Bruid

Wenke vir troufoto’s

SARIE BRUID-wenfotograaf, Joe Dreyer, sê ’n mens moet so lank moontlik voor jou troudag op die uitkyk wees vir jóú fotograaf.  “As jy een kry van wie jy hou, moet jy so gou moontlik bespreek; goeies is ’n jaar vooruit vol.”

Dis uiters belangrik dat jy van die fotograaf se persoonlikheid en fotografie-styl hou. “Kyk na meer as net ’n paar foto’s van ’n troue om te sien hoe die fotograaf die héle dag vasgevang het. Moenie te veel staatmaak op webtuistes nie,” waarsku Joe. Net die enkele mooiste foto’s beland daarop.

Fotograaf-kontrakte wissel baie, maar jy móét seker maak die fotograaf is vás bespreek vir jou groot dag. Jy sal dalk hiervoor  ’n deposito moet betaal.

Jy kan die fotograaf se werk op ’n paar maniere vergemaklik, sê hy. “Fotograwe se grootste geskenk is goeie lig – hou dit in gedagte as jy jou skedule beplan. Dit help nie jy het ’n goeie fotograaf, maar jou seremonie is sesuur in Maart en dis donker teen foto-tyd nie. Laat genoeg tyd (45 minute tot ’n uur elk) vir solo- en paartjie-foto’s. Dit help ook as die seremonie- en onthaallokaal naby mekaar of op dieselfde plek is. ”

Hy sê ’n kort naamlysie help baie met familiefoto’s. Onthou: die fotograaf ken nie die familie nie, so ’n strooimeisie of vriendin moet liefs aangestel word om die groepe bymekaar te kry.
Dis vir Joe belangrik dat die fotograaf en die videograaf weet waar hulle inpas. “Elkeen het ’n rol – dit help as ons al voorheen saamgewerk het.

“Om die gevoel van feesviering en liefde op elke foto te kan sien, is iets waarna ek streef. En onthou,” sê Joe, “moenie jou dag om die fotograaf beplan nie. Kry ’n balans en ontspan – dis jóú groot dag!”

NOG WENKE

  • Die bekroonde troufotograaf Mario Sales het ook raad
  • Moenie na die laagste prys kyk wanneer jy ’n fotograaf soek nie. Die gesegde goedkoop is duurkoop, is waar.
  • Oorweeg ’n verlowing- fotosessie – dit sal julle ’n aanduiding gee van hoe goed julle met die fotograaf saamwerk. Dan kan julle enige probleme vóór die troudag uitklaar.
  • Wys die fotograaf vooraf hoe jou rok gaan lyk sodat hy foto’s kan beplan.
  • Die belangrikste mense by die troue is die bruidspaar en die familie. Beslis nié die fotograaf of troukoördineerder nie!
  • Oorweeg dit om die foto’s vóór die seremonie te neem as julle laatmiddag trou en die onthaal laat begin.
  • Hou die gaste besig terwyl julle foto’s neem. Gaste wat eetgoed het en vermaak word, veral deur musikante, is gelukkige gaste.
  • As dit reën, is dit deel van julle dag − moenie dat dit die pret bederf nie.   

Vir meer inligting besoek www.joe.co.za of kontak Joe by joe@joe.co.za of 082 549 9885.

Besoek www.mariophoto.co.za of kontak Mario by mgsales@worldonline.co.za of  082 882 2646.