Diverse

Chris Swanepoel blog: “’n Passievolle lewensreis”

Hierdie reis word ’n 11-dag ondervinding wat moeilik beskryfbaar is aan julle, want hoe kan woorde die ervaringe van siel en oog realisties en raak beskryf ? Ek vertel kortliks want hierdie skrywe gaan oor ander ervaringe.

Vanaf Queenstown aan die Weskus op die Suid-eiland, waar die wit pieke van Mount Cook oor die landskap van groen beboste berge hang, reis ek na Nelson waar ek van die lekkerste Chardonnay ooit geproe het.

Deur Marlborough, bekend vir Sauvignon blanc en Wellington, in die Noord-eiland, na Hawks Bay. Hier waar Bordeaux- en Rhone-kultivars ongelooflike wyne produseer.

Ek ry verder tot in Auckland, die grootste stad in Nieu-Seeland waar ek die polsslag van stadslewe ervaar en weereens word ek herinner waarom hierdie pragtige land wêreldwyd die kroon dra as een van die mees beeldskone lande ter wêreld. Ek sal ieder en elk aanmoedig om hier besoek af te lê, dis magies en baie veilig.

My vlug na Europa is via Sydney waar ek ’n volle 24 uur spandeer om die stad se bekoring soos ’n spons op te suig en ek verstaan hoekom die ‘n gewilde wreld-stop is. My Aussie-are bruis sommer weer behoorlik!

Ek is egter nou na drie weke, ‘n “Duitser” in daad, dog nog nie heeltemal in woord nie. Hier waar ek bevoorreg is om weer terug te wees op die Suid-Afrikaanse tydklok en nuwe, anderste kultuur ervaringe te kan beleef.  Anderste mense, leefstyl en unieke prag omgewings: ‘n hele andersheid  as my vorige avonture in N Z en Aussie… dog die passie vir wyn is en lê hier!

Ek bly in ‘n lieflike en landelike omgewing teen die rante van ‘n kleine dorpie, genaamd Weilheim (unter Teck), omtrent 30 minute uit Stuttgart, (die huis van Porche en Mercedes).

Wat my onmiddellik opval is die eenvormigheid van die woonhuise se boustyle hier, almal eenders met skuins, rooibruin dakke. Die natuur is prentjiemooi, met kersiebome (tans in seisoen) in volle drag. Die interessantste inwoners sit buite langs die paaie by kleine tafeltjies waarop talle bakkies rooi en swart kersies uitgestal word. Werklik ’n ongewone dog mooi gesig, en glo my, ‘n sappige, vars kersie is van die lekkerste vrug-ervarings wat ek nog gesmaak het.

 Met somerdae wat wissel in temperatuur, van reënerig tot sonskynweer, en waar die son saans eers byna 10 uur sak, kan ek eerlik sê dat ek baie hou van hierdie land en sy mense.  As ‘n fisieke ou wat buitelug-sport geniet, geniet ek natuurlik die langer dae. Na ‘n vol dag benut ek dus die menige fietsry paadjies deur die bosse en oor die heuwels hier, ten volle. En waardeer ek hul veilige land.

Ek woon aan huis by ‘n wonderlike gesin waar ek so tuis voel en waar die woord gasvryheid beslis sy oorsprong moes kry! Die gesin Mack het ’n pragtige huis in  Weilheim. My gasvrou is ‘n Suid-Afrikaner en sy spog met grootword-jare in Stellenbosch.  

Haar Duitse sakeman-eggenoot en hul twee tienerseuns (ja ek leer hulle Afrikaans!) is groot SA entoesiaste en gróót Stormers-ondersteuners. Ons eet  die varsste, lekkerste   brode met hul tradisionele bykos staatmakers: salami’s, verskillende tipes wors (wurst), ongelooflikste kase en dan natuurlik braai ons elke nou en dan ’n stukkie skaapvleis of boerewors (spesiaal gemaak) op die rooster, en ja, hulle gebruik regte hout!

Dit is wel in sekere dorpies en stede moeilik om die gedagte aan die wêreldoorlog verby te kyk, want dit is nog opsigtelik teenwoordig. Baie van die oorlog-beskadigde geboue is herstel om sodoende alle bewyse van daardie era toe te smeer. Dog is dit steeds duidelik sigbaar in sommige van die areas, met huise wat half-nuut-half-oud voorkom. Waar die huise of geboue deur bomme vernietig of beskadig is, is hulle op so manier herstel dat die oorspronklike boustyle steeds behoue gebly het.

Tans verruil ek my kort rugby broekie, ou hemp en groen waterdigte stewels wat as parsdrag gedien het, vir ’n netjiese broek,  ‘n in-die-mode knopieshemp en ’n paar blink, skerppunt skoene. Soms dra ek ’n das, maar dit is moeilik want sien, ek sukkel om die boonste knoop van my hemde toe kry!

 Ek is uiters bevoorreg om aanvaar te word vir n internskap by Mack & Schuhle, ’n wêreld-erkende maatskappy in internasionale wynhandel en –invoere. Waar kry ‘n wynmaker ooit die geleentheid (of tyd) tot ervaring in en kennis van internasionale wyn-bemarking en handel? Om nie eens te praat van die wynkenners-kontakte wat ek ontmoet nie.

Nou moet ek my oupa, At Jooste, se woorde destyds aan my as  jong Wilgenhoffer (ook sy plek)  aanhaal: “Chris, onthou: as jy saam met die hoë honde wil loop moet jy hoog kan pis!” (verskoon tog die Frans!) Ek verduidelik graag waarom die aanhaling in die konteks hier vanpas is:

In internasionale wyn-verkope moet jy verseker die hoë boom (of hond) wees, aangesien die kompetisie werklik geweldig mededingend en sterk is. Veral in Europa waar groot wyn-produserende lande soos Frankryk (die grootste wyn-produsent  ter wêreld), Italië, Spanje en Duitsland seëvier. Dit, tesame met wyne van die res van Europa, Australië, Chili, Argentinië, VSA, Nieu-Seeland en natuurlik,  Suid Afrika, wat ook iewers tussen die honde baklei,  maak ’n groot pak honde uit wat elkeen sy eie hap soek.

Dit is natuurlik heerlik gerieflik om hier na ’n supermark te gaan en die keuse te hê van globale wyne, maar watter wyn om te kies… dit is n ander storie.
Ek, as iemand wat al ietwat van die wyn-wêreld gesien, beleef en geleer het, sukkel self  om ’n keuse vanaf ’n wynrak te maak. Vir seker kyk mens na die prys en natuurlik probeer jy kwaliteit koop, maar weereens, watter bottel wyn kies jy nou? Is dit miskien die bottel wat soos ’n kersboom versier is met blink etikette? Ekself weet soms nie eens wat helfte van die etikette beteken nie. Of moet ek duurder betaal om sodoende dan ’n beter wyn te koop?

Hierdie tipe vrae besmet behoorlik die wynkoper se gedagtes en beïnvloed sy keuse. Daarom dink ek verseker is daar plek vir die gerieflike wyn-gidse soos ons eie John Platter gids en sy internasionale eweknie, die Parker gids.

Vir my is dit natuurlik baie toeganklik en uiters interessant om met talle wynkenners oor wyne te kan gesels en om wyne saam met hulle te kan proe en te  geniet. Glo my, hulle ken en geniet hul wyne, dog drink hulle self top kwaliteit wyne wat teen goeie pryse aangekoop word.

Dit is dan ook waar ek meeste van my kennis opdoen van spesiale asook goeie bekostigbare drink-wyne. Natuurlik is daar plek vir hoe prysklas wyne! In meeste wynkringe word hierdie wyne egter selde aangekoop, eerder uitgeruil of by spesiale wynproeë geproe. Hierdie dien as my basis vir myself as ek wyne aankoop. Dog soms is dit ook nodig om sommer net ‘n wyn uit die vuis te koop, want hoe anders gaan jy weet of die wyn in jou smaak val en of dit sommer net plein ondrinkbaar is! My ma se oom Ronnie Melck het destyds gesê: ” Die beste wyn, is in die glas voor jou!”

Bier is natuurlik in Duitsland gebore, volgens hulle. Die produk is verseker baie aangenaam en die verskeidenheid is groot! Interessant is die klein mikro brouerye in elke dorpie wat aan die orde van die dag is.

Duitsland het volgens my nie een bekende groot naam bier nie, soos ons Castle en Australië se Fosters bv, dog seëvier  Duitse biere in kwaliteit. Waarvan die lekkerste vir my, ‘n Weissbier is. Nou verstaan julle seker waarom ek sukkel met my hemde se bo –knoop…

Die Duitsers wat ek sover ontmoet het is ongelooflike mense. Al wat die algemene Duitser nodig het is n lekker glas wyn of ’n koue bier en hy is jou naaste vriend. Ja kyk, hulle is professionele bierdrinkers by uitstek. Ek het myself amper vasgeloop op ’n Saterdag in ‘n biertent. Nuwe ervaringe kan sy tol eis, veral vir ‘n gewillige ou soos ekke… minstens kon ek toe vlot Duits praat!

Met ’n heerlike glas Bordeaux (Saint-Emilion) in hand, my tuisgemaakte hoenderkerrie (my gasheer familie is tans op vakansie aan die Suidkus van Frankryk), voëltjies wat buite sing, en waar dit nou effe skemer word, beleef ek nog ‘n perfekte aand uit nog ‘n perfekte land. Ek groet julle met tog ‘n titsel verlange na my heimat. Maar ek is gelukkig,  bevoorreg en baie tevrede.

Aan die van julle wat nog twyfel om ‘n groot sprong te neem na ’n vreemde, onsekere toekoms om jou drome te bewaarheid: DOEN DIT!

Gooten tag!

Chris Swanepoel uit Duitsland

  • Neil

    Wat n man!

  • Steyn Fullard

    Wow Chris. Wat ‘n ongelooflike avontuur! Geniet elke oomblik en suig alles in sodat jy jou kennis bietjie kan kom oordra hierdie kant. Jou entoesiasme is aansteeklik en jy skryf ook nie te vrot nie 🙂

    Groete,

  • Maureen

    Chrissie – Ek is nie net jaloers op jou ervaring nie (ook die wyse waarop jy dieper as die oppervlak kyk), maar ook moers trots op jou!

  • Maureen

    Ek het nie besef jy het so ‘n wonderlike gawe om te skryf nie.Baie dankie vir ‘n kykie in jou ongelooflike
    ondervindinge en ons baie jaloers te maak doen so voort!

  • Janette Wiehahn

    Hi my liewe kind, Jy doen werklik die ervaring op wat enige wynmaker oor kan droom! Gebruik daai spons en absorbeer als wat jy kan!!!. Baie trots op jou en verlang.
    Jou peetma

  • Heidi Rousseau

    Chris, ek het net gou oopgemaak om te loer. Jy het my gevang en ek het nog heerlik saam gereis, gedrink en geeet. Jy het ‘n gawe. Baie dankie vir die wonderlike ervaringe wat jy met ons deel. Dit is spesiaal.