Troukos: Wat is op die bruidstafel?
Foto’s: Rodger February Galery
Romanse, nostalgie en troukoeke bly deel van die spyskaart, maar harte neem oor én die troutafel raak “groen”. So sê drie spyseniers by wie Martie Swanepoel gaan kers opsteek het
“Harte het troues oorgeneem. Sny die kaas in harte, bak hartkoeke en sit selfs soesji in hartjievorms voor!” is die raad van Karen Short van By Word of Mouth, ’n spyseniersonderneming in Johannesburg.

Sy het nog wenke vir bruidspare:
* Skep die onverwagte. Oesters in die bos en ’n braai by ’n moderne lokaal.
* Aparte nageregte vir hom en haar. Iets vrouliks en dekadents vir die vroue, en happies met skop vir die manne.
* Steun plaaslike verskaffers. Kry die beste bestanddele vars uit die grond by markte en plase in die omgewing.
* Kaasborde is terug! Die tendens is eksotiese kase by tuisgemaakte konserf.
Kontakdetails: www.bywordofmouth.co.za of 011 544 1600
"Jou dekor en kos moet dieselfde boodskap oordra.
Die tafels moet goed gestileer wees met die klem op detail en eenvoud,” is die raad van Vicky Crease, ’n spysenier van Johannesburg.

Vicky het onlangs ’n gesogte prys, ’n Catie, van die Internasionale Spyseniersvereniging gekry vir die manier waarop sy dekor, drama en smaaksensasies kombineer.
Sy het nog troutafel-raad vir voornemende bruidspare:
* Bak groot, flambojante koeke, maar nie noodwendig vrugtekoeke nie.
* Romanse en nostalgie is steeds ’n sterk neiging. Gebruik die bruid- en bruidegompoppie wat op jou ma of ouma se troukoek was.
* Sorg vir kosstasies, oftewel opskeppunte, soos een vir pasta, een vir seekos en een vir braai. Kry ook ’n stasie elk vir wyn, bier en skemerkelkies.
* ’n Lekkergoedstalletjie by die deur, sodat elke gas met die vertrekslag ’n papierkeël vol springmielies of lekkers huis toe kan neem, pleks van ’n tafelgeskenkie raak nou gewild.
Kontakdetails: www.vickycrease.com of 011 880 5776
“Organies is nou die gonswoord in koskringe.
En dié neiging raak veral by ‘groen’ omgewingsvriendelike troues al hoe sterker,” sê Andrea Foulkes van Dish Food in Kaapstad.

Sy beveel aan dat jy ook die volgende in gedagte hou wanneer jy jou trouspyskaart beplan:
* Die grootste nuus is ’n terugkeer na eenvoudige bestanddele wat op eksotiese maniere aangebied en berei word.
* Hoe meer gesondheidsbewus mense raak, hoe meer opdragte kry spyseniers om ook voorsorg te maak vir byvoorbeeld diabete, vegetariërs en mense wat glukoseintolerant is. Hou dit in gedagte indien jy weet dat van jou trougaste in dié kategorieë val. Merk ook geregte wat skulpvis en neute bevat duidelik, net ingeval daar gaste met allergieë is.
* Hou snoephappies eenvoudig met ’n vermenging van enkele smake.
Kontakdetails: www.dishfood.co.za of 021 465 7888
Verwante artikels
-
In jou nuutste SARIE BRUID Somer 2010/11
SARIE September 2010 | Kommentaar: 37
Die nuwe SARIE BRUID Somer 2010/11 is 15 September op die rakke, met meer inspirasie as ooit!
-
Oeps! Verkeerde byskrifte by Desember-nageregte. Só moet dit wees.
SARIE - Desember 2010
Kersvader het per ongeluk verkeerde byskrifte by 2 van Herman se smullekker Kers-nageregte 'afgelewer'. Hier's die regte byskrifte by die regte resep!
-
SARIE-kosredakteur Herman Lensing blog uit Thailand
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
"Na 'n baie lang wag is ek en Miné, die wenner van SARIE se Spekko-rys-wedstryd, uiteindelik in Thailand vir ons kostoer. En, wow! Een ding besef jy baie vinnig, hier is sekerlik die vriendelikste mense ter wêreld (ná SA, natuurlik...)"
-
Skrywer van topverkoper Kook en geniet is oorlede
SARIE September 2010
Human & Rousseau, 'n druknaam van NB-Uitgewers, is hartseer om aan te kondig dat S.J.A de Villiers, skrywer van die topverkoper, Kook en geniet, op 91 oorlede is.




















Kommentaar