mg_1788
Bruid

Jou skoonheid-kalender

8-6 MAANDE

* Kry ’n haarstilis en grimeerkunstenaar wat jou styl en persoonlikheid verstaan. Speel met ligstrepies of ’n ander haarkleur. ’n Goeie haarstilis en grimeerkunstenaar kan baie help met die skep van ’n nuwe voorkoms.

* Jou vel moet pragtig lyk. Oorweeg maandelikse gesigbehandelings, dís die geheim. As jy nog altyd met merkies gesukkel het, is dit nou die tyd om by ’n dermatoloog aan te klop. Opgeleide skoonheidskundiges kan jou veltipe ontleed en produkte aanbeveel wat vir jóú werk. Wees in dié tyd bereid om ’n bietjie meer op velprodukte te bestee.

* Begin met ’n oefenroetine om jou liggaam te verferm. As jy tevrede is met jou lyf, sal oefening steeds wondere verrig vir jou vel. Sorg dat jy die regte voedingstowwe inkry, veral as jy dalk beplan om ’n strawwe oefenroetine te volg.

* Maak seker jy het teen dié tyd ’n definitiewe besluit geneem oor jou voorkoms – wil jy modern, elegant of informeel lyk? Hierdie besluit sal jou in heelwat skoonheidskeuses (soos haar- en grimeerstyl) lei.

* As jy nog nooit voorheen jou wenkbroue laat pluk het nie, laat ’n kundige by ’n salon die regte vorm vir jou gesig skep. Ses maande laat genoeg tyd vir jou wenkbroue om terug te groei, sou jy nie van die eindresultaat hou nie.

3 MAANDE

* Die tyd vir eksperimenteer is verby: hou by wat werk. Moet veral nie nuwe gesigrome probeer nie (dit kan dalk ’n uitslag veroorsaak). 

* Laat knap jou wenkbrou-vorm op en hou vol met jou gevestigde velsorg-roetine.

* As die snit van jou rok gefinaliseer is, gee in die gim aandag aan areas wat in die kollig val, bv. skouers en arms.

* Sorg dat jy almal wat jou op jou groot dag moet help mooi lyk, bevestig het, van grimeerkunstenaar en haarstilis tot jou strooimeisies.

1 MAAND

* Hou ’n skoonheidsrepetisie: Besoek jou grimeerkunstenaar en haarstilis en bekyk jouself in jou trourok (wanneer dit gereed is), met al jou bykomstighede. Só kan jy veranderinge maak as jy nie tevrede is nie.

* As jy net jou tande witter wil maak of verbruiningsrome wil uittoets, is daar nog tyd. Moet dit nét nie tot op die laaste nippertjie los nie!

* Soek ’n spesiale troudag-parfuum as jy nie reeds een in gedagte het nie.   

* Maak ’n afspraak vir ’n waksbehandeling (en dalk gesigbehandeling) vir een week voor die troue, en vir ’n manikuur en pedikuur op die dag voor die troue.

1 WEEK

* Gaan vir ’n waks.    

* Kry ’n laaste gesigbe-handeling (drie dae of meer voor jou troudag).

* Beplan jou trou-handsak. Onthou poeier, lipstiffie, snesies, haarknippies.

* Bly weg van alkohol – dit kan jou vel vaal en gedehidreer laat lyk.

1 DAG VOOR DIE TYD

* Dis tyd vir ’n manikuur en pedikuur.

* Was jou hare (maak by jou haarstilis seker wanneer die beste is: die dag voor die tyd, of dalk dieselfde oggend).

* Kry genoeg slaap.

OP JOU TROUDAG

Gee jouself genoeg tyd vir hare, grimering en aantrek sodat niemand (veral jy!) gejaagd voel nie. Ontspan en geniet jou sprokiemooi dag!

  • Madelein Oosthuizen

    Ek sal graag wil weet wat die kleur en maak van die lipstiffie is wat die model aanhet. Sal dit bitter graag wil hê…

  • Maryke

    Maryke Truter het gesê:

    Ek sal ook graag wil weet wat die kleur en maak van die lipstiffie is wat die model aanhet. Dit vertoon pragtig en ek sal ook graag wil weet waar ek dit kan kry…

  • selma Engelbrecht

    Gaan ‘n mooi lipgloss op ‘n troue mooi lyk as ek die bloeme meisie is en is dit nodig vir ‘n onderlaag.