Diverse

2 stamme

Ek het gewag dat die boom weer uitloop. Maar die laaste blare het afgeval en geen botsel het weer verskyn nie. Die pragtige boom met sy fyn wolkvorm en pienk
trompetblomme, wat my gelok het toe ek die huis gekoop het, was leweloos soos die stene van die akkertjie.

Tuinman Samuel het eers die takke begin korter snoei om van die dooie gedeeltes ontslae te raak. Die lente het weer gekom en daar was geen botsel nie. Ons  het die stam sowat ’n meter van die grond afgesaag en dit was droog soos ’n Namib-klip. Later het ons die pompon met groot hartseer teen die grond afgesaag. Uit en gedaan. Die stompie het swart geword en wilde aarbeie het daaroor gegroei.

Dit was lank gelede. ’n Paar jaar terug, tien jaar nadat die boom dood is, het twee klein plantjies opgekom waar die stam gestaan het. ’n Kenner het bevestig dis
pomponblaartjies. Hy was verbaas, maar het gesê ek moet die twee stammetjies maar laat groei om te kyk of een oorleef. Ek het gereken dat ek die boom nooit weer groot sou sien nie.

Albei stamme het uitgegroei en vorm nou een groot sambreelboom wat vanjaar pragtig in die laatlente geblom het. Dis ongeveer vier meter hoog met twee stewige maar slanke stamme. ’n Boom wat tien jaar dood was, kon nuut staan en blom.

Iets van die oorspronklike boom, bedek onder diep grond, het bly leef, totaal verberg en onsigbaar, jare lank. Toe het natuurkragte saamgewerk – toe die tyd ”ryp” was – en die spruite het fyntjies uitgekom.

Ek was eenmaal in die laat-laatwinter in Jerusalem.Dié ou stad met sy muur is bekoorlik, maar nie juis bekend vir sy sindelikheid nie en sy reuke is plek-plek dié van ’n vuilgoedhoop. Dit het die nag koud geword en ek het nóg ’n kombers uitgehaal. Die volgende môre het ek deur die venster gesien dat die hele stad met ’n dik laag spierwit sneeu bedek was, van die torings en koepels af tot in die strate.

Ek het die venster oopgemaak en alles het vars geruik. Hulle sê ’n mens sien dit nie dikwels in Jerusalem nie, maar dit was asof die ou stad van smart ’n sprokie van engele geword het. Sprokies kry end en die sneeu het verdwyn, maar daardie foto van ’n skoon, wit Jerusalem bly in my gedagte. Dit sal weer eendag kom.

En dit laat ’n mens dink aan God se beeldryke vraag aan Job: “Het jy gekom tot by die skatkamers van die sneeu?” Nee, Job het nie. Hy het erken dat hy niks weet van die misterie van God en natuur nie. Maar my boom is ietwat anders: Dis nie ’n een-dagverskynsel nie. Ek het dit pas weer goed staan en bekyk. Dis eintlik meer as vyf meter hoog, die blare ’n gesonde matgroen met klein dofgeel puntjies, maar die laaste drag blommetjies is swartbruin en verlep en hang reg vir afval. Ken ek die “skatkamer” van die boom? Nee, dit staan daar, ’n groen, natuurlike baldakyn voor die roomkleurige stoeppilare, sterk en jonk en trots.

Het die boom ’n “bewussyn”? Het dit “persoonlikheid”? Of is dit slegs maar selle wat aan mekaar gestrengel word en sigself vorm tot ’n boom, onbewus, sielloos, ’n sommerso sieraad?

Dalene Matthee het my vertel dat bome in die bos, trouens elke boom, met haar praat en dat sy bome al om hulp hoor skreeu het wanneer die bosbouer se saag
hulle tref, of ’n olifant die takke breek. ’n Ou tannie uit my kinderdae het eendag ontsteld by ons huis aangekom en vir my ma water gevra, enigiets, want haar mond was droog. Sy het vertel dat sy verbygeloop het waar die munisipaliteit akkerbome in die Hoofstraat afgesaag het en dat sy kon hoor hoe die bome om hulp roep. Ek het gedink sy is gek.

Deesdae swyg ek soos Job. Nie-weet is ook weet. Maar wat ek seker weet, is dat waar daar lank terug ’n trotse boom met een stam gestaan en toe verdwyn het, is
daar nou twee stamme, netjies langs mekaar, één boom. Dis wonderbaar vernuwe. Dis Opstanding.

  • Tina Swanepoel

    Ek onthou nog daardie die artikel oor die pompomboom van "´n paar jaar gelede", toe ek my gunsteling tydskrif nog in papier-uitgawe in SA gelees het. Wat ´n ongelooflike voorreg om Sarie online te kan lees, hier in Duitsland!

  • http://www.sonflowercreations.com hilda davidson

    Ek stem 100% saam met Tina Swanepoel, van Duitsland!! dis lekker om SARIE online te kan lees. . . . . .wat nòg meer verfrissend was, om te sien dat Izak de Villiers sy rubriek, "mens-chemie" afsluit met ‘En bo-al, mag die "chemie" altyd werk tussen almal wat hier lees en . . . God."
    daai statement is iets wat jy nie lees in tydskrifte van Engeland nie! + iets wat ek mis van SA!!!