img_4295
Diverse

Beast se sagter kant

Tendai is die eerste mentor van die tweede fase van die Disney XD Aim High-inisiatief. Dié program bied vir seuns tussen die ouderdom van 9 en 14 die geleentheid om ’n eenmalige en unieke ervaring saam met ’n gunsteling-mentor (van verskeie beroepe) te wen.

Sarie.com het met Tendai gesels om te hoor hoekom hy by dié inisiatief aangesluit het:

Hoekom het jy besluit om ’n mentor vir Disney XD Aim High te wees?

Die inisiatief het eintlik vir my gekies. Dis vir my ’n wonderlike voorreg om ’n rolmodel vir iemand te kan wees. Ek’s baie opgewonde!

Wat wil jy graag bereik deur as mentor op te tree?

Ek wil ’n kind help om homself te wees en sy drome na te streef. Niks moet hulle keer om hul doelwitte te bereik nie.

Wie was jou mentor toe jy jonger was en wat het hy vir jou beteken?

Die oud-Springbokrugbyspeler Jeremy Thompson is al my mentor vandat ek o.19-rugby speel. Vandag speel hy steeds ’n groot rol in my lewe. Hy help my om plat op die aarde te bly en gee vir my raad wanneer ek besluite moet neem.

Dink jy dit is belangrik om ’n mentor te hê?

Ja, baie! Ons ervaar baie uitdagings wanneer ons jonk is, en soms het jy daardie ekstra ondersteuning en aanmoediging nodig. ’n Mentor kan jou deur dié uitdagings help om wyser besluite te neem.

Wat is jou raad aan jong seuns?

Wees jouself. Volg jou drome, hetsy jy ’n dokter, sportman óf ’n rekenmeester wil wees. Hou jou denke positief, werk hard en moet nooit terugkyk nie.

* Besoek www.disneyxd.disney.co.za/stunt/aim-high of Mxit > Treadepost > Entertainment > Disney > Disney XD vanaf 4 Oktober om in te skryf vir Disney XD Aim High. Inskrywings sluit 1 November.