Diverse

Daar is tye dat nét jou land goed genoeg is

Ná al die jare voel ek steeds die leemte, want niks kan opmaak vir die hier wees nie. 1995 was Wêreldbekerrugby-jaar vir Suid-Afrika. Een wat ons nooit sal vergeet nie. Só besonders dat ons storie nou in ‘n Hollywood-rolprent omskep word.

Ná lang jare van isolasie was ons ywerig om die wêreld te wys dat ons nog onder die bestes tel. Maar waar sou ek my bevind? In die middel van die Namib-woestyn!

Ek was gebroke, in twee geskeur, want om foto’s te neem vir ‘n SARIE-bylae by Sossusvlei in die Namib, een van die mooiste plekke op die planeet, was ‘n voorreg. Maar my hart was by die huis. By die rugby. Met ‘n swaar gemoed het ek op die Cessna Namibië toe geklim.Toe, heel toevallig, hoor ons van iemand met ‘n klein skotteltjie op sy dak. Ons sou daar die wedstryd kon kyk.

Ek onthou daardie Saterdag – hitte by die 40 grade en ‘n woestynwind wat wolke sand opswiep. Ons wat sit op die vloer voor die TV, alte bewus van die druk op die span en die verwagtinge van ‘n hele nasie. Ellispark was stampvol en tussen swaaiende landsvlae deur het ek my familie en vriende in die skare gesoek.Toe die SAL se Boeing laag soos ‘n arend oor die stadion sweef, het die skare ontplof en ek was hoendervleis. Hier was iets aan ‘t gebeur – ons kon dit aanvoel duisende kilometers van die huis.

Die Bokke se oorwinning het die vreugdevure hoog laat brand. Jare se swaarkry was meteens vergete. Ons was die wêreldkampioen en skielik was alles moontlik.

En ek by Sossusvlei? Hoe voel jy as jou land, wat só lank die muishond van die wêreld was, oorwin? As ‘n span ‘n nasie se droom bewaarheid? En ons geliefde Madiba in ons kaptein se no. 6-trui op die veld verskyn. Jy huil skaamteloos. Trane van dankbaarheid en trane van hoop.

En toe hol ons soos kinders in daardie duine met die fynrooi sand rond. Van suiwer vreugde. Op ‘n sonnige dag in 1994 staan ek in ‘n vreemde hokkie by die ambassade, reg ommy kruisie te trek. Dis ‘n dag of so voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing.

Maar waar is ek? In Parys as gas van ‘n skoonheidsmaatskappy! Dis my gunsteling-stad, maar alles in my skree om by die huis te wees. In Suid-Afrika waar miljoene mense vir die eerste keer die voorreg sal hê om te stem.

Oorsee wil almal een ding weet: Sal die verkiesing vreedsaam wees, of sal dit deur geweld gekelder word? My land is op ‘n naaldpunt, glo baie, en ek voel die onsekerheid en spanning, derduisende kilometers van die huis. Die eerste beelde van die verkiesing hou my vasgenael voor die TV. Mense-toue, kilometers lank, kronkel deur die land op pad stembus toe – drie dae lank. Van oral kom miljoene mense om hul kruisies te trek en mekaar te onderskraag in ‘n gees van ubuntu.

Dis ‘n vry, demokratiese verkiesing. Vreedsaam. Hoe voel jy daar in die vreemde as jou mense oorwin in die aangesig van teenspoed? Teen alle voorspellings in die reënboognasie word? Jy huil uit dankbaarheid. Jy stort trane van hoop.

Op 22 April stem ons weer. Baie dinge het intussen verander,maar dit bly ‘n voorreg om te kan sê: My sê tel! So vir seker gaan ek stem, en dié keer is ek hier om die oomblik te ervaar.

En onthou om ons splinternuwewebtuiste te besoek: sarie.com. Vir my, jou en ons by SARIE lê daar nou ‘n hele nuwewêreld van gesels voor!

  • http://mczavxtctvpm.com/ kdjciiiglrg

    is8Cht vmsmvaalcjfu, [url=http://mdvmrloywcsa.com/]mdvmrloywcsa[/url], [link=http://xvytxdvwebbx.com/]xvytxdvwebbx[/link], http://bgfgbmqodxxj.com/