dave_kleurfoto
Diverse

Dave Pepler blog: ‘Vyftien botteltjies vreugde’

Daar was ʼn apteek skuins oorkant die kerk, en hier, in ʼn enkele glaskas, was die blikkies, bottels en dosies wat die geur van die biduur, die skoudans en die kerkbazaar bepaal het.  Op hierdie dae het die tannies geruik na Yardley se Red Roses, Evening in Paris of soms na Goya se Black Rose.  Sovêr ek kan onthou, het niemand in ons dorp na parfuum geruik nie, ten minste nie na ware parfuum nie.

Waar ons dorp ontbreek het aan parfuum, het die uitbundige tuine opgemaak met ʼn geurpallet soos min.  Ons dorp was geseënd met formidabele tuiniers wat die Kleinkaroo makgemaak het met bergwater uit leivore, tuisgemaakte kompos en sweet.  “Deurmekaartuine” het my ouma hulle genoem; ʼn mengsel van die streng formele (soos dit ʼn gereformeerde gees betaam) en ʼn uitbundige mengsel van teksture, kleure en geure – mens vind dit in die allerbeste Engelse tuine soos Sissinghurst.  Paadjies het “borders’ gehad van heuningblom (Iberis spesies), daar was lemoensoet mignonette en fluweelrose soos Duftwolke daaragter – op ‘n stil dag het “Yesterday, today and tomorrow”, lemoene en suurlemoene eilande van geur geskep.  Met vrugtetyd kon jy die oes aan die boom ruik: koejawel, songebakte vye en Royal-appelkose.

Maar in die veld was dit ʼn ander storie.  As kinders het ons Saterdae in die voetheuwels van die Langeberge gaan stap, op soek na lenteblommetjies vir die voorhuis.  Die grootste prys was “Soekende basies”, ʼn klein room-en-bottergeel freesia.  Net ʼn handjievol kon die hele huis laat lekker ruik.  As kind het ek laas die reuk beleef en probeer tevergeefs onthou presies hoe dit geruik het.  En dan was daar my gunsteling, tot vandag, die naeltjies (Lapeirousia).  My ouma het ons veldtoe gestuur met ʼn emmertjie, halfvol water, waarin ons die naeltjies moes versamel.  By die huis het sy hulle versigtig uitgehaal, in ʼn vlak kristalbak laat dryf, en dit in die voorkamer geplaas.  Nét daar is die somber vertrek omskep in ʼn klein stukkie veld, die blommetjies ysblou op die water – ys op kristal, in kristal.

Daar was ook die reuk van num-numbloeisels, klein trossies roomgeel blommetjies tussen die naaldskerp dorings, ʼn oriëntale geur met speserye en jasmyn.  Onlangs het ek langs die pad na Ashton gestop, my neus in ʼn num-mum-bos gedruk en net vir ʼn oomblik was ek weer jonk.  Reuke doen dit mos.

Vandag ruik die platteland se dames anders, en veral nie meer na die poeiers van ouds nie.  Ongelukkig ruik meeste van hulle eenders omdat hier nognie ‘n parfuumkultuur bestaan nie, en bowenal, omdat die aanbod beperk is tot die oorbekende en veilige “reukwaters” wat herinner aan oorsoet muskus of wasgoedversagter.

Uit my parfuumkas moes ek toe kies, soos ek met mansgeure maak het.  Hoe op aarde kan ek Dior se goddelike Dune uitlaat, en wat van my geliefde Chanel #19?  Wat van Balmain se Vent Vert, Guerlain se Mitsouku en Hermes se 24 Faubourg?  Tog, na veel gesnuf en veel twyfel kon ek vyftien botteltjies uitpak – hier is hulle:

1. 31 Rue Cambon, Chanel (2007):

Alhoewel hierdie jong meesterstuk nognie die vuurdoop van tyd ondergaan het nie, is dit my gunsteling van alle tye.  Van die eerste oomblik tot die laaste is 31 Rue Cambon eenvoudig weergaloos.  Die parfumier Jaques Polge het hier gewerk met die suiwerste en duurste komponente op aarde en elke oomblik weerspieël hierdie kwaliteit.  Iris en peper?  Ja, ja, ja………

Bo-note: swartpeper
Middel-note: blomnote
Basisnote: iris- en cyphre-note

2. Cuir de Russie, Chanel (1927):

Nog ‘n Chanel uit hul verruklike Les Exclusifs-reeks, maar Cuir de Russie is reeds in 1927 geformuleer deur die Russiese meester Ernest Beaux.  Luca Turin meen dat die betowerende leer-noot afkomstig is van Russiese berkesap wat tot ‘n donker teer gereduseer word.  Ongeag van herkoms, fluister Cuir de Russie onverdunde luuksheid van begin tot einde.  Subtiel en manjifiek.

Bo-note: citusnote soos nartjie en gergamot
Middel-note: jasmyn, roos, ylang-ylang en hout
Basisnote: leer, tabak, wierook

3. Diorella, Dior (1972):

Diorella is ‘n geskiedenisles in die kuns van parfumerie.  Ses jaar vantevore het Edmond Roudnitska die grootse Eau Sauvage vir Dior gekomponeer, wat weer sy oorsprong in Le Parfum de Thérèse van gehad het. Hierdie was sy lofsang aan sy vrou Thérèse en is onlangs deur Frederic Malle in sy verstommende Editions de Parfums uitgegee. Aldrie hierdie parfuums is klassieke cyphres met sitrus wat op eikemos rus.  Deursigtig en silwerskoon.

Bo-note:
suurlemoen, basilikum, bergamot
Middel-note: perske (laktoon) en kanferfoelie
Basisnote: eikemos en kuskusgras

4. Carnal Flower, Dominic Ropion by Frederic Malle (2005)

Vandag kan chemici byna enige geur naboots – vanilje uit die proefbuis ruik na my mening beter as dié aan die peul.  Jy hoef nie meer diere te skiet of in hul agterstewe rond te krap om muskus te kry nie, die botteltjie op die rak is véél beter.  Daar is egter blomme wat alle pogings op nabootsing weerstaan, en soeteamaling (tuberoos) is die koppigste van almal.  Daarby is die rou absoluut van hierdie blom duurder as goud, duurder as platinum en word slegs in klein hoeveelhede geproduseer.  Carnal Flower bevat  meer absoluut as enige ander parfuum en as jy dit aanspuit weet jy dit.  Dis so na aan die waarheid dat mens die gevaarlike en dierlike ondertone van hierdie blom kan waarneem, maar dan word dit suiwer kuns omdat dit perfek gebalanseer word met jasmyn en lemoen.  Die paradys in ‘n klein botteltjie.

Bo-note: bergamot, waatlemoen, bloekom
Middel-note: ylang-ylang, jasmyn
Basisnote: soeteamaling absoluut, lemoenbloeisel, kokosneut

5. Shalimar, Guerlain (1925):

Shalimar, oftewel “Die huis van die liefde” is vermoen na die beroemde tuine en praalgraf naby Agra in Indië, die Taj Mahal.  Toe prinses Mumtaz skielik sterf het Keiser Sjahjahan al sy droefheid uitgestort in een van die aangrypendste konstruksies op aarde.  Só is die geur van Shalimar – onvergeetlik as jy dit eenmaal geruik het.  Die skoonheid kom, vreemd genoeg, van ‘n kunsmatige vanilje, etiel vanillin, beter as die ware jakob.  Dit oorweldig nooit, maar kruip ook nie weg nie – dié parfuum praat besigheid.

Bo-note: bergamot, nartjie, seder, suurlemoen
Middel-note: jasmyn, roos, iriswortel
Basisnote: vanilje, wierook, leer en balsam van Peru.

6. Vanilia, L”Artisam Parfumeur (1978).

Die Koningin van die Nag, Glenda Kemp, Lady Gaga, Daisy de Melcker, Me Winnie Mandela, Sarah Palin en Imelda Marcos is almal kandidate vir Vanilia.  Hierdie geur kan nie fluister nie want dit skree van die balke.  Hou weg van kos, babas, mense met longprobleme, snufferhonde en perde.  Vanilia is “over the top” maar absoluut briljant – vanilje uitgespel in neon.

Bo-note: ylang-ylang
Middel-note: sandelhout
Basisnote: amber

7. L’Air du desert Maroccain, Andy Tauer (2005)

Van alle nuwe stemme in die parfuum-wêreld is Andy Tauer die helderste.  Sy aandrang op die suiwerste komponente en ‘n onfeilbare neus maak al sy skeppings spesiaal.  Hy botelleer nog per hand, plak sy eie etikette aan, pak en versend.  Ek het lank moes kies om L’Air du desert Maroccain bo sy verruklike Orange star te plaas – Andy Tauer vertel dat sy inspiasie ‘n vroeg-aand in Marokko was, die warm woestynwind gemeng met die reuke van die souk in die verte.

Bo-note: koljander, kumynsaad, petit grain
Middel-note: rotsroos, jasmyn
Basisnote: seder, kuskusgras, amber

8. Tilda Swinton – Like this, Etat Libre d’Orange (2010)

Na ‘n homage aan Rossy de Palma , ‘n roosgeur vol elektriese vonke, is Etienne de Swardt se tweede selebritiet-geur toegewy aan Tilda Swinton.  Rietslank, bleek en met hare die kleur van ‘n ryp appelkoos, is sy enigmaties en geheimsinnig.  Netsoos haar esoteriese keuse van rolle is hierdie parfuum vêr buite die gewone.  Wat jou eerste tref is ‘n walm gemmer en pampoen, gevolg deur blomgeure en muskus.  Ek kan my nie ‘n winter indink sonder Like this nie.  Briljant!

Bo-note: nartjie, neroli, pampoen
Middel-note: gemmer, roos, spesery-note, soetwortel
Basisnote: kuskusgras, hout-note, heliotroop, muskus

9. Fracas, Robert Piguet (1948):

Daar is geen parfuum op die mark wat mens so oorrompel soos Fracas nie.  Germaine Cellier het veel klassieke gekomponeer, maar nie een bereik die hoogtes van Fracas nie.  Soeteamaling en lemoenbloeisel in perfekte harmonie – haute couture vir die neus.

Bo-note: lemoenbloeisel, groen note, bergamot
Middel-note: soeteamaling, jasmyn, iris, angelier, dal-lelie
Basisnote: sandelhout, seder, muskus, eikemos

10 & 11. Lolita Lempicka, Lolita Lempicka (1997) en Angel, Thierry Mugler (1992)

As jy gedink het dat Angel van Thierry Mugler die luidrigtige prima donna van warm sjokolade en fudge-reuke is, dink weer.  Hier is kompetisie, behalwe dat Lempicka anys en vrugte bygevoeg het.  Een van die gevaarlikste parfuums om te dra, want jy vee alles agter jou weg, maar as jy nie daarvoor omgee nie, eenvoudig wonderbaarlik.  Onheilige duo!

Lolita Lempicka:

Bo-note: pynappel, suurlemoen, anys, rooshout
Middel-note: dallelie, roos, jasmyn, soetwortel
Basisnote: amandel, tonka, vanilje, heliotroop
Thierry Mugler:

Bo-note: bergamot, nartjie
Middel-note: passievrug, perske, appelkoos
Basisnote: patchouli, vanilje, sjokolade, karamel

12. Juicy Couture, Juicy Couture

Eintlik ‘n modehuis wat eers later die parfuumwêreld betree het, is JC een van Amerika se voorste innoveerders.  Alles aan die parfuums is luidrigtig, die lettertipes Goot, die bottles lyk na goedkoop kraffies, die kartondosies tienerpienk.  Maar spuit hierdie kersboom aan, en jy het een van die beste soete-amaling-parfuums op aarde.  Dis jonk en vrugtig, die absolute teenpool van Fracas – nét die ding vir jonger dames, of die wat jonger van gees is.  Briljante bling!

Bo-note: waatlemoen, nartjie, passievrug, madeliefie, hiasint
Middel-note: soeteamaling, roos, lelie
Basisnote: caramel, vanilje, hout-note

13. White patchouli, Tom Ford (2008)

Kan Tom Ford enigiets verkeerd doen?  Dit wil nie so voorkom nie want sy parfuums is almal goed.  Meeste van sy parfuums is nie in Suid Afrika beskikbaar nie omdat ek vermoed die goed eenvoudig te duur is.  White patchouli is wel beskikbaar en dis een van sy bestes.  Ek ruik uiteraard die patchouli, maar êrens skuil daar iets wat my aan tuisgemaakte gemmerbier herinner.  ‘n Reuk kan nie meer somers as dié nie.

Bo-note: bergamot, koljander, jasmyn, pioen
Middel-note: roos
Basisnote: patchouli, hout-note, wierook, ambrette

14. Private Collection Tuberose Gardenia, Estee Lauder (2007)

Die huis van Estee Lauder het hier die ondenkbare reggekry.  Hierdie is ‘n mengsel van die twee prima donna assoluta’s van die blomgeure op aarde.  Op hul eie is soeteamaling en katjiepiering oordonderend, maar op een of ander manier leef hierdie twee vreedsaam saam in een bottel.  Kliphard, bottersag, luidkeels, fluisterend – briljant.

Bo-note: neroli, lila, rooshout
Middel-note: soeteamaling, katjiepiering, lemoenbloeisel, jasmyn, lelie
Basisnote: angelier, vanielje

15. Opium, Yves Saint Laurent (1977)

Wag vir ʼn snikhete somerdag in Februarie, waar die kwik bo 40C styg.  Betree in plattelandse kerkie sonder lugreëling en terwyl die gemeente regop staan en sing, maak jy ‘n seerower se speserykis oop.  Vars uit die ooste stort al die geure van stomerige woude.  Só ruik Opium, na al die jare steeds oorweldigend, na al die jare steeds een van die bestes.

Bo-note: kaneel, peper, lemoen, pimento
Middel-note: angelier, jasmyn, roos, ylang-ylang
Basisnote: vanielje, bensoien, patchouli, opoponax

Dave Pepler

  • d3 gold

    I wish to express some appreciation to this writer for bailing me out of this circumstance. Because of scouting through the online world and seeing suggestions which are not productive, I assumed my entire life was gone. Living minus the strategies to the difficulties you have resolved all through the article is a crucial case, as well as the ones that could have adversely affected my career if I hadn’t come across your web page. Your primary ability and kindness in playing with the whole thing was tremendous. I’m not sure what I would’ve done if I hadn’t discovered such a thing like this. It’s possible to at this moment look ahead to my future. Thanks so much for the high quality and sensible help. I will not be reluctant to recommend your blog to anybody who needs and wants guidance on this matter. d3 gold http://www.d3boy.com