Bruid

Kant en klaar

Indien jy ‘n troue beplan, het jy waarskynlik reeds sy naam gehoor: Aleit Swanepoel, die man agter menige bruidspaar se mooiste dag. Hy is immers onlangs deur die Britse tydskrif You And Your Wedding aangewys as die top-troukoördineerder in Suid-Afrika.

Terwyl Aleit by Distell as geleentheidsbestuurder gewerk het, het hy sy liefde vir onthaal en detail ontdek. “Nou het ek ‘n sakeryk met vyf maatskappye onder The Aleit Group,” vertel hy. Dit omvat die Aleit Event Projects-maatskappy, Aleit Wedding Coordination, die Aleit Shop (besit deur sy vrou, Madri) en Aleit Music and Entertainment, sowel as, in Duitsland, Aleit Munich. Sy nuwe kantoor op Stellenbosch is boonop tot in die fynste detail ingerig vir konsultasies – daar is selfs ‘n proekombuis.

“Suid-Afrikaanse standaarde is ver bo Amerika en Engeland s’n,” vertel Aleit. Hy  werk met paartjies van regoor die wêreld. “Sowat 70% van ons kliënte is van oorsee. Hulle kan celeb-troues in SA hou vir minder geld én soos royalty voel.” Baie plaaslike kliënte is beroepsgedrewe paartjies wat nie tyd het om troues te beplan nie: “Hulle soek iets kant en klaar. My span skep die balans tussen elegansie en pret. Ons probeer nie té hard nie – die fout kom in as paartjies beter en groter wil onthaal as hul vriende. “

As potensiële kliënte navraag doen, stuur Aleit ‘n bekendstellingsbrief waarin verduidelik word die troue sal tussen R1 900 en R4 000 per persoon kos. Dit sluit alle dienste in: onthaallokaal, spyseniering, troukoek, wyn, dekor, beligting, fotograaf en meer. Dit sluit ook vooraf-toetslopies van byvoorbeeld die blomme in. “Mense val op hul rûe en dink dis onmoontlik. Ek sou ook! Maar as jy alles op een begrotingsdokument sien, maak dit sin.”  Terselfdertyd glo Aleit “as mense nie die naam van jou hond of kat ken nie, kan jy hulle gerus weglaat van jou gastelys. Daar is dan meer geld vir ‘n wow-troue.”

Aleit kan ook bloot ‘n konsultasie met julle doen (vanaf R800 vir 90 minute) indien hy nie self jul troue gaan reël nie.

“My koördineerders bestee 30 volle dae aan elke troue. By die troue is daar vier koördineerders en elke oomblik minstens twee van ons, sowel as een kelner vir elke agt gaste, sodat alles perfek is.”

En hy het nóg groter planne:
“Die geleentheidsbeplanners wat oral kop uitsteek, is vir my kommerwekkend. Ek is besig om die Wedding Coordination Association of South Africa te stig om seker te maak mense lewer gehalte-dienste. Ek is baie streng met myself en my span – alles moet perfek wees. Ek het standaarde gestel en ons verbeter élke keer daarop!”                                         

Aleit beantwoord jou vrae

Hoe lank moet die seremonie wees?

Dis die heilige deel van die dag, gee genoeg tyd daarvoor. So 25 minute is genoeg.

Ek wil nie kinders by my troue hê nie – is dit onbeskof?
Nee. Wees eerlik; sê op die uitnodiging iets soos “tot ons spyt kan kinders nie saamgenooi word nie”.

Is dit swak styl om ‘n kontantkroeg te hê?
As jy genoeg wyn, sap, koeldrank en vonkelwyn verskaf, het jy jou deel gedoen.

Hoe maak ek my troue uniek?
Moenie te hard probeer nie, wees eerlik met jouself. Betaal eerder meer vir gehalte en kenners om julle te lei.

Aleit Wedding Coordination
The Aleit Group
021 887 4448
www.aleit.co.za

Aleit Shop

082 414 3180, 

**Hou sy webwerf dop vir Aleit Bridal & Styling en die Aleit Academy