Bruid

Spesiale wyn vir jul spesiale dag

1. Beplan voor jy koop
Moet nooit huiwer om te vra nie. Die meeste goeie boetiekwynwinkels of wynhandelaars het personeel wat kan help. Jou begroting bepaal natuurlik wat jy kan koop en hoeveel. Maar onthou: Dis ’n mite dat wyn duur moet wees om goed te wees. Beplan eers jou spyskaart en besluit dan op die wyn. Raadpleeg ’n gids soos die John Platter’s South African Wine Guide. Die algemene riglyne is dat jy witwyn voor rooiwyn drink, ligte wyn voor swaar wyn en droë wyn voor soetwyn. 
– Nonnie Dedekind, vryskut wyn- en kosskrywer

2. Die syfers
’n Goeie riglyn vir jul drankbegroting is R100 per persoon. Dis soms goedkoper om wyn vooraf op ’n wynplaas te koop, maar neem die kurkfooi van die onthaallokaal in ag. Onderhandel vir ’n laer kurkfooi en ook vir ’n laer prys as jy wyn in grootmaat koop (veral as jy dit by die onthaallokaal koop). Om koste te bespaar, bedien net een soort wit- en een soort rooiwyn. ’n Bottel hou vyf glase wyn. Werk op drie glase wit en twee rooi per persoon. Jy skink ses glase vonkelwyn per bottel. Werk op twee glase per persoon.
– Eunice Kotzé van Definitely Different Event Management in die Paarl

3. Volgens die seisoen
Bedien rooi-, wit- en vonkelwyn, maar in die somer meer wit en in die winter meer rooi. Moet ook nie van rosé vergeet as dit ’n lente- of somertroue is nie. Mense wat nie rooiwyn drink nie, gaan nie skielik shiraz wil hê net omdat daar beesfilet bedien word nie, maar die gaste moet altyd die opsie van rooi óf wit hê. As dit warm is, sit ook genoeg vonkel-mineraalwater en ys op die tafel.
– Emile Joubert, wynskrywer

4. Vonkelwyn
Koop vonkelwyn wat volgens die cap classique-metode gemaak is (of egte Franse sjampanje as jy dit kan bekostig) – die borrels hou langer. Bedien dit in ’n fluit- of tulpvormige glas, nooit in daardie glase met wye openings nie, want die borrels verdwyn vinnig en die wyn word gou warm daarin. Vonkelwyn moet altyd yskoud wees. Moet dit nie nét voorsit vir die heildronke nie; ontvang ook die gaste daarmee. Kikker dit op met ’n kersie in elke glas. Jy kan ook nie-alkoholiese vonkelwyn voorsit vir geheelonthouers.
– Riette Rust, SARIE-skrywer en wynkenner

5. Mengeldrankies
Die nuutste tendens is om meer konfyte en vars vrugte in mengeldrankies te gebruik, maar dit eenvoudig en gesofistikeerd te hou. Besluit op jou mengeldrankie deur die kleurpalet, styl, tyd van die dag en samestelling van jou gastelys in ag te neem. Vir verwelkoming by deftige troues beveel ons iets soos appel-en-salie-martinis of whisky-mengeldrankies aan, en vir informele troues eerder prettige vrugte-mengeldrankies. Probeer vir lente- en somertroues ’n lietsjie-en-laventel-martini. ’n Heerlike nie-alkoholiese mengeldrankie is gekneusde basiliekruid en sitroengras (lemon grass), geskud met pynappelsap en ’n titsel brandrissie (afgegiet voor bediening).
– Kevin Snyman van Liquid Chefs

Kontantkroeg of nie?
Ons kenners is dit eens dat kontantkroeë nie eintlik ideaal is nie. Bedien liefs net goeie wyn, dis heeltemal genoeg. As jy wél op ’n kontantkroeg besluit, sê Nonnie Dedekind, hoef die verskeidenheid sterk drank nie groot te wees nie: “Die algemeenste is brandewyn, whisky en jenewer (gin).”

Hou dit koel
Onthou, kamertemperatuur in Desember in SA is beslis nié die “kamertemperatuur” wat bedoel word vir die bedien van rooiwyn nie – dit sal in die yskas moet kom! Kry by jou wynverskaffer meer inligting oor watter temperatuur die geskikste vir jou wyn is.

KONTAKDETAILS

• Liquid Chefs 021 511 7088 (Kaapstad), 011 887 5435 (Johannesburg) en 031 569 2521 (Durban), www.liquidchefs.co.za
• Definitely Different Event Management 021 863 0397 of 082 808 1114, www.definitelydifferent.co.za