sarie_1
Diverse

Dave Pepler blog: ‘Dior: Smaak van die hoogste orde”

Somerset House lê knap teen die Teems en die oujaars-oggend toe ons daar instap het ligte sneeu begin val soos klein saadjies in die wind.  Ons het pas die Courtauld besoek, oorkant die binnehof, en was effe voosgekyk na een van die wêreld se mees sublime en gekonsentreerde kunsversamelings. 

Na die Courtuald, en veral die hemelse Gaugains, wil mens nooit weer gallerye op die “Prado-skaal” besoek nie.  Die oog, soos die neus, raak gou uitgeput na sóveel visuele oordaad en dít laat vergelykende oordeel eenvoudig afstomp.

Londen is deesdae ‘n skatkis van uitstallings gewy aan mode en ontwerp, waarvan die Ballets Russe en Leon Bakst-verkenning een van verlede jaar se hoogtepunte was.  Maar hier, weggesteek in Somerset House, was ‘n uitstalling vir die liefhebber van efemerata – ‘n retrospektief oor die kuns van Réne Gruau en meer spesekiek oor sy lewenslange samewerking met Christian Doir. 

Doir se grootste parfuum-skeppings het altyd die onmiskenbare hand van Gruau aan die etiket en verpakking getoon.

Ek vertaal vry uit die uitstalling-katalogus: “Réne Gruau (1909-2004) was die skepper van die mees oombliklik herkenbare en blywende mode- en skoonheids-beelde van die twintigste eeu.  Sy ikoniese illustrasies het ‘n era bepaal en ‘n nuwe gees van na-oorlogse modernisme en optimisme vasgevang.  Sy sterk lyne en vloeibare styl, eenvoudige plat vlakke van kleur en dapper benutting van negatiewe ruimte het ‘n nuwe grafiese styl van ‘n ganse nuwe generasie beïnvloed.  Saam met sy lewenslange vriend Christian Doir het Gruau ‘n vars ideaal van vroulike skoonheid bepaal, een van ‘n nuwe soort elegansie, verfyndheid en joie de vivre.”

Toe ons die uitstalling binnestap het ons skielik besef dat, soos mens kon verwag van ‘n samewerking met die huis van Dior en John Galliano (helaas nou Dior-loos na sy gruwelike ontsporings), mens hier te maak het met smaak van die hoogste orde.  Een na die ander oorspronklike Gruau-ontwerp, afgewissel met haute couture-skeppings uit elke spesefieke parfuum-era het die hele ruimte in suiwer teater omskep. 

Die Miss Doir illustrasie van 1949 met die slanke hand van Mitzah Bricard, vloeiend oor die poot van ‘n luiperd, die harige been van ‘n man vir Eau Sauvage van 1966, en die mooiste van almal, Diorella van 1972, moet verpligte kykstof word vir enigiemand wat in ontwerp belangstel.

Maar dit was gister, en mens vra jou af of die goddelike parfuums van Dior verdamp het met die afsterwe van beide Dior en Gruau.  Die antwoord?  Nee, duisendmaal nee – Doir bly steeds aan die spits en tel onder ‘n handjievol meesters van die kuns om jou verbeelding te verryk met reuke.

Moet mens Dior stormloop en net begin snuif?  Nee – ek dink daar is ‘n verborge orde in die parfuums van Dior, en stel voor dat mens begin by:

Dune:

Ek wens dat ek Luca Turin se elegansie oor hierdie meesterstuk kon naboots, maar laat my toe om hom aan te haal: “……  Dune maak sterk aanspraak op die titel van Skraal Skoonheid in die ganse parfumerie.  …met haar bekoorlike deursigtigheid, selfs varsheid, veral in die anysagtige wortelsaad bo-note.  Dis moeilik om vas te pen wat Dune so somber maak van bo tot onder: dis asof ‘n parfuum-akkoord omvorm is in ‘n Ligeti bondel-akkoord, afgewater van alle lewe, vleestonig in die vreemde kleur van kunsledemate, nie ware vlees nie.  Wonderbaarlik.”

Pure Poison Elixer:

Toe Poison die mark in 1985 getref het, het dit dieselfde impak van Yves St Laurent se Opium en ‘n jaar later, Estee Lauder se Cinnabar, gehad.  Hier was ‘n parfuum-kartets, ‘n stortvloed van oorryp geure – en verruklik daarby.  Mettertyd het Dior uitgebou op dié suskes en sogenaamde Poison-“flankers” het een na die ander verskyn.  En toe in 1996, word Pure Poison Elixer vrygestel, en na my neus het dit die oorspronklike oortref.  Daardie groen en effe bitter sitrus-note tref jou eerste, gevolg deur die allerbeste lemoenbloeisel op die mark, op ‘n basis van sandelhout, amber en vanilje.  Om vadersnaam dra dit as jy alleen is en nie naby kos kom nie – Poison is gif, behalwe vir haar loyale liefhebbers.


Escale à Pondichéry:

Meer ‘n cologne as parfuum, is hierdie een van die verfrissendste en wakker reuke in die Dior-stal.  Helder tee- en sitrus-geure aan die bo-note, word gevolg deur jasmyn en karamonk en dan, laastens, sandelhout.  Hierdie parfuum laat mens dink aan die geure van ‘n spesreyemark op ‘n loom moeson-wind.


Diorella
– Diorella is geformuleer toe beide Dior en Gruau nog geleef het en ek dink dat dit bes moontlik die mees volkome skepping van Christian Dior was.  Onlangs weer beskikbaar, is Diorella een van die groot cyphre-parfuums van alle tye.  Suurlemoen, bergamot en basilikum sweef oor ‘n hart van perske en kanferfoelie – heel onder skuil die hart van alle klassieke cyphres – eikemos en kuskusgras.  Verruklik.


La Collection Privée Christian Dior:
– Weggesteek, by slegs die allerbeste winkels kan jy toegang hê tot een van die mees verstommende versamelings van skaars en eksklusiewe parfuums op aarde.  Die enigste versameing wat hierby kom is Chanel se Les Exclusives-reeks.  Gaan ruik eerste aan Eau Noir, die absolute meesterstuk van die reeks.  Nog nooit het soethout, koffie, seder en vanilje só aan ‘n vel geruik nie.  Netso is Vétiver, Cologne Royale, Mitzah, Ambre Noir en Granville ewe indrukwekkend, veral omdat hulle so foutloos inmekaargesit is – selfs ‘n onge-oefende neus besef dadelik dat dit met meesterstukke te maak het.

En vir die mans?  Miskien moet ek ‘n hele storie net aan Dior se mansparfuum wy, maar ek moet darem net een noem.  As ek slegs een parfuum vir mans toegelaat word op ‘n woestyn-eiland sal dit Dior se Eau Sauvage wees.  Eau Sauvage is die getemperde sib van Diorella en ewe tydloos en klassiek.  Ontwerp deur Edmond Roudnitska in 1966, bly dit eenvoudig tydloos en bowenal elegant – die suiwer suurlemoen/roosmaryn/jasmyn en kuskusgras-note is ewe tuis by tweed of by hip hop-styl.

En as ek slegs een Dior-parfuum moet kies voor ek uit die brandende stad vlug?  Eau Noir sal dit wees, sonder enige twyfel want soos met ‘n serp van Hermes of ‘n koffer van Louis Vuitton is dit die toppunt van wat die mens met sy hande en verbeelding kan uitrig.

Dave Pepler