Diverse

Dave Pepler blog: Laag op laag genot van Jo Malone

Die opgedamde luukse in slegs één straat wys mens keer op keer net hoe vêr die gewone besoeker verwyder is van ‘n ander wêreld – een van absolute eksklusiwiteit en uniekheid. Stap dus Sloan Street binne vanaf Sloan Square en loop noord sodat die aanslag op die oog geleidelik gebeur. Gevestig, en nuut, meng in van die mees elegante verkoopsruimtes op aarde. 

Cartier, Gucci, Salvatore Ferragamo, Luis Vuitton, Bulgari, noem dit maar op – die allernuutste styl en ontwerp op ‘n spits gedryf. Halfpad straatop, op regterhand by nommer 150, verskyn ‘n hoekwinkel getooi in goud, room en swart. Die Regency argitektuur is her-interpreteer na ‘n gestroopte simmetrie – soel en elegant, ‘n moderne vertolking van sjiek.

Ek en Sarah het ‘n afspraak gehad, gereël uit Suid Afrika, en sommer met die intrap besef mens die sukses van Jo Malone is uitsluitlik geskoei op persoonlike aandag. Shanaz het ons ingewag met ‘n koppie kruie-tee en sonder om opdringerig te wees, die filosofie en benadering van Jo Malone uitgelê.
Jo Malon se winkel in London

Jare lank reeds ruik ek aan Jo Malone en jare lank is ek onseker oor waar om hierdie efemêre geure te plaas. Nes jy dink jy het een vir jouself geëien verander die geur skielik eendag aan jou vel en jy staan voor ‘n vreemdeling. Daar in Sloanstraat, met die volledige palet van geure, room en lug-parfuum byderhand het alles skielik duidelik geword toe Shanaz vir Sarah deur die Jo Malone Experience gelei het. Ek moes na London reis om Jo Malone te verstaan.

Die Jo Malone-experience in volle vaart!

Jo Malone se aanbod is groot, baie groot. Verdeel in groepe van sitrus, vrugtig, ligte blomagtig, blomagtig, speseryagtig en houtagtig is daar drie of vier samestellings in elke groep. Meeste van die reuke is dubbelsamestellings soos byvoorbeeld “Honeysuckle and Jasmine Cologne” en “Vanilla and Anise Cologne” en in hierdie kombinasies lê die sleutel tot Jo Malone. 

Slegs van die allerbeste komponente word gebruik, maar mens moet onthou dat hierdie samestellings hoofsaaklik akkoorde is en nie volledige parfuums nie. Die idee hieragter is dat elke persoon sy of haar eie samestellings kan maak en só deel word van ‘n eie kreatiewe proses.  

Niks verhoed jou nou om ‘n Jo Malone velroom as onderlaag te gebruik nie, en dit dan te kombineer met ‘n sproei cologne daaroor. En as jy ‘n volslae askeet en dekadent is soos Jean Des Esseintes in Joris-Karl Huysmans se A Rebours, kan jy met room, sproei en kerse laag op laag genot saamstel.

Nou dat ek verstaan hoe Jo Malone se geure werk, kan ek my gunstelinge uitlig.

Pomegranate Noir: Hierdie is ‘n ware parfuum en by verre my gunsteling. Veral die bo-note is hemels met granaat, pienk peper en framboos, gestapel op middelnote van pruim en hars – onder sluimer patchouli. 

Pomegranate Noir is ‘n meesterstuk en veral geskik vir die winter vermoed ek.  Dit vra om ‘n kaggelvuur en rooiwyn.

Vanilla and anise Cologne: Vanielje in ‘n geur-noot kan ‘n ete bederf of passie kortsluit. Uit die 60’s en 70’s onthou mens nog die goedkoop vanilje en muskus-konkoksies, so geliefd deur die hippes en blom-generasie – die enigste ontsnapping was om windop te staan. 

Maar hier het Jo Malone ‘n skitterende deursigtige kombinasie gemaak wat op sy eie kan staan, maar ook goed sal kombineer met ‘n vol blomgeur. Mans kan dit ook probeer.

Honeysuckle and Jasmine Cologne: Een van die mees onderskatte blomgeure is kanferfoelie. Hoekom plant ons nie meer van hierdie hemelse plante in ons tuine nie? Die geur is silwerskoon en heunigagtig, en lê bitter na aan katjiepiering. Gekombineer met jasmyn word dit iets buitengewoon.

Vintage Gardenia Cologne
: Van al die blomgeure bly katjiepiering my absolute gunsteling. Luca Turin het die opmerking gemaak dat mens vir jare aan ‘n geur kan ruik tot die dag wanneer iemand ‘n ooglopende komponent daarin uitwys. Skielik wonder mens waarom jy dit nog nooit waargeneem het nie. Ruik volgende keer aan ‘n vars katjiepiering en wat vind jy daarin verborge?  Sampioen!  Jo Malone se Vintage Gardenia is “dun” maar absoluut nootvas. Jy kan hierdie geur as basis bebruik by enige ander van die reeks.

Mens kan vir ewig aanhou oor die moontlike kombinasies van Jo Malone, want soos in alchemie, is die uitkomste so wyd soos die hemel. Tog dink ek dat ‘n eerste verkenning van Jo Malone moet begin by ‘n besoek. Gelukkig is daar twee winkels in Johannesburg by Hyde Park Shopping Center en Sandton City Shopping Centre. Nog beter, as jy weer in London kom, is ‘n besoek aan Sloan Street absoluut die moeite werd en onvergeetlik. Toe Jo Malone, maak ‘n tak oop in Kaapstad, dis mos nie reg om die Kapenaars af te skeep nie!

– Dave Pepler

  • Thea Grobler van der Nest

    Dankie vir hierdie wonderlike uiteensetting, Dave – ja, stem saam, Jo Malone se geure is ‘n ervaring onbeskryflik – was gelukkig om ‘n paar keer nuwe geure by Hyde Park te gaan beleef – dit neem jou na ‘n ander wêreld, ongeken, nie van hierdie wêreld nie – ek wens dit vir elke mens toe!