FOTO: Lindy Truter
Kyk na Jason en Lara se troue HIER

FOTO: Lindy Truter Kyk na Jason en Lara se troue HIER

Bruid

4 trends om die groot vraag te vra

Met Nadia Beukes se verlowing in die Franse Alpe vroeër vanjaar het ons van voor af opgewonde geraak oor verlowings. Verloof hou soveel beloftes in – jul troudag, moontlik ’n pienkvoet, jul lewe saam met legio geleenthede om mooi herinneringe te skep …

Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, het gaan kyk na die 4 grootste trends om dié belangrike vraag te vra.

Weet net daar is nie ʼn reg of verkeerd nie. Dit is alles jul persoonlik smaak.

- Fanie Cronjé

Trend 1: Hou dit eenvoudig en sonder fieterjasies

As dit jul styl en persoonlikheid pas, raak verloof by jul gunsteling-plek. Op ʼn dak, in ʼn park, by ʼn fontein. Enige plek wat vir julle spesiaal is. Vra sommer ʼn omstander om ʼn foto te neem en hou dit natuurlik. Moenie nou pose nie. Die ou gaan op sy knie en vra die ja-woord. So eenvoudig soos dit.

Trend 2: Die romantiese wegbreek

Beplan ʼn naweek of vakansie weg – daar is baie opsies! Jy kan sommer op die vliegtuig al plan maak en reël dat die vlieënier ’n aankondiging maak. Of wag totdat julle op die strand is. Wees kreatief en bou dalk ʼn sandkasteel en sit die ring op die hoogste toring op die regte tyd. Of reël dat die hotel rose en sjampanje in die kamer sit as ’n verrassing ná ’n daguitstappie.

Trend 3: By die huis bly

Nooi haar vir ete (dié een is veral ’n verrassing as die man nie gewoonlik kos maak nie). Doen moeite en dek ’n mooi tafel, met blomme en sulke goed. Maak die kos waarvan sy hou. Die meeste vroue hou daarvan as jy moeite doen. Dié verlowing is waarskynlik die een met die minste stres, want daar is geen sosiale druk nie. Doen dit by die huis – jy kan selfs die vraag iewers graffiti.

NS. As jy kan lees, kan jy kook. So nie, kry ’n sjef – maar nie jou pêl of jou ma nie. En hou dit by die huis.

Trend 4: Vier die lekkerbek

Jul gunsteling-restaurant is altyd ʼn goeie plan. (Dan het julle sommer ’n venue vir die 5 jaar-herdenking ook!) Reël met die restaurant vooraf vir presies wanneer jy wil hê dit moet gebeur. Jy kan die ys sommer vroeg in die aand saam met voorgereg breek, of jy kan wag vir nagereg. Wat dit lekker maak, is dat julle waarskynlik ʼn gehoor gaan hê wat hande klap.

Laat bak ’n koek en vra dat dit versier word met die woorde “trou met my”. Laat iemand dit by julle aflewer, met ’n piekniek of by die restaurant.

Dis maar altyd beter om die ring in jou sak te hou, eerder as om dit in die kos te versteek.

Iets om te onthou

As jy haar gaan verras, maak seker haar hande en naels is mooi en reg na haar smaak. Reël met ’n vriendin dat hulle vooraf gaan vir ’n lekker bederf soos ’n manikuur. Haar hande gaan uiteraard op ’n paar foto’s wees.

Bronne: The Perfect Proposal en The Knot