Bruid

Kies jou musiek reg

“Musiek moet visueel vir gaste aangebied word. Hulle moet die musiek kan voel én sien,” sê René Tanguy (oftewel DJ René) wat in SA bekend is vir sy unieke musiekstyl by troues en ander spoggeleenthede. Uit sy jarelange ondervinding het hy hope raad vir die beplanning van jul onthaalmusiek.

“Ek’s nie daardie DJ wat in die hoek sit nie,” sê René en verduidelik daar’s twee soorte mense wat vir die musiek op onthale sorg: “Die een speel net musiek en die ander een, soos ek, hou daarvan om te improviseer – met musikante, tromme, dalk instrumente soos trompet, tromboon of saxofoon. Die atmosfeer is dan vars en daar’s interaksie met die gaste.”

René waarsku dat jou nefie wat so graag sy lyf DJ wil hou, dalk nie die beste keuse is nie. “Kry iemand met ervaring, wat geniet wat hulle doen en wat iets spesiaals na die troue sal bring.”
Hy meen die bruidspaar moenie oorbetrokke raak by die musiek-keuse nie. “Jy moet jou DJ met alles kan vertrou. Ek probeer almal se smaak bevredig – oud, jonk, enige soort mens.” Hy moet wel vooraf weet wat die styl van die troue is –  veral as daar ’n spesiale tema is, sodat die musiek daarby kan pas.

Ook stel hy graag vas hoe die onthaallokaal lyk en hoe klank daar weerklink. “As daar ’n eggo is of as klank rondspring, kan dit die gaste irriteer. ’n Goeie onthaalplek het ’n vloei tussen binne en buite, waar die DJ maklik kan aanpas.” En die eetplek en dansplek moet liefs één lokaal wees sodat die atmosfeer nie gebreek word nie.

Die tyd van die troue bepaal watter musiek René kies. “Vir ’n dagtroue is die musiek rustiger. Met ’n aandtroue is daar ligte musiek ná die kerkdiens terwyl almal drankies geniet, met baie melodieë en diverse musiek. Met aandete is dit dieselfde, maar ná die hoofgereg kan jy die atmosfeer lig met byvoorbeeld ’n mengsel van jazz, Latyns-Amerikaanse musiek en swing. Ná die troupaar se eerste dans begin die lekker dansmusiek. Die paartjie kies hul eie eerste liedjie, ek meng nooit daarmee in nie. Maar met die vang van die kousband en die ruiker speel ek iets prettigers.”

Vir afwisseling kan jy die DJ met ’n musiekgroep kombineer, stel hy voor. “Jy kan tydens die drankies byvoorbeeld ’n Marimba-groep kry vir ’n Afrika-gevoel. Of ’n kombinasie van kitaar en viool. Net nie té styf en formeel nie.”

Bespreek jou musiekmaker sodra jy besluit het – dit kan 10 tot 8 maande voor die tyd wees. Onthou om aan te dring op ’n kontrak wat stipuleer presies hoe lank die persoon gaan sorg vir musiek.  “As dit ’n aandtroue is, begin ek om vyfuur gereed maak,” sê René. “Ek speel dan musiek van so sesuur tot eenuur die oggend. Daarna kos dit natuurlik meer; hieroor kom julle ooreen in die kontrak.”

Stel vooraf vas of die musiekmense saam gaan eet, sodat jy dit by die spyseniering kan insluit. “Jy moet ook weet of alles, soos die mikrofoon, klankstelsel en byvoorbeeld tromme, by die prys ingesluit is of ekstra gaan kos.”

René Tanguy

KONTAK RENÉ

Bel René by 021 783 3664 of 082 578 4888 of besoek www.djrene.co.za

Bestel jou SARIE BRUID-CD vir jou spesiale dag – jy kry ‘n 20%-afslag!

  • ylnvuprp

    xbys89 obaprkfjfifl, [url=http://xisgghzifebk.com/]xisgghzifebk[/url], [link=http://yjoqrsqjqljn.com/]yjoqrsqjqljn[/link], http://dmxauqmbahbs.com/