jan08izak1
Diverse

As my skip kom

Pa: “As my skip kom.”

“Ma, daar is weer nie warm water in die geyser nie. Dis tyd vir ’n nuwe een.”

Ma: “As ons skip kom.”

“Kan ons nie ook op ’n bootvaart na Kampala gaan nie? Hulle bied specials aan …”

Ma en Pa gelyk: “As ons skip kom.”

Wel, die motor en die geyser is vervang, maar die bootvaart het nooit gebeur nie. Dié skip het letterlik nooit gekom nie. Die uitdrukking “as my skip kom” word in die HAT onder “skip” omskryf: As my skip (met geld) kom, as ek ryk word; nooit.

Dus: Die uitdrukking leef voort. Maar toe was spaarsaamheid ’n soort geloof, ’n lééfwyse. My fassinasie met Kampala het begin omdat ons bure, die Allsops, se dogter – hulle was die dorp se kruideniers – daar gaan woon het. Mrs. Allsop het altyd hul dogter se briewe vir Ma voorgelees. Maar self het hulle ook nooit gaan kuier nie. Tot vandag toe was ek nog nie in Kampala nie – en my groot koors om soontoe te vaar het verdwyn. (Ek was al ’n paar maal in die Seychelle daar naby, maar vir die geelkoors en ander inspuitings sien ek nie kans nie.)

My pa het gedroom van om die wêreld vaar, sommer met sogenaamde tramp steamers – hy wou Berlyn ook weer graag sien waar hy as jong man was – maar dit het net ’n hunkering gebly. Daardie skip het ook weggebly. My ma het een oggend gebel en gesê sy wag vir ’n elektrisiën, want daar slaan vlammetjies agter haar stoof uit. Ek het gesê sy moet die flentersding dadelik uitsmyt, maar sy wou nie luister nie.

Ek het Aubrey Bloom gebel en gesê hy moet vir Ma ’n nuwe stoof gaan aflewer. Ek sou met hom regmaak. Maar hy moes asseblief self gaan, anders sou sy dit nie ontvang voor sy geweet het dis betaal nie. Hy het sy bedenkinge gehad: “Jong, ek sal maak soos jy sê, maar wat as ant Stienie sê sy vat dit nie? Ek kén ant Stienie …”

“Dan lieg jy maar die helfte van die prys en sê dis die laaste een op special en ek het klaar betaal.” Hy het so gemaak. Sy het opgewonde gebel en gesê sy gaan brood bak. Nog later het sy weer gebel en gesê die broodjies is lieflik. Vroeg daardie nag is sy stil oorlede. Die “skip” was net betyds met ’n bietjie vreugde.

Maar die HAT se definisie van die gesegde is eintlik dat dit oor geld en rykdom gaan wat ’n mens “nooit” kry nie. Baie mense het “welvarend” geword – sommige só welvarend dat hulle eintlik alle styl by die deur uitsmyt. Daar het te veel “skip” of skepe gekom. En op ’n dag mag daar ’n skok ook kom.

Maar kom ons bly by die groot droom, die “skip” wat ’n groot wens is, ’n ideaal wat bereik word, ’n deurbraak wat in ’n verhouding gemaak word, ’n hopelose saak wat oornag in ’n geleentheid verander, en dat die rykdom van die “skip” eintlik die rykdom van die gees sal wees.

’n Vrou het my onlangs vertel dat haar man jare gelede al hul geld weens spekulasie verloor het. Sy het nie gesit en wag dat die skip moes kom of dat die kraaie moes kos bring nie. Sy het ’n idee gekry en by die bank gaan mooipraat. Haar idee is vandag ’n uiters suksesvolle sakeonderneming. Die idee, die waagmoed en harde werk (én, voeg sy by, geloof in God) was die skip.

Ek was ’n paar jaar gelede saam met ’n klein groepie toe ’n jong vrou haar bejaarde ma Griekeland toe geneem het. Die opgewondenheid van die ou dame het ons almal aangesteek. Sy het letterlik haarself geknyp en gesê: “Eindelik is ek ook in Griekeland!” En toe begin sy uit pure uitbundigheid om ons almal te knyp. Haar skip het gekom. ’n Tydjie gelede het ek haar in ’n aftree-oord gaan besoek. Sy is baie siek, maar toe ek haar herinner aan daardie Griekse toertjie het haar oë geflikker van duisend glimlagte.

Ek hoop jou skip kom. Watter wens jy ook al het, watter droom jy ook al droom. En as dit nie kom nie, sal ’n ander geleentheid kom, dalk ’n mooier, voller skip. Voorspoedige nuwe jaar.