hero
Diverse

Chris Swanepoel blog: “Mosbol bak is g’n kinderspeletjies nie…”

Vele stories meen te vertelle dat ʼn ware bakker baie geduld aan die dag moet lê. Tesame met ʼn paar sterk voorarms vir die knieslag. Die ware bak-anties het blykbaar ʼn deeg geknie, hom laat rys, afgeknie, weer laat rys en soms weer geknie: sommer so in die middel van die nag voor die deeg vir ʼn laaste keer moes rys op pad oond toe.

Gaan lees gerus ʼn bietjie na oor hierdie tradisie van destydse gebak in die kombuise van die tantes en die groot rol wat die Aga- of Essie-stowe se lou oonde in die hele proses na sukses gespeel het. Oornag, lou hitte, dog sonder dat die gerysde deeg oorloop uit die pan, die agterdeur uit!  

Hierdie vertellinge het toe sowaar vir my ʼn werklikheid geword, hier in ʼn Duitse kombuis, waar ek en my groottante Annetjie Melck (tans op besoek hier) ʼn mosbol resep aangepak het op ʼn Sondagaand – en dit sonder die Aga se hulp! 

Die spesifieke resep het ek geërf uit die familie en is deels ʼn produk van Peter Veldsman se boek Kos van die eeu. Die ander deel daarvan behoort aan my tannie Annatjie Reynolds. (Ek noem haar van nou af  Annie, want daar is te veel Annetjies.) 

Aangesien sy ʼn wonderlike kok en bakster is, vra ek menige kere haar raad as dit by hierdie soort van resepte kom. Sy is so terloops die medeskrywer van die gewilde boek, Karoo wildsvleis wat ware koskultuur is en ook heerlik en  prakties te hulp kom wanneer dit by die gebruik van die resepte kom. 

Met hierdie mosbol resep het Annie in haar eie unieke `volksmond´ aan my via e-pos verduidelik  hoe om die mosbolle stap-vir-stap te maak. Nadat ek die resep deurgelees het, het ek geskaterlag vir haar besonderse humor wat vasgevang is in die taal van haar.

Die deeg moet op die einde blykbaar terugbons soos ʼn donskombers.  Hoe meer beskrywend as hierdie kan jy voor vra?  Natuurlik het ek nie geweet wat vir my voorlê met hierdie resep nie, maar ek is mal oor ʼn mosbol en dit was genoeg motivering om die uitdaging aan te pak en tante Melck in my span te kry.

Ek het op ʼn Saterdag vir ʼn wynmakersvriend in Baden-Baden gaan kuier aan huis van hul familie wynlandgoed. Aangesien ek regte, Bolandse mosbolle wou maak was dit die gulde geleentheid om ʼn bietjie mos aan die gang te kry. 

Dit was middel Augustus en so drie weke voor die eerste druiwe van die wingerd moes afkom vir hul pars. Dus moes ek bietjie kroek. Ek het die rypste druiwe gaan pluk wat ek in daardie wingerde kon kry en dit het ek aan die gis gebring (een koppie druiwe, twee koppies lou water, drie eetlepels wit suiker en een teelepel gis).  Hierdie brousel het ek oornag gelos en die volgende oggend het dit saam met my op die Duitse Autobahn gery tot in Weilheim. Hier het  Annetjie Melck my ingewag om te sien hoe ons gis-brousel daarna uitsien.

Aangesien die mos nog nie volgens ons lekker aan die gang was nie, het ons dit vir so 20 min in die son laat staan om die gistingsproses so effe aan te hits. Een uur later het ek die mos deur ʼn sif op twee koppies koekmeel in ʼn mengbak gevoeg. Hierdie mengsel het ek liggies geroer om dit eweredig en goed gemeng te kry.  

Na middagete, ongeveer 4 ure later en ‘n hele paar bottels wyn verder, besluit ons toe om die resep aan te pak. Dit was nou al 6 uur op die gegewe Sondagaand! Die Koekmeel/mos mengsel was lekker aan die lewe en perfek vir die aanvang van die resep.  

Ons het 250g botter gesmelt en 2 koppies melk tot louwarm verhit. Hierdie is toe by die begin mengsel gevoeg, asook een en ʼn half teelepels sout, 500ml suiker (2 koppies) en drie teelepels anyssaad. Na al hierdie byvoegings het ek 3 groot eiers een vir een by geklits.  

Tot in daardie stadium was die werk redelik lig en ek was vol moed vir ons bak-projek tot dat ons die 2kg koekmeel by gemeng het. (natuurlik so onnosel soos ek was, klits ek toe driekwart van die meel met ʼn whisk in). Kyk, toe raak my arms lam en ek wonder so by myself waar de duiwel destydse vroue hul armkrag vandaan gekry het!

Ek moes selfs elke nou en dan vir tannie Annetjie Melck die mengwerk oorgee om ʼn waterbreuk te vat en my gesig af te droog met ʼn klam lappie.  Natuurlik besef ons toe na driekwart van die meel ingevoeg is dat ʼn bak-spaan baie beter sal werk! Dit blameer ons toe grotendeels op die wyn wat ons oordeel beïnvloed het…    

Dit is van kardinale belang dat al die meel deur ʼn fyn sif ingevoeg moet word om die mengsel genoegsame suurstof en volume te gee sodat hy op die einde kan terugbons soos ʼn donskombers

Met al die meel in, dit kon bietjie meer of bietjie minder as 2kg gewees het, het die ware werk begin en ons het begin knie! Hiervoor het mens hope geduld nodig en aangesien dit toe al 9uur in die aand was, het myne stadig begin uitloop en tannie Annetjie Melck het stiller geword. 

Na ʼn deurdruk kniesessie is die deegmengsel oorgelaat aan die genade om te rys. Natuurlik moes ons die deeg weer afknie vir sy tweede rys-proses. As jy dom is moet jy ‘leer’ en die keer knie ons soos ons voortantes gedoen het, met die vuiste.  So om en by net na half elf uur die aand, het ons die gesmeerde oondbak met bolletjies deeg volgemaak en aangesien ons albei teen hierdie tyd meer as pootuit was, het ons hulle in die yskas gelos om oornag te rus.

Ook oorgelaat aan die genade, maar ons was te op om nog aan genade te dink, of om ons daaroor te bekommer! 

Tannie Annetjie Melck, alombekend vir haar uitstekende kosse uit haar Muratie kombuis buite Stellenbosch, het die volgende oggend vir my op kantoor laat weet dat sy in die nag wakker geskrik het met die vrees dat sy haar goeie kok-naam kan skade aandoen met die mosbol-gebakkery.

Sy het blykbaar in die middel van die nag die mosbolle uit die yskas gaan haal en met ʼn lappie oor op die kombuistafel gesit.  Hierdie mosbolle het die volgende oggend vir 40-50min by 160 grade gebak, natuurlik met bietjie eiergeel op die kop vir die kleur.

En ja, ons mosbolle was baie suksesvol.

Slegs ʼn paar van die middelste bolle was nog effens klam, maar dit is as gevolg van ons oondbak wat te groot was. Jou mosbolle moet styf teen mekaar in jou pan gepak word.  Ek persoonlik verkies die `nat´ mosbol, nog warm uit die oond en gesmeer met lekker vars plaasbotter.  

Natuurlik kan hulle ook uitgedroog word in ʼn louoond om lekker `beskyre te maak wat jou koffie soos ʼn spons opsuig… uit die pen van Annie, in haar oorspronklike skrywe aan my oor die mosbol-gebakkery.  

En ja… met hope laataand geduld kan Duitse mos ook mosbolle maak! Maar met apologie aan ons tradisionele resep wat ek en my ‘kos-tante’ so bietjie opgewhisk het aan die begin!  

Dog, die Duitse maters soek nog mosbolle en hulle moet maar wag tot ʼn volgende seisoen.  

Chris Swanepoel Duitsland. 

Vir die wat graag die Karoo Wildsvleis, tans uit druk, wil aanskaf kontak Annatjie Reynolds by annatjier@vodamail.co.za

Dankie ook aan Maureen Joubert vir haar skrywe oor hierdie Duitse- mosbol-herinneringe in Van Alle Kante : die Burger.

  • Janette Wiehahn

    Chris, Great storie. Jy sal nou moet leer om Eisbein op die Duitse manier te maak sodat jy my vir ete kan nooi. Moet ook nie vergeet om ‘n lekker bottel Duitse Riesling daarmee saam te bedien nie.!
    liefde, jou peetma

  • Maureen

    Dit is" Amazing" hoe ons dit met jou mee leef, ek wens ek was daar! Hulle sê mos ‘n Wêreld Reis is baie meer werd as ‘n graad op universiteit doen so voort.