Diverse

Dave Pepler se 12 parfuums vir Kersfees – …en ‘n patrys in ‘n peerboom?

 Die rakke kreun van Italiaanse pannecotta, Amerikaanse kalkoene, Duitse pfeffernusse en fop-sneeu uit Beijing. Nét daar besluit ek toe, te hel met koolstof en te hel met prys – hier is my twaalf “Parfuums van die jaar*“.

Ek wil aan Sarie-lesers voorstel om kort by moord om te draai in hul pogings om hul mans te dwing om die regte parfuum vir Kersfees te koop. Huil, sanik en kweel, maar maak seker dat hulle hierdie kortlys sien.

On the first day of Christmas, my true love gave to meBulgari Jasmine Noir

Ek het nog nooit ‘n Bulgari-parfuum raakgeloop wat nie iets te sê het nie. Sommige skeppings, soos Au the blanc is so subtiel dat jy dit skaars registreer, maar Jasmine Noir is vol en sensueel. Enige parfuum wat op jasmyn staatmaak, staan of val by die kwaliteit van die ekstraksie – hier is dit sambac jasmyn, die beste. Jasmine Noir se basis is kosbare hout, en saam met soet amandel kry dit ‘n unieke akkoord.

On the second day of Christmas, my true love gave to meChanel Cuir de Russie

Cuir de Russie is duur, bitter duur en vorm deel van Chanel se Les Exclusives-reeks. Van die mees verruklike geure op aarde kom in die reeks voor, en dis moeilik om te kies, want daar is Sycomore, No 22 en die hemelse Bel Respiro. Ek het lank gedink voor ek by hierdie keuse uitgekom het, maar is oortuig dat alles wat Chanel van parfuum weet is in hierdie parfuum gekonsentreer. Die rokerige rook/leer-akkoord kom van Russiese berke-sap wat tot teer gereduseer is – daar is niks op aarde so dromerig en luuks nie.

On the third day of Christmas, my true love gave to meDior Eau Noir

Dior, net soos Chanel, het ook ‘n eksklusiewe reeks parfuums genaamd La Collection Christian Dior. Waar Chanel alchemisties omgaan met die inhoud, roem Dior hul op die mees luukse en skaars bestanddele wat geld kan koop. Stap in by Dior in die Kaapstad Waterfront en vra om aan hul versameling geur-note te ruik.  Dis ‘n groot fout want “mindere” parfuums, wat staatmaak op chemise nabootsings word skielik afstootlik. My finale keuse is Eau Noir, ‘n donker wonderwerk van kruie en drop (hondebloed). Gaan ruik aan die hele versameling – ek kry jou baie, baie jammer.

On the fourth day of Christmas, my true love gave to meEsteé Lauder Private Collection Tuberose Gardenia

Tuberoos is ‘n moeilike geur om reg te gebruik in ‘n kwaliteit-parfuum want die rou ekstrak, of absoluut, ruik na ander, soms afstootlike, reuke soos rubber en vleis. Sou jy volle omvang van tuberoos wou beleef, ruik aan Serge Lutens se Tubereuse Criminelle. Dis verruklik, afstootlik, wonderbaarlik en onrusbarend – alles ineen. Maar soek jy ‘n liriese tuberoos, troon Esteé Lauder uit bo die kompetisie. Die hart van die parfuum bestaan uit tuberoos, katjiepiering en lemoenbloeisel en die basis uit die beste vanielje. Private Collection Tuberose Gardenia sal ‘n sersant-majoor laat glimlag.

On the fifth day of Christmas my true love gave to meEtat libre D’Orange Like this

Ek het onlangs oor hierdie merkwaardige parfuum geskryf en hou voet-by-stuk dat Etat libre D’Orange aan die voorpunt staan van innovering en dapper eksperimentasie.  Like this is een van hul onlangse meesterstukke.  Gemmer, pampoen en lemoen?  Like this is vol kruie, kosreuke, droog en soet tegelyk en vra intimiteit.  Dra dit by ‘n ete vir slegs twee.

On the sixth day of Christmas, my true love gave to me – Guerlain Insolence

Insolence is so “over the top”, so luidrigtig dat mens dit skaars met Guerlain kan assosieer. Dit ruik Italiaaans en “raserig”, soos die klank van ‘n Maserati op spoed. Tog, as die eerste golf gaan lê besef mens dat dit suiwer kwalitiet en styl het. Die lemoenbloeisel in die hart van die parfuum dra vreemde geure soos framboos en hars, en tesame vorm dit ‘n moderne meesterstuk. Hierdie is ‘n groot reuk en sal ‘n ete oorweldig; dra liefs na die nuwejaarsdans.

On the seventh day of Christmas, my true love gave to me Hermes Voyage d’Hermes

Tot dusver was al die bogenoemde parfuums redelik swaar en kompleks, maar nou is dit tyd vir iets vars en lig. Voyage d”Hermes is nuut in die stal en begin met suurlemoen en karamonk, gevolg deur tee met ligte muskus en houtgeure aan die basis. Dis ‘n perfekte somer-guer want dis nie opdringerig nie, en terselfdertyd behou dit die finesse van Hermes.

On the eight day of Christmas my true love gave to meIssey Miyake A Scent

As ek dink aan Issey Miyake, sien ek die verruklike foto van ‘n bejaarde Francis Partrige, geklee in ‘n duifgrys tweestuk pak, spesiaal vir haar ontwerp. Al Miyake se parfuums het hierdie tydlose kwaliteit en dring nooit op nie. A Scent ruik na suurlemoen, na bitter galbanum en na flou jasmyn. Mens kan dit as tipies Japanees beskryf – stil, ingetoeë en uiters stylvol.

On the ninth day of Christmas, my true love gave to me Jo Malone Nectarine Blossom and Honey

Ek wou eers Pomegranate Noir my keuse van die jaar maak, maar toe dink ek aan Kersfees in Suid Afrika. Teen vroeg-oggend begin die vroue al woel in die kombuis met eindelose slaaie (koperpennie en slap haakskeentjies?), die vleise (koue beestong met mostertsous, skaapboud?) en poedings wat ‘n bees sal neertrek. Pomegranate Noir sal eenvoudig een te veel wees aan tafel – dis romerig en dig, perfek vir die winter. Daarom stel ek Nectarine Blossom and Honey voor, ‘n somerparfuum op sy beste.

On the tenth day of Christmas, my true love gave to meLa Prairie Life Threads Sapphire

La Prairie, alhoewel reeds lank in die skoonheidsbedryf, het eers onlangs ‘n deurbraak gemaak met parfuum. Tot op datum was daar ‘n persepsie dat hulle nabootsers was, miskien met goeie rede. Maar nou het hul die mark met mening betree en hul Life Threads-reeks is verstommend goed. My gunsteling is Life Threads Sapphire, ‘n elegante “groen”/appelkoos/jasmyn akkord, somers en sag.

On the eleventh day of Christmas, my true love gave to meNarciso Rodriques For Her

Hoeveel keer stap ek nie by my parfuumkas verby en dink – ek moet ‘n slag weer aan For Her ruik nie. Telkens word ek opnuut herinner wat ‘n wonderlike reuk dit is. Ek is seker dis die lemoenbloeisel en sagte vanielje, op ‘n basis van kuskusgras en hout wat my so betower. Dapper mans kan dit ook probeer gebruik, bietjie-bietjie op ‘n slag.

On the twelfth day of Christmas, my true love gave to meRobert Piguet Fracas

Geen lys van gunsteling van my sal volledig wees sonder Fracas nie. Turbo-aangejaagde tuberoos, brutal en briljant. Dis ‘n oorweldigende parfuum wat vra om groot dissipline by die draer.  Beslis nie ‘n parfuum vir allerdaagse gebruik nie want dit kan ‘n reputasie aan flarde laat. Dra dit as jy tuis voel by jouself, en verkielik op die verleidings-pad. Iemand wat die allure van Fracas kan weerstaan het nie ‘n hart, of ‘n neus nie.

  • Karen van der Merwe

    Jy het eenvoudig ‘n manier om ‘n ding fyn te beskryf… Of is dit liewer, jy het ‘n fyn manier om ‘n ding eevoudig te beskryf. En tong in die kies, erg droog. Soos die stukkie by Dior. "Ek kry jou baie, baie jammer." het my lekker laat lag. Dis heerlik om oor vroue parfuum uit ‘n man se oogpunt te lees.