Diverse

Sarie.com-blogger Dave Pepler se besoek Ysland vir aardverwarming

Waar die gletser uitloop oor ’n gitswart moreen [gletserpuin], het ons gestop. In ’n houthut, met modderskoene by die deur, het ons aangesit vir ’n boerse middagete van bergforel en vloerbrood. Buite die vensters kon ek die boog van die gletserrand teen die horison sien, die matwit kleed van Vatnajökull, Ysland se grootste gletser. In die skuinslig van die noorde het die ys uit die skeure blou geglim.

Toe begin die tog oor die ys. ’n Mens moet versigtig wees, want as dit skielik begin sneeu, word aarde en hemel een. Land en lug verdwyn en jy voel skielik asof jy in ’n wolk vlieg. Jy kan voel hoe jou brein freneties patrone in die newels probeer soek.

Ek het eenkant gestaan en na die lewende ys probeer luister. Meedoënloos kruip die bevrore waters oor die bodem en kerf nuwe landskappe. En aan die soom dra water, so helder soos jenewer, die gemaalde klip na die see. Gletsers het ons eie Karoo gevorm in die oertyd – hulle werk stil en op ’n skaal wat die mens se lewe na ’n vonkie laat lyk.

Op pad terug het ek my gedagtes laat gaan oor een van die indrukwekkendste ondervindings van my lewe. Dit was nie net ’n dag van visuele indrukke nie, maar ook van afskeid en herinnering. Eenkant, op vars sneeu, het ek die name van my twee dogters in die sneeu geskryf, en langsaan ’n lok hare gelos van ’n vriend wat onlangs gesterf het. Terwyl ek terugstaan,het dit begin sneeu en my geliefdes is só vasgevang in die hart van die gletser.

Vatnajökull is ongeveer 8 000 vierkante kilometer groot, gemiddeld 400 meter diep en bevat dus ongeveer 3 600 kubieke kilometer vars water. Gletsers is die opgaardamme van die aarde, die vrieskaste. Diep in die hart van die gletser, vasgevang in klein lugborrels, is die lug wat ons voorouers ingeasem het.

Nou, onder my voete, het hierdie gletser begin smelt, soos ander regdeur die poolstreke. Nie teen die koers wat die natuur voorskryf nie, maar skrikwekkend versnel. Ek moes Ysland toe gaan om wakker te word en om sodoende my aandeel te meet aan ons gekneusde planeet.

Lees nog van Dave se blogs