Diverse

Dave Pepler blog: “Vyftien redes hoekom ‘n man kan lekker ruik”

My boekhou-onderwyser het na Old Spice geruik, baie Old Spice, en my ouma se broer, Oom Fanie, die skrynwerker, na stof en houtlym.  Oom Hans, ons buurman, het tweed gedra, Harris Tweed, en in die winterreën het hy na lanolien geruik en na die Brylcreem in sy styl hare, agtertoe gekam soos dié van Rudolph Valentino.  Die haarkapper het geruik na La Pebra’s, ‘n middel wat jou kuif kon anker in ‘n tifoon, en na die dun kersies waarmee ouer mans se nekhare geskroei is.

Stoormanne het geruik na die meelsakke wat hulle oor hul skouers gedra het, en skelmdrinkers na kruistementlekkers waarmee hulle die fel reuk van Jangroentjie, ‘n dodelike peperment-likeur, probeer verbloem het.  Oom Eksteen het Ritmeester-sigare gerook in ‘n leerstoel by ‘n kaggel en met ‘n glas whiskey in die hand……  Geen man in ons dorp het na parfuum geruik nie, géén.

En toe trek ek weg van my dorpie en word ‘n bosbouer in Zoeloeland.  Hier het mans geruik na terpentyn en diesel en saagsels en sweet, ‘n kombinasie wat net karbool en koolteer kon baasraak.  Hier het mans het na mans geruik.

Later, terug in die Kaap, ouer en gretig om verlore tyd in te haal, het ek tyd gehad om agter my neus aan te loop.  By die ou Garlicks in Adderleystaat kon mens parfuum koop op die grondvloer.  Ouer lesers sal die gepoetsde toonbanke onthou, elk met ‘n dame (There is nothing like a dame) daaragter.  Nêrens in Kaapstad was daar soveel opgedamde hauteur in een ruimte nie.  Wasbleek gepoeier, met ‘n bevrore kapsel en ‘n granaatrooi mond het hulle die rykes bedien en alle ander verbygangers geïgnoreer.  Maar wat daar wel was, was parfuum – van die beste op aarde.  Toe ek eendag deur die newel van Balmain se Jolie Madame (die ou formulering) stap het ek geweet dat hierdie alchemistiese konkoksies aan kuns grens – my neus het eensklaps aangeskakel.

Oor die jare heen het ek, soos ‘n dier, die wind agter stappers besnuif en ‘n repertorium opgebou van geure wat by mans en dames “pas”.  Hoe “pas” ‘n geur?  Waarna sal Jonathan Rhys Meyers ruik – Hugo Boss?  Sal Madiba naskeer gebruik?  Tot vandag kan ek hierdie vraag nie beantwoord nie, maar één ding is seker – daar is ‘n geur vir elke man, jy moet hom net soek.

Ek moes hard dink om my persoonlike keuse aan parfuum vir mans.  Na ek ‘n hele aand deur my geur-biblioteek (osmoteek?) gekrap het, moes ek die finale keuse tot 15 beperk; hier is hulle:

1. Agua Brava, Puig (1968):

My heel eerste aankoop en blywende gunsteling.  Agua Brava ruik na gekneusde kruie en suurlemoen en na hoogsomer op ‘n eiland.  Net beskikbaar in Spanje, so koop in as jy daar is.

Bo-note: salie, laventel, lemoen en jenewer
Middel-note: lourier, den, pienk peper
Basisnote: muskus, sandelhout kuskusgras en leer

2. Pour Monsieur, Chanel (1955):

Franse elegansie op sy fynste – hierdie klassieke Chanel ruik jy eers as jy naby aan die draer kom.  Seepskoon sitrus bo-note wat vining gaan lê op ‘n basis van die allerbeste eikemos op die mark.

Bo-note: suurlemoen, neroli, lemoen
Middel-note: karamonk, koljander, basilikum, gemmer
Basisnote: seder, eikemos

3. M7, Yves Saint Laurent (2002)

Soos ek hier sit en skryf het ek ‘n titsel M7 aan ‘n papierstrokie gespuit, net om my te herinner hoe briljant dit is.  Hiérdie was Tom Ford se eerste parfuum vir YSL en mens lees reeds hier die spore van sy eie suksesvolle naamreeks.  Duur en opulent – M7 het agar-hout aan die massas bekendgestel – vandag is dit algemeen.

Bo-note: bergamot, naartjie uit Sisiliëe, roosmaryn
Middel-note:  agar-hout, kuskusgras
Basisnote: amber, muskus

4. Bandit, Robert Piguet (1944)

Naas Fracas, staan Bandit van Germain Cellier aan die kroon van die meesterstukke van die jare 40.  Alhoewel Bandit as vroue-parfuum bemark is, is die modern herformulering ewe geskik vir mans.  Dis bitter en kurkdroog en sekerlik die allerbeste leer-parfuum op aarde.  Net Etat Libre d’Orange se Rien kom naby.

Bo-note: artemesia, bergamot, katjiepiering, aldëide
Middel-note: jasmyn, roos, angelier, iriswortel (Florentynse lisblom)
Basisnote: kuskusgras, bewer-musk, patchouli-ment

5. Timbuktu, L’Artisan Parfumeur (2004)

L’Artisan Parfumeur was nog altyd ‘n parfuum-buiteperd met hul ongewone reuke.  Basta! sê hulle vir die klassieke vorme en spits hulle toe op omgewingsreuke soos ‘n rivier in Bhutan (Dzonka), ‘n biblioteek met ou leerboeke (Dzing) en ‘n speseryroete in die Sahara, soos met Timbuktu.  Seker een van die mees bekoorlike geure op aarde, met bybelse komponente soos mire en bensoiën-hars.

Bo-note: groen mango, pienk peper, karamonk,
Middel-note: wierook, karo karounde, papirus
Basisnote: patchouli-ment, mire, kusksusgras, bensoiën-hars

6. Lonestar Memories, Andy Tauer (2004)

‘n Parfuum wat na ‘n cowboy se saal ruik – rook, koffie en leer?  Andy Tauer is die nuwe stem in parfuum en gaan nog een van die grootstes word.  ‘n Chemikus van beroep, met ‘n liefde vir outentieke komponente en onberispelike kwaliteit is hy besig om van die mees gesogte geure op aarde te skep.  As ‘n vriend van Mandy Aftel, kan mens net meer en meer innovering verwag.  Hou hierdie man dop!

Bo-note: wortelsaad, salie, malva
Middel-note: berke-teer, jasmyn, seder, rotsroos
Basisnote: mirre, kuskusgras, sandelhout, tonkaboontjie

7. Habit Rouge, Guerlain (1965)

Luca Turin se ráák en perfekte beskrywing van hierdie Guerlain–klassiek is: “Sweet dust”.  Dink aan koringstof wat gaan lê op ‘n bedding van effe-soet hars en leer.  Miskien ‘n bietjie soet vir die modern neus, maar ek dink jong menses al hiervan hou.

Bo-note: suurlemoen, naartjie, bergamot, rooshout
Middel-note: kaneel, patchouli, seder, angelier
Basisnote: vanilje, amber, leer, bensoien

8. Rien, Etat Libre d’Orange (2009)

Tipies Etienne de Swardt, noem hy hierdie briljante leer-cyphre Rien (niks) – dis vêr van niks.  Naas Bandit beskou ek dit as een van die voorste leernoot-parfuums op die mark vandag.  Die jong parfumier Antoine Lie is die skepper van hierdie nuwe klassiek en ek dink mens kan nog groot goed van hom verwag.  Alhoewel genadeloos bitter en gestroop, skuil daar ‘n sjiek hart in Rien.

Bo-note: roos, iris, swart peper, aldëide
Middel-note: rotsroos, “mousse de chene”
Basisnote: amber, patchouli, kumynesaad,

9. Fat Electrician, Etat Libre d’Orange (201)

Bly sommer by Etat Libre d’Orange vir die volgende geur – Fat Electrician.  Kuskusgras was nog altyd een van my gunstelinggeure en naas Vetiver van Guerlain is hierdie een van die allerbeste.  By eerste neusopslag ruik dit effe benoud, byna soos ‘n wynkelder.  Maar dan, soos die parfuum op die vel ontwikkel, blom dit na ‘n vrugtige en ryk komposisie.  ‘n Wintergeur om saam met swaar wolklere en ‘n serp te dra – met elke beweging sal Fat Electrician ‘uitloer’ en jou opnuut bekoor.

Bo-note: opoponax, onbekende geure
Middel-note: vanilje plus hemel-weet-wat
Basisnote: kuskusgras, mirre

10. Black, Bulgari (1998)

Black het ‘n baie kortstondihe raklewe gehad.  Met die vrystelling is daar is voorspel dat die hier was om te bly en dat dit ‘n kits-klassiek was.  Laasgemoemde was reg.  Tot vandag deins mense terug as ek hierdie fabelagtige geur aan hulle voorstel – rubber en rook in die bo-note?  Jy wil byna onwillekeurig wegkom van Black en dan, na ‘n minuut wil jy met alle geweld weer terug.  Ontwerp as damesgeur, vermoed ek dat dit veel eerder sal werk by ‘n man.  Dis eindeloos kompleks en verras ure na die aanspuit.  Indien jy ‘n bottle sou raakloop, koop dit onmiddelik – dis hoogkuns in’n bottle.

Bo-note: “groen” note, bergamot
Middel-note: jasmyn, sederhout, sandelhout
Basisnote: leer, amber, muskus, vanilje.

11. Artek Standard, Comme des Garçons (2010)

Comme des Garçons het nog nooit toegegee aan enige konvensie met die maak van parfuum nie.  Daar is wonderlike goed hier, sommige ruik na ‘n pas uitgeblaasde kersvlamme en ander na gotiese katedrale.  Sommige van hul parfuums is uitsluitlik sinteties en het name soos Garage.  Artek Standard is een van die mees ongewone parfuums op aarde wat ruik na houtskaafsels, stopverf en na lynolie.  Dis bleddie goed.

Bo-note: rokerige tee, metaalnote,
Middel-note: vinkel, gemmer, suurlemoen
Basisnote: seder, saffraan, muskus.

12. Eau Sauvage, Dior (1966)

My vriend uit die 1970’s, Stoffel, het altyd na Eau Sauvage geruik.  Stoffel was lank en pynlik aantreklik, was lief vir sagte wolbaadjies en het altyd gelyk asof Harper’s Bazaar hom aangetrek het – hy sou perfek by Tilda Swinton gepas het.  Só ‘n man dra Eau Sauvage.  Eenvoudig wêreldklas.

Bo-note:
suurlemoen, roosmaryn, basilikum, petitgrain
Middel-note: jasmyn, roos, angelier, iris
Basisnote: eikemos

13. Vetiver, Guerlain (1959)

Sou ek toegelaat word om net een geur saam met my te dra as ek uit ‘n brandende stad moes vlug, dan sal die ‘n botteltjie met kuskusgras-distellaat wees.  Groen en rokerig en aards – kuskusgras is roekeloos eerlik en getou aan die rou plantreuk.  Van die dosyne kuskusgras-parfuums op die mark, toring Vetiver loshande bo almal.

Bo-note: suurlemoen, naartjie, neroli, koljander
Middel-note: kuskusgras, salie, sandelhout, angelier
Basisnote: mire, soethout

14. Eau Noir, Dior (2010)

Van al die parfuum-vrystellings die afgelope tien jaar is hierdie een verreweg my gunsteling.  Absoluut enigmaties, donker en smeulend – geen ander parfuum bekand aan my het dít al reggekry met soethout nie.  Eau Noir is ‘n midwinter-parfuum vir dames en ‘n heeljaar-wenner vir mans.  Duur en eksklusief – dit straal eenvoudig kwaliteit en sofistikering.

Bo-note: hoofsaaklik laventel
Middel-note: soethout (liquorice)
Basisnote: vanilje en Amerikaanse seder

15. Breath of God, Gorilla Perfumes (2009)

Ek sou wát wou gee om presies te weet waaruit hierdie meesterlike parfuum bestaan –my uiteensetting hieronder is bloot raaiskote.  Wat wel waar is, is dat Lush, wat eintlik bekend is vir gegeurde kerse en seep, uit die bloute met hierdie betowerende maaksel te voorskyn gekom het.  Die twee geure wat my absoluut boei is die kombinasie van kuskusgras en waatlemoen.  Dis goedkoop, aards en dis klassiek – wanner jy weer in London kom, koop twee bottels.

Bo-note: suurlemoen, neroli
Middel-note: jasmyn, roos, kuskusgras
Basisnote: sandelhout, amber, muskus

Dave Pepler