natanielshare_310w_310w
Die Nataniël Tafel

Die Nataniël Tafel-resep: Bourbonkoek

Nataniël wys hoe jy jou verjaarsdag behoorlik kan vier – binne-in jou eie huis, in episode 11 van Die Nataniël Tafel. In hierdie episode het sy spesiale gas en jare lange vriendin Marion Holm hand bygesit…

Bourbonkoek

Vir die koek:

  • 1 koppie botter
  • 2 koppie suiker
  • 1 teelepel vanilla ekstrak
  • 3 ¾ koppies koekmeel, gesif
  • 3 ½ teelepel bakpoeier
  • 1 koppie melk
  • 8 eierwitte
  • ½ koppie bourbon

Smeer 4 medium koekpanne en sprinkel met mee. Verroom botter, suiker en vanilla. Sif droeë bestanddele saam. Meng om die beurt met die melk by die bottermengsel. Klits eierwitte tot sagte punte vorm.Vou versigtig in deeg. Verdeel tussen 4 panne en bak in oond teen 180˚C vir 15 minute. Haal uit oond, laat afkoel en sprinkel met bourbon.

Vir die versiering:

  • 300g donker sjokolade
  • 100g melksjokolade
  • 500ml vars room
  • 1 eetlepel bourbon
  • 75g haselneute, gekap
  • 2 eetlepels ingelegde lemoen, in stukkies gesny
  • sjokoladeballetjies of klein truffles
  • vars of ingelegde lemoenskyfies

Breek sjokolade en plaas in mengbak. Verhit room tot net begin kook. Gooi warm room oor sjokolade en roer totdat sjokolade gesmelt is. Roer bourbon by. Bedek met plastiek en plaas in yskas tot nodig (gebruik teen kamertemperatuur). Smeer 2 lae koek met sjokolade (nie heeltemal tot teen die rand nie). Sprinkel 2 lae met neute en strooi lemoen oor laag 1. Plaas laag met lemoen op een met neute. Plaas ander een met neute heel bo. Smeer laaste koek tot teen die rand en plaas bo-op. Bedek met balletjies en versier met skyfies vars of ingelegde lemoen.