Die Nataniël Tafel

Groenvye, bloukaas, groente en okkerneute in ‘n knus fillo jassie; vir 6 persone; oondtemperatuur – 200 grade C, gaarmaaktyd eerste deel 20 minute en dan 2de fase ongeveer 10-15 minute

Bestanddele vir 6 persone:

Rou groente:

3 x murg van groente, in skuins repe gesny

1 x klein botterskorsie, in dun skywe en daarna, kwarte gesny

2 x groot rooi uie, in die lengte gekerf

8 x groot bruin sampioene, in dyn skywe gesny

1 x groot groenpeper, in repe gesny

1 x groot rooi soetpeper, in repe gesny

4 x groot knoffelhuise, in repe gesny

1 x 1cm stuk vars gemmer, in dun skyfies gesny

Ander:

8 x soet, ingelegde “peppadews”, gehalveer

1 x 150g blou kaas

6 x ingelegde, groen vye wat in kwarte gesny is

‘n handvol okkerneute, grof gekap

sout en varsgemaalde swart peper na smaak

olyfolie

Fillo-jassie vir die winter:

200 g fillodeeg, ontdooi en klam gehou

genoeg gesmelte botter om die fillodeeg te verf voor baktyd

Metode vir voorbereiding van groente:

Oondhitte: 200 gradeC.

Berei al die rou groente voor (was, droog af, sny in repe).

Plaas in ‘n oondvaste pan, sprinkel met olyfolie, sout en peper na smaak.

Rooster vir so 20-30 minute totdat dit halfgaar en net-net bruin raak.

Plaas eenkant en laat ‘n bietjie afkoel sodat dit nie die fillodeeg pap maak wanneer dit bo-op geplaas word nie.

Smeer ‘n oondvaste skottel met ‘n bietjie olyfolie.

Sodra die groente sodanig afgekoel het dat jy dit met jou hande kan bewerk, plaas dit in die die skottel.

Voeg hierby: die peppadews, okkerneute, groenvye en breek die bloukaas in stukke met jou hande en krummel bo-oor.

Verf genoeg fillodeeg-velle met gesmelte botter en plaas dit met punte-punte na bo (m.a.w. nie plat lae nie) om dit sierlik te bedek en bak in die voorverhitte oond (steeds 200 gradeC) totdat die fillo pragtig bruin bo-op is.

Ek eet met my oe en met my siel – die gereg moet fantasties lyk, ongelooflik ruik, en dan verwag ek ‘n allesoorheersende verrassing in my mond. Hierdie een doen dit vir my!!

Sien ander resepte