Diverse

Bloeiseltakke in September

Izak de Villiers het nou die dag in sy SARIE-rubriek geskryf oor die foto’s in ons geheue. Oor die mooi en die hartseer van ons lewe wat ‘n prenteboek in ons kop word en waarin nét ons kyk (sy geheue, sy memoires het pas in boekvorm verskyn*).

Toe ek die bloeiseltakkie op vandeesmaand se voorblad sien, toe’s dit ‘n prentjie uit mý boek. Oorkant ons huis op Caledon was daar ‘n hoë muur waaragter ‘n groot moerbeiboom, ‘n suurlemoenboom en ‘n kersiepruimboom gestaan het. Eens op ‘n tyd het daar mense gebly, maar vir jare het die huis leeggestaan en het die tuin wulps gegroei.

Dikwels, wanneer ek gedink het niemand sien my nie, het ek tot bo-op die breë ou klipmuur geklouter en oor die kant geval-spring na onder. Dít was ‘n wonderwêreld. Die grond was klam en die reuk effens muwwerig. Dit was ‘n woud van grasse en onkruid, rankplante en alleenblommetjies wat sommer so vanself opgekom het. As ek toe nog aan feetjies geglo het, veral die een met die pers rokkie en mooi donker hare, het ek sowaar gedink hulle woon in dié tuin.

Wie die eienaar was, het ek nooit geweet nie. Ek wóú ook nie weet nie, want dit was my wegkruipplek. Boonop het ek die bome in my lewe nodig gehad: die moerbeiblare vir my sywurms, die goue suurlemoene vir my ma se bobotie en die pruimbloeisels vir lente.

Die moerbeiboom onthou ek goed. Groot en sterk met takke wat soos ‘n somersambreel wye koelte oor die tuin gegooi het. Die blare was kos vir my sywurms en met ‘n sakvol op my rug het ek elke keer die moeilike terugklim oor die muur aangepak. Die suurlemoenboom met sy droë, verwronge takke het soos ‘n ou man daar gestaan – vol wysheid. Sy sappige vrug het hy met trots gedra.

Maar die pruimboom was my gunsteling, oor die bloeisels. Soos die koue, nat Overbergse winter begin wyk het, het ek elke jaar oor die muur die donker takke van die pruimboom dopgehou. Want ek het geweet dié boom sal die eerste wees om te sê dis lente. Nog lank voor die suurlemoenboom of die moerbeiboom. Eers sou klein knoppies op die takke vorm, en oor die volgende dae sou ‘n enkele blommetjie verskyn, dan nog enetjie, en nog een. En op ‘n oggend staan die boom daar soos ‘n betowerende bruid, oortrek van wit lenteblomme elk so mooi soos ‘n stukkie kant. Dán was dit lente!

Ek het my verkyk aan hierdie pruimbloeisels. Die blaartjies wit tot ligpienk, soos ‘n kroon perfek gespan om die donkerpienk meeldrade. Hulle was brose blommetjies met ‘n fyn, soet geur. Versigtig sou ek ‘n paar pluk, soms ‘n hele takkie afsny, en dan terugsukkel oor die muur en hulle in ‘n blompot langs my bed sit. Nou nog is dít my kop-prentjie van lente.

Op ‘n dag het ‘n stootskraper gekom en die ou huis met sy klipmuur en tuin platgevee. Ook die moerbeiboom, die suurlemoenboom, my lenteboom . . . ‘n Dag wat ek nie maklik sal vergeet nie.

§ § §

My eerste jaar by die Universiteit Stellenbosch was verwarrend, soos vir die meeste studente. Nuwe dinge, nuwe mense. In die tweede helfte van die jaar stap ek vroegoggend klas toe. Dis nog koud, en nat, maar meteens sien ek ‘n kersiepruimboom oortrek van wit bloeisels. Dis dieselfde boom van my wegkruiptuin, die een met die soet geur en blommetjies so fyn soos kant, en my hart maak ‘n wilde boksprong. Want dis lente!

Groete,

Michélle

  • Suzanne Koertzen

    Pragtig gestel hoor! Wat dra ons almal ons herinneringe met ons saam en hoe ouer ons word , hoe duideliker onthou ons die kleintyd van weleer.