Die Nataniël Tafel

Die Nataniël Tafel-resep: Verjaarsdagpastei

Nataniël wys hoe jy jou verjaarsdag behoorlik kan vier – binne-in jou eie huis, in episode 11 van Die Nataniël Tafel. In hierdie episode het sy spesiale gas en jare lange vriendin Marion Holm hand bygesit…

Verjaarsdagpastei

  • 2 velle gekoopte skilferkorsdeeg
  • 2 eisbeins
  • 4 ontbeende hoenderfilette
  • 1 koppie tiemie
  • 1 groot ui, gesny
  • 2 selderystokke, gesny
  • 2 wortels, geskil en gesny
  • 100g bruinsuiker
  • 1 liter water
  • Swartpeper

Kook eisbein met ½ koppie tiemie, water, ui, wortels, seldery en bruinsuiker vir 3 ure. Laat afkoel. Ontbeen en breek vleis op in klein stukkies. Hou die water waarin die vleis gekook is, dreinneer en verminder in die pot tot die helfte. Verkoel sous (Dit sal dik word). Rol 1 vel deeg uit en voer die bodem en kante van ‘n springveerpan.Plaas hoenderfilette tussen plastiekkleefsel en slaan met ‘n koekroller tot dit plat is. Voeg ½ koppie tiemie en swartpeper by die eisbein. Pak lae in die springveerpan en wissel af tussen eisbein en hoender. Rol die ander vel deeg uit en plaas bo-op die pastei. Sny ‘n gaatjie met ‘n skerp mes in die deeg bo. Smeer deeg met geklitste eier. Plaas in die oond en bak vir 1 uur teen 180˚C. Verwyder pastei uit die pan en smeer die kante met eier. Plaas terug in die oond vir 15 minute. Haal dan pastei uit die oond en laat dit afkoel. Plaas pastei in die yskas vir 3 ure. Maak die sous klein bietjie warm sodat dit net-net vloei. Gooi die sous by die gaatjie bo-op die pastei in sodat dit tussen die vleis inloop. Die sous sal dan binne-in die pastei stol. Sny en bedien koud.