Mnr. en Mev. Abrahams' FOTO: Dennis du Plooy

Bruid

FOTO’S: Mnr. en Mev. Abrahams – die volle storie van Diaan se troue – DEEL 1

Onpretensieus, intiem, informeel, stylvol… Vir die akteurspaar Diaan Lawrenson en Jody Abrahams was trou nie hoog op hul agenda nie, maar toe hulle wél die knoop deurhak, was hul groot dag ‘alles wat hulle wou hê’.

Toe Diaan Lawrenson die kerk binnekom in die halternek-kantrok wat haar ma gemaak het, kon haar bruidegom sy emosies nie beteuel nie. Net daar gil Jody Abrahams hardop: “Yes!” Sy glimlag vir hom en die gaste glimlag saam. Want almal weet dié akteurspaar het nog nooit ’n trouseremonie nodig gehad om hul verhouding van byna tien jaar amptelik te maak nie.

Die dag was ’n viering van hul liefde, vir mekaar én hul pragtige kinders, Olivia en Thomas.

Dít was sy nooit-vergeet-oomblik, sê Jody en lag saam met Diaan oor die herinnering. “Sy’t asemrowend gelyk. Ek móés net skree, asof my gunsteling-rugbyspan pas ’n drie gedruk het,” skerts hy.

Dis kort ná die paar se troudag wat op 8 Maart by die St Martin’s-in-the-Veld-kerk in Rosebank plaasgevind het, gevolg deur “ ’n lekker partytjie”, soos dié twee dit beskryf, by 44 Stanley Beer Yard in Auckland Park, Johannesburg.

Paula van der Lecq van 7de Laan het dalk van kleins af gedroom oor haar groot dag, maar vir die vrou agter dié geliefde karakter was dit nog nooit ’n sielswens nie. “Ek het nooit gedroom van die groot troue en wit rok nie,” vertel Diaan.

Van die oomblik dat sy Jody ontmoet het, het sy gewéét hulle hoort saam. “Dit was liefde met die eerste oogopslag. Ek het gedink hy’s oulik, mooi, snaaks, slim, talentvol, kreatief, onafhanklik, hardkoppig … al die goed waarvan ek hou. Maar dit was méér as dít. Ek het geweet ek wil die res van my lewe saam met hom wees.”

Jody beskryf Diaan as sy sielsgenoot. “Soos ek in my troubriefie (wat aan waterbotteltjies vasgemaak en in die kerk aan die 135 gaste uitgedeel is) aan haar geskryf het: Ek was soos ’n leë skip wat net op die water gedryf het, my eie lewe geleef het. Ek was nie van plan om ooit weer te trou, of om kinders te hê nie. Diaan het my gered. My kalm, heel, gelukkig gemaak. Sy het my geleer waaroor die lewe regtig gaan.”

Mnr. en Mev. Abrahams FOTO: Dennis du Plooy

Mnr. en Mev. Abrahams
FOTO: Dennis du Plooy

 

Diaan en haar pa, Phillip, van Johannesburg. Sy het ’n Spaans geïnspireerde mantilla-sluier gedra. FOTO: Phyllis Green

Diaan en haar pa, Phillip, van Johannesburg. Sy het ’n Spaans geïnspireerde mantilla-sluier gedra.
FOTO: Phyllis Green

Al was dit in die begin van hul verhouding moeilik, het hulle hul nie aan die kritiek van die publiek gesteur nie. Hulle nie eens bekommer oor Jody se ouma, Ma Jess, wat deur die jare met elke besoek gevra het wanneer hulle dan nou trou nie.

“Ons het geweet ons is toegewyd aan mekaar, sonder dat ons in ’n kerk beloftes hoef te maak,” sê Diaan. “Ons het ons eie pas gevolg.”

Maar die tyd was nou rég. Hulle wou trou vir hul kinders.

“Dit was veral vir Olivia baie belangrik. Dit het haar gepla dat my van nie dieselfde was as hare nie. Sy wou weet hoekom is ek dan nie deel van haar familie nie. Sy het vir almal vertel ons gaan trou en die dae afgetel.”

Haar kosbaarste herinnering is dat Olivia (4) en Thomas (1) deel van die dag was. Terwyl Thomas (in sy swart pakkie) byna heel aand op ma se heup was, was Olivia blommemeisie. Sy het in haar dofpienk rokkie met ’n mandjie vol roosblare vooruit die kerk ingestap en “die aandag gesteel”, vertel Diaan trots. Later het sy saam met Jody gedans op Bruno Mars se “Marry You”, ’n liedjie wat haar ouers spesiaal uitgekies het.

In 2009, met vakansie in Spanje (nadat hulle verloof geraak het), het sy haar droomrok in ’n winkelvenster gesien. Terug by die huis het sy en haar ma, Tertia Luntz, materiaal gaan koop. Toe vind sy uit sy’s swanger met Olivia. “Daar lê die lap toe vir byna vyf jaar…” vertel Diaan.

Thomas in sy oulike kruisbandpak en strikdas. FOTO Phyllis Green

Thomas in sy oulike kruisbandpak en strikdas.
FOTO Phyllis Green

Olivia met haar fraaie kransie van gipskruid (Gypsophila). FOTO: Phyllis Green

Olivia met haar fraaie
kransie van gipskruid (Gypsophila).
FOTO: Phyllis Green

Haar vintage-sjiek troudag was alles wat sy wou hê: onpretensieus, intiem, informeel, stylvol en elegant. ’n Troukoek van oliebolle. Havaianas-plakkies vir trouskoene. Geen sitplekplan. “Net een groot jol,” voeg Jody by.

Tog het sy elke detail vier maande lank haarfyn beplan. “Ek’s ’n control freak. Ek moes seker maak dis alles wat ons wou hê … en dit wás.”

Byna al hul familielede en vriende het gehelp. Haar ma het haar én Olivia se rokke gemaak. Henré Pretorius het die uitnodiging ontwerp en Christi Panagio het die hartjieconfetti gemaak. Nico Panagio het ’n gebed by die onthaal gedoen. Mede-7de Laner Christo Davids het ’n Bybelvers in die kerk voorgelees en haar 7de Laan-“man” Heino Schmitt was seremoniemeester.

Nie eens die sousreën of beurtkrag kon ’n demper op hul dag plaas nie. ’n Dag vooraf het hul inderhaas ’n kragopwekker opgespoor en ’n markiestent gehuur, wat toe nie oor al die bome gepas het nie. “Toe moes ons vinnig soek na roomkleurige sambrele in ’n tyd waarin daar geen sambreel in die stad in sig is nie!”

Die beheervraat in haar het eers paniekbevange geraak, onthou sy. “Veral toe die donderstorm neersak terwyl ons die I do’s sê! Maar toe die son weer skyn teen die tyd dat ons by die onthaal kom, was daar oral die pragtigste goue druppeltjies. Ons het so lekker partytjie gehou, almal het gedans tot ná middernag. Toe gaan dans ons verder by die hotel…”

Dis eintlik nou hul wittebrood, maar hiervoor is daar nie tyd nie. Die egpaar is te besig, sy in 7de Laan, hy in sy rol as Marcel Jansen in Scandal! op e.tv. Hul vervaardigingsmaatskappy, Jester Productions, het vanjaar ’n kabaret, Salmon & Snoek, vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, asook drie flieks, The Spot, After Tears en Yoh, vir Mzansi Magic vervaardig. Diaan het pas klaar geskiet aan ’n nuwe reeks, Die Byl, wat volgende jaar op kykNET uitgesaai word.

Die bruidspaar en hul kinders saam met (van links) Dean en Heidi Seller, Jayde Daniels, Danika Seller (voor), Heather Daniels en Dwayne Daniels, Jody se broer. FOTO: Phyllis Green

Die bruidspaar en hul kinders saam met (van links) Dean en Heidi Seller, Jayde Daniels, Danika Seller (voor), Heather Daniels en Dwayne Daniels, Jody se broer.
FOTO: Dennis du Plooy

Strooimeisies (van links) Samantha (Diaan se suster), Thomas, Carla Lawrenson (skoonsus), Nicole Senekal (niggie), Diaan, haar ma, Tertia, en Olivia. FOTO: Phyllis Green

Strooimeisies (van links) Samantha (Diaan se suster), Thomas, Carla Lawrenson (skoonsus), Nicole Senekal (niggie), Diaan, haar ma, Tertia, en Olivia.
FOTO: Phyllis Green

Gaste (van links) Heino Schmitt, wat Diaan se man speel in 7de Laan, Nico Panagio, Gerrie Bouwer en Henré Pretorius. FOTO: Phyllis Green

Gaste (van links) Heino Schmitt, wat Diaan se man speel in 7de Laan, Nico Panagio, Gerrie Bouwer en Henré Pretorius.
FOTO: Phyllis Green

KLIK HIER vir deel twee van Diaan se troue.