Diverse

Bioniese man

In die parkeerplek het sy gesukkel om haar motor aan die gang te kry. Toe praat ’n stem agter haar: “Kan ek dalk help?” Dit was die man met die glimlag.

Sy het ja gesê en hy het ingeklim en hier en daar gevroetel. Binne vyf sekondes het die kar gevat. Hy het ’n oomblikkie agter sy rug gevoel en mooi geglimlag. Sy het vrolik vir hom gewaai toe sy wegry.

’n Paar dae later was sy weer in die winkelsentrum. Die man was weer daar en het haar vir tee genooi. Sy wou nie eintlik nie, maar toe glimlag hy weer so mooi dat sy nie anders kon as om hom na die koffieplek te volg nie. Hy was ’n uithaler geselser en sy het trots gevoel om saam met so ’n beskaafde, mooi man tee te drink. Hy het hom voorgestel as Lucius, ’n sakeman. Hulle het besluit om elke week op dieselfde tyd te ontmoet en te gesels.

Tuis was haar man nie te danig oor die nuwe vriendskap nie, maar aan die ander kant het hulle tereg gereken sy het ook haar eie lewe om te lei. Lucius kon gesels oor boeke, rolprente, poësie, skilderkuns, musiek, politiek, godsdiens – alles onder die son. Wanneer sy haar feite verkeerd gehad het, het hy haar saggies reggehelp en dan so mooi geglimlag dat sy totaal van haar blaps vergeet het. Hy het gereeld agter sy rug gevat.

Die vrou het op Lucius begin verlief raak. Hy het sulke mooi hande gehad en sy oë was gevoelvol. Sy was eintlik spyt dat hy soms sy regterhand agter sy rug in gesteek het, asof hy iets verstel. En sy het hom daarna gevra. Hy het geglimlag en gesê hy was tevore in ’n groot ongeluk en het sy rug gebreek. Dokters het vir hom ’n bioniese rug ontwerp. Maar dit het een probleem. Hy moet gedurig ’n knoppie agter sy rug draai om by sekere liggaamsposisies aan te pas.

Hmm, het sy gereken, dis seker hoekom hy nog nooit geskimp het om . . . nou ja. En haar verder verwonder aan sy kennis, sy oë en sy hande. Hy was ongetroud en het daar naby gewerk. Sy het haar man met hom vergelyk. Hy was so ánders. Haar man was so gewóón.

Op ’n dag het hy haar gevra om hom sommer by sy kantoor af te laai. In die kar het hy aan haar hand gevat en dit gestreel met: “Ek wil jou iets vra.”

“Hier kom dit nou,” het sy gedink en hom laat voortgaan.

“Ek is baie lief vir jou en het jou begeer van die oomblik toe ek jou die eerste keer gesien het. Jy moet altyd by my wees. Want ek hou net van permanente verhoudings . . .” het hy gemymer. Toe vroetel hy weer aan sy verstelknoppie. Sy hand het net effens geglip en hy het ietwat te ver gedraai en méér as sy rug verstel. In ’n oogwink het sy hom gesien soos hy is: sy gesig aaklig, sy hande kloue, sy oë kole vuur – die bose self. Lucius was eintlik Lucifer, die lig wat die engel van die duisternis geword het. Hy het skielik van ver geroep: “Ek wou eintlik jou siel hê.”

Hierdie fantasie wat ek iewers gelees het en op my eie manier oorvertel, sê maar net dat ons gedurig in ons persoonlikheid knoppies verstel, asof ons bionies is. Mense is nie altyd wat hulle sê of voorgee om te wees nie. En op ’n dag wys hulle hul ware self wanneer die knoppies in ’n woedebui of andersins te ver gedraai word, soos die bose in die storie. ’n Mens dink jy ken iemand, en op ’n dag word die knoppie verkeerd verstel en jy sien hom/haar vir wie hy/sy is. Ek het ’n vermoede dis waar die moeilikheid in verhoudings kom.

In ons almal is die bioniese bose, ingeplant. In ons almal is die goddelike. Ons worstel met die knoppies, met ons gewetens, ons liefdes en ons lewens. Die beste is om ons hande saam te vou en ons oë na bo op te hef en te sê: “Hanteer U tog maar my knoppies. En bewaar my van Lucifer, lig wat gaandeweg of skielik donkerte word, ook in myself.