Bruid

Kim maak wéér geld uit haar troue – probeer dié raad

Die meeste bruide spaar jare lank geld om hul troue te betaal. Maar die realiteitster Kim Kardashian het ’n manier gekry om geld uit haar troudag te máák …

Kim en haar verloofde, Kanye West, gaan glo sowat $21 miljoen kry vir hul troue, skryf Daily Mail. Volgens ’n bron is sy gereeld met verskaffers aan’t onderhandel sodat die uitgawes van haar en Kanye se bruilof, wat op 24 Mei in Parys plaasvind, minder kan wees.

Boonop het Kim vir E! gesê dat dié netwerk slegs gedeeltes van die langverwagte fees kan opneem as hulle die paartjie minstens $15 miljoen betaal. Dis glo hoeveel die netwerk betaal het om Kim se vorige troue, met Kris Humphries, op te neem. Intussen probeer Kim se ma, Kris Jenner, ook om die paartjie se troufoto’s teen $4 miljoen te verkoop.

E! gaan dalk nie vir my en jou $15 miljoen betaal om ons troues uit te saai nie, maar daar ís maniere om trou-uitgawes te beperk. Beproef dié wenke van kenners.

  • Hotelier: Gooi jou kultuur by die venster uit. Verbeel jou jy doen inkopies in Marrakesj, Marokko, waar jy oor álles onderhandel. Veral waar jy die onthaalplek se kos en drank gebruik, sal hulle moontlik vir jou afslag op die verhuringsfooi gee – Pieter Buitendag, bestuurder van die Protea Hotel President in Bantrybaai
  • Trourok-ontwerper: Verruil egte sy vir ’n generiese alternatief. Jou gaste sal nie die verskil sien nie! – Anél Botha van Anél Botha Couture in Klerksdorp
  • Spysenier: Mense dink dis goedkoper om in die winter te trou, maar dink mooi hieroor. In die winter moet jy sorg dat jou gaste warm en droog is. Boonop moet jou spyskaart groter wees, want mense eet meer om die koue te verdryf! – Wilinda Hanekom van Wilinda Hanekom Spyseniering op Moorreesburg
  • Grimeerkunstenaar en haarstilis: Versamel foto’s van trouhaarstyle waarvan jy hou. Baiekeer is daar ’n tannie of vriendin wat goed is met hare. Oefen net voor die tyd om jou hare perfek te kry! – Anneke Basson van Uitenhage
  • Bloemis: Gebruik wat in die huis is – vra bv. jou ouma, ma en tannie vir oulike potjies en houers. Dit werk veral goed met die vintage-tema, wat nog hoogmode is. – Hendri Oosthuizen van Moondrops in Bellville
  • Fotograaf: As jy ’n goeie fotograaf het, hoef jou onthaalplek nie noodwendig ’n lieflike uitsig te hê nie. Die grootste deel van die onthaal vind in elk geval gewoonlik binne plaas. – Sybrand Cillié van Gordonsbaai

BRONNE: Daily Mail & SARIE Bruid 2013/2014