FOTO: Jenni Elizabeth

FOTO: Jenni Elizabeth

Bruid

TROUFOTO’S: Aktrise Roeline Daneel

Die afgelope Saterdag het die aktrise Roeline Daneel en haar argitek-verloofde, Werner Lotz, ewige trou aan mekaar beloof voor 120 gaste. 

Die feestelike troue het plaasgevind op Roodezand, ’n vrugteplaas net buite Tulbagh.

“Ek het jare gelede op Tulbagh in ’n toneelstuk gespeel en tydens daardie eerste besoek het ek geweet ek wil terugkom. Ons het nie eens vreeslik gesoek na ’n plek nie: ons het een naweek Tulbagh toe gegaan en onmiddellik besluit op Roodezand!” het Roeline vooraf aan SARIE.com vertel.

Drie maande ná die paartjie op die plek besluit het, het Roeline vasgestel dat haar aktrise-ma, Elsabé Daneel, se familie destyds vir ’n paar generasies op Roodezand gebly het.

Een van die spesiaalste oomblikke vir Roeline was toe sy by die klein kapel instap.

“Dit was so spesiaal. Daar was al hierdie gesigte van vriende oud en nuut, en almal het net soveel liefde en deernis uitgestraal. Ek was heelwat meer emosioneel as wat ek verwag het. Ek was absoluut oorweldig deur al die liefde en moeite wat uit soveel oorde ingestroom het. Ek wens byna mens kan die dag minder gedistilleerd beleef en dit eerder versprei oor ’n paar dae sodat jy behoorlik kan fokus op elke mens en detail,” het Roeline ná die troue aan SARIE.com vertel.

Sy het ingestap op maat van die liedjie Into my Arms van Nick Cave & The Bad Seeds, gesing deur haar goeie vriende, regisseur Nico Scheepers en aktrise Ilana Cilliers.

Vir Roeline en Werner moes die diens persoonlik en intiem wees. Die paartjie het hul eie huweliksbeloftes geskryf. En hoewel hulle iemand gekry het om die wetlike aspekte te hanteer, het Elsabé en ’n goeie vriendin van Roeline, Renée Rossouw, die boodskappe van die diens gelei.

Werner en Roeline het mekaar in 2013 ontmoet. ’n Vriendin het besef dat dié kunstenaar en argitek ’n perfekte paartjie sou maak. En toe vir hulle van mekaar vertel.

“Ons het bewus geword van mekaar en ná wedersydse Facebook-stalking en ’n paar gemeenskaplike kuiers – ’n uitstappie na die Baxter-teater, ’n bingo-aand en ’n Sondagmiddagete – het Werner my op ’n behoorlike date gevra!”

Kort ná die afspraak het Roeline vir drie weke saam met haar ma, aktrise Elsabé Daneel, oorsee gegaan. Maar voor sy op die vliegtuig geklim het, het Werner haar by die lughawe kom afsien.

“Ons albei het net geweet hier’s ’n goeie ding tussen ons.”

En op 26 September 2015 het hy haar met ’n ring verras. Die ring is spesiaal deur haar pa, John, se familie-onderneming, Daneel Diamond Manufacturers, op Stellenbosch ontwerp.

Aanvanklik het Roeline ’n hele ander trourok ingedagte gehad.

“Alana van Heerden het my en my strooimeisies se rokke gemaak. Ek het by Alana aangekom met ’n baie los, byna casual idee van ’n romp met sakke en ’n insteekhemp, maar toe sy my een van haar bestaande skeppings laat aanpas om na ’n materiaal te loer, het ek verlief geraak op die behoorlike korset met boning en alles. Dis so anders as wat ek aanvanklik beplan het, maar ek is mal daaroor! Ek het vinnig ook geweet ek wil in blush  – ’n ligpienk kleur – trou, eerstens omdat dit beter as wit by my gelaat werk en omdat dit hopelik makliker weer gedra kan word. Die roosgoue baadjie was my idee! Dit was ’n herfstroue en jy weet nie vooraf wat die weer gaan inhou nie. En hom sal ek beslis nog baie dra!”

Gaste het van die wêreld oor gekom om saam met Meneer en Mevrou Lotz te vier. Party van so ver soos Namibië, Engeland, Oostenryk en Nieu-Seeland.

“Die uiteenlopende mense, waarvan party regtig ver gereis het, was die kleurrykste en interessantste klomp denkbaar. Toe ons die after party teen omtrent 04:00 verlaat het, was die einde geensins in sig nie!”

’n Hele paar van Roeline se akteursfamilie het ook die troue bygewoon. Aktrise Hannah Borthwick was een van haar strooimeisies. Ander akteursvriende sluit in Wessel Pretorius, De Klerk Oelofse, Cintaine Schutte, Ludwig Binge en Carel Nel asook regisseurs Christiaan Olwagen en Nico Scheepers.

Volgens Roeline het hul venue reeds genoeg atmosfeer geskep.

“Die venue is so pragtig en eenvoudig dat ons nie veel wou bydra en dit bederf met onnodige tierlantyntjies nie. Die gevoel was Frans-plattelands, sonder om cute te wees. Blomme was vir my baie belangrik en dis die enigste dekor waarop ons wel geld spandeer het.”

Die paartjie het besluit om nie ’n troukoek te hê nie.

“Ek was vir ’n tyd doodseker dat ek self een gaan bak, maar vermoed ek het myself baie sweet en trane gespaar deur dié idee te laat vaar. Ons het ’n heerlike, landelike nageregtafel van suurlemoentert, verglansde pere en dubbelroom-jogurt gehad.”

En nóú is die paartjie op pad na die Griekse eiland, Kreta, vir hul wittebrood.

“Daarna kom ons terug na ons Kaapse woonstel waar ons katte, Evie en Seun, ons hopelik baie gemis het.”

As aktrise spring Roeline ook dadelik weer aan die werk.

“Ek skiet in Junie aan die tweede seisoen van die reeks, Boland Moorde. Ek reis ook met die toneelstuk, Pa, na die Vryfees in Bloemfontein en die Kalfiefees in Hermanus. Krotoa, die film waaraan ek onlangs gewerk het, word in 2017 uitgereik.”

En Werner het onlangs sy eie argiteksfirma, L-L Architects, saam met sy vennoot en strooijonker, Michael Lumby, begin.

“Ek is mal oor hulle werk en baie opgewonde om te sien wat hulle gaan vermag.”

Baie geluk, Roeline en Werner!

– Foto’s deur Jenni Elizabeth Photography

 

Roeline en Werner se verskaffers

Fotograaf: Jenni Elizabeth

Trourok en strooimeisies se rokke: Alana van Heerden

Hare en grimering: Mari Conradie

Trouringe: Daneel Diamond Manufacturers

Venue en spyseniering: Roodezand

Vermaak: AmaWolseley Marimba Band

DJ: Nadia Sanetra

Blomme: Anli Wahl

Skryfbehoeftes: Seven Swans