - maar jy voel gou om ‘n paar drome van jou eie te skep terwyl jy hier is. Vanmiddag gaan ek myself in ‘n kloof afgooi en in die lug rondhang, sogenaamde gorge swinging. Soos wat ek met die ander joernaliste gesels, klink dit al hoe meer na gorge falling, daar word g’n niks geswing nie. Maar die lewe gaan oor balans en ná gister se rustige rit op Marula, is dit vandag nodig vir adrenalien. Ek wonder steeds wat my besiel.

I wanna be begin Sondag 18:00 op M-Net

Die Zambezi-rivier met Zimbabwe in die verte.

Die Zambezi-rivier met Zimbabwe in die verte

Ek en Martjie op Marula saam met ons gids Edwin

Ek en Martjie op Marula saam met ons gids Edwin

Nandi, 'n baba-olifant wat na Shaka se ma vernoem is.

Nandi, 'n baba-olifant wat na Shaka se ma vernoem is.

Ek en Martjie voer Marula ná ons rit

Ek en Martjie voer Marula ná ons rit

Janie du Plessis skryf vir SARIE oor gesogte geleentheid in VSA

Mei 5de, 2009 deur
Janie du Plessis

Janie du Plessis

Baie mense is bang vir liefdadigheid. Dit klink soos harde werk, so asof ’n mens pannekoeke op ’n reëndag by die kerk moet gaan bak. Ek praat uit ervaring. Ek’t elke oomblik gehaat wanneer ek byvoorbeeld by ’n skoolfunksie maalvleis in vetkoeke moes skep. So graag soos wat ek ’n verskil wou maak, het ek hiérdie les geleer: Wanneer ’n liefdadigheidsfunksie nie pret is nie, gaan jy nooit werklik sukses hê nie.

Ek het die afgelope tien jaar my verhaal voor duisende vertel en so graag soos wat ’n mens die boodskap van borskanker en die bewusmaking daarvan by elke funksie sou wou verkondig, het ek gevind dat ons by die pretdae die grootste sukses behaal het. Dit is die dae waar mense kan lag, lekkerkry en voel dat hulle beursies werklik oopgaan en dat hulle met liefde gee.

Ek vertrek einde Mei en is van die 3de tot die 7de Junie in Washington DC, waar ek namens SA die media te woord sal staan oor projekte wat ons doen en beplan. Daar is gala-funksies, seminare en TV-onderhoude. Ek het tot pienk klere gekry vir die padloop op die 6de Junie en is nou besig om ’n SA-spannetjie (wat in die VSA bly) bymekaar te maak om saam met my en 50 000 ander in die Washington Boulevard af te hardloop. Miskien is daar nog SARIE-lesers wat wil inval? (www.komen.org)

My visie is om die borskanker-bewustheidsveldtog vanuit Suid-Afrika dieper in Afrika in te dryf. My besoek aan die VSA sal ’n boodskap en uitnodiging wees aan korporatiewe Amerika om ons hier in Suid-Afrika en Afrika te ondersteun. Ek beplan ook om hul ‘resep’ na SA te bring. Daar is soveel wonderlike projekte wat ons aanpak en wat my altyd verstom, is hoeveel entoesiasme en vrywillige betrokkenheid daar is op die kleiner dorpies van ons land. Dit is juis dáár waar dit die heel moeilkste is om geld in te samel en die gemeenskap te ondersteun.

Die Journey of Hope (www.journeyofhope.co.za), wat weer hierdie jaar in Oktober gaan plaasvind, het enorme potensiaal om mense in die mees afgeleë plekkies in ons land te bereik. Ons uitnodiging loop wyd – as ons klomp vrouens met ons Harleys nie op ’n plek kan kom nie, gaan ons die manne met hul modderfietse stuur! En so sal Journey of Hope die boodskap uitdra na die res van Afrika.

Met al die ellende om ons in die land, die wêreldekonomie en swaarkry van ons tyd, is daar nou meer as ooit ’n behoefte by gewone mense om ’n bietjie pret te hê. Ons gaan bergklim, gholf speel, duik, motorfiets ry, roei … Maar, soos altyd gaan ons ’n bietjie van jou geld vat terwyl jy so lekker lag, want iemand moet daai Sunlight Liquid gaan aflaai by die Hospice en iemand moet die melk vir die pannekoek by die kerk gaan koop.

’n Mens bly maar wonder wat moontlik opwindend kan wees aan ’n lewe met kanker? Ek glo dat ek die resep gevind het en ek gaan daai Amerikaners mooi vertel en mooi verduidelik hoe lekker hulle dollars hier gaan werk!