In ligte luim tydens die fotosessie in die kerk.
FOTO: Phyllis Green

In ligte luim tydens die fotosessie in die kerk. FOTO: Phyllis Green

Bruid

Mnr. en Mev. Abrahams – die volle storie van Diaan se troue – DEEL 2

KLIK HIER om die eerste deel van Diaan se sien.

Ná die troue het hulle mekaar vir ’n week nie gesien nie.

“Só gaan dit in die Abrahams-huis,” vertel Jody. “Maar ons maak seker een van ons is altyd saans by die kinders.”

Diaan is in beheer van hul dagboek.

“Ons verstaan mekaar omdat ons in dieselfde bedryf werk. Ons deel dieselfde passie, het dieselfde werketiek, ondersteun mekaar en dink dieselfde oor projekte wat ons saam aanpak,” sê sy.

Soms is dit steeds moeilik. “Ons het al harde lesse geleer in tye wat ons mekaar maande lank nie sien nie. Dit het ’n groot impak op jou verhouding,” vertel Diaan. “Ons is al deur uitdagings wat die meeste verhoudings kan kelder. Maar ons is sterker daardeur. Die geheim is om nooit respek vir mekaar te verloor nie.”

Die kinders het hul anker geword. “Voorheen het ons besef ons moet rus, maar ons sou aanhou werk. Nou, omdat ons ’n roetine moet volg en tyd saam met hulle wil deurbring, is gesinstyd die belangrikste. Ek het ook besef hoe belangrik dit is vir my en Jody om tyd vir mekáár te maak.

“Hy is ’n hands-on pa. Veral as ek weggaan vir werk. Kyk, hulle sal dalk sonder ’n doek skool toe gaan en dan moet die juffrou gaan koop, maar hy kom nou al mooi reg, want ek het al baie vir hom gesê wat om te doen!” skerts sy. “Hy’s ’n baie ontspanne mens. Hy sal ure lank in die tuin na die plante kyk. Dan dink ek, wat doen hy? Ek het nie tyd vir plante kyk nie. Ek organise daai huis, hoor.”

In ligte luim tydens die fotosessie in die kerk. FOTO: Phyllis Green

In ligte luim tydens die fotosessie in die kerk.
FOTO: Phyllis Green

Diaan en Olivia FOTO: Phyllis Green

Diaan en Olivia
FOTO: Phyllis Green

Jody lag: “Ek moet haar altyd herinner die lewe is nie ’n sepieteks nie, jy kan nie alles beheer nie. Tog is dit wat haar so ’n goeie ma maak. Sy kry die balans reg om roetine en dissipline én onvoorwaardelike liefde te gee, vir die kinders én vir my.”

Diaan was die een wat hom kalm gemaak het. “Toe ons ontmoet het, het ek hard gepaartie. Alles het oor myself gegaan. Ek is nou iemand wat wíl tuis wees.”

Toe hulle voor die troue vir huweliksberading gaan, het hulle besef hoe goed hulle mekaar ken. “Dit was nogal snaaks, al die jare saam en twee kinders later gaan ons vir huweliksberading,” glimlag Diaan. “Maar dit was ongelooflik om te hoor ons het nooit daardie liefde vir mekaar langs die pad verloor nie.”

“Ons leer om jammer te sê en besef wanneer ons vassit, sal dit oorwaai,” voeg Jody by. “Jy pak nie jou tassies en waai nie. Dis nie die einde van die wêreld as julle oor iets verskil nie. Wanneer die stryery oor is, is julle steeds lief vir mekaar.”

Gelukkig sit hulle net oor klein dingetjies vas. “Soos jou sokkies wat jy enige plek uittrek,” knipoog sy vir Jody.

“Of jou halfvol teekoppies wat die wêreld vol staan,” skerts hy terug.

Ma-wees het haar geleer om onselfsugtig te wees. “Ons doel is om ’n gesonde omgewing vir ons kinders te skep waarin hulle kan groei en gelukkig wees.”

Die nuwe mev. Abrahams dans met haar skoonpa, Kenneth. FOTO: Phyllis Green

Die nuwe mev. Abrahams dans met haar skoonpa, Kenneth.
FOTO: Phyllis Green

Olivia aard baie na haar pa, vertel Diaan. “Sy’t baie van Jody se flambojante persoonlikheid geërf. Sy’s sosiaal, hou van praat, kuier en dans. ’n Totale ekstrovert. Thomas is nog klein, maar so gelukkig.”

Hulle wil die kinders leer om in hulself te glo, hul drome uit te leef, hulself nooit terug te hou nie.

Vir Olivia wil sy leer om ’n sterk vrou te word. “Vroue word steeds vasgevang in die vooropgestelde idee van wat ons moet wees. Ek wil Olivia leer sy’s ’n mens uit eie reg en sy kan wees net wat sy wil.”

As die kinders eendag ook akteurs wil word, sal hulle hul daarin ondersteun.

Jody is ’n bekroonde akteur wat al op sewe sy eerste teaterrol vertolk het. Op elf het hy toekennings ingeryg vir sy rol in die musiekblyspel Distrik Ses. Hy was in verskeie internasionale en plaaslike flieks en reekse, selfs al op gesogte verhoë van die West End in Londen en Broadway in New York.

“Ons is gelukkig om te kan doen waarvoor ons lief is. Ek het soveel respek vir haar, want ek weet hoe veeleisend sepiewerk is.”

Diaan vertolk die rol van Paula al tien jaar. “Soms word ’n langtermyn-rol ’n uitdaging, want jy kan te gemaklik raak. Dan moet ek myself motiveer om nuwe fasette van haar uit te beeld. Of ’n breek te vat. Maar ek’s dankbaar, want Paula laat my toe om elke dag my passie vir toneelspeel uit te leef. Ek baklei hard dat ons haar dieper, brose kant meer verken.”

7de Laan se Annelisa Weiland en uitvoerende vervaardiger Danie Odendaal.

7de Laan se Annelisa Weiland en uitvoerende vervaardiger Danie Odendaal. FOTO: Dennis du Plooy

Diaan is al gewoond daaraan om as Paula op straat herken te word. “Dit fassineer my dat party mense nie kan onderskei tussen die sepiekarakter en werklike lewe nie. Dit plaas nogal druk op jou om soos jou karakter in die openbaar op te tree. Dan begin mense vir jou voorsê hoe om jou lewe te leef…”

Sy en Jody het al geleer hoe om kritiek oor hul verhouding te hanteer.

“Dis nie dat ons nie omgee wat mense dink nie,” sê Jody. “Ons het net besef jy gaan nooit mense se persepsies verander nie. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou nie. Al wat saak maak, is ons eie waarheid.”

Diaan voeg by: “Ek kan dit nog handle. Dis wanneer dit my kinders benadeel dat ek die streep trek.”

Jody glimlag en druk haar hand: “Dis die wonderlikste van Diaan: ek’s seker dat sy altyd ons beste belange op die hart dra.

“En vir my is daar niks belangriker as my vrou en kinders nie.”

Diaan knik. “Ek het altyd vooropgestelde idees van liefde en verhoudings gehad. Jy dink sekere dinge sal jou gelukkig maak. Eintlik is dit eenvoudig: wanneer jou maat gelukkig is, is jý gelukkig. So jy vergeet daarvan om jou punt te wil bewys, want dit maak nie saak nie. Jy werk eerder daaraan om jou man gelukkig te hou.”

Sy glimlag toe sy besef dat sy na Jody as haar man verwys. “Ek geniet dit so om uiteindelik te kan sê ek is nou Mevrou Abrahams!”

Diaan en Jody voor die St Martin’s-in-the-Veld-kerk in Rosebank. FOTO: Dennis du Plooy

Diaan en Jody voor die St Martin’s-in-the-Veld-kerk in Rosebank.
FOTO: Phyllis Green