dave_kleurfoto
Diverse

Dave Pepler blog: ‘Yves St Laurent – gebroke meester’

Die jong Yves St Laurent het die modewêreld aan sy voete gehad met sy geniale herinterpretasie van sy tyd en sy sensitiewe polsing van die subkultuur van daardie era.  Neem “Le smoking”, toe hy rietskraal modelle in perfek gesnyde manspakke geklee het (mens moet darem ook Marlene Dietrich hiervoor krediet gee), sy slooprokke met Mondrian-motiewe en die skeppings wat ingespeel het op Picasso, Matisse en Warhol. 

Paryse hoëmode was nog nooit só gedrewe deur beide opgedamde kreatiwiteit en ‘n koorsagtige afwagting vir elke nuwe vertoning van die skaam man se nuutste skeppings nie. Selfs toe reeds was St Laurent al emosioneel broos en niemand kon voorspel of hy selfs sy eie openings sou bywoon nie.  In die vroeg 1970’s het daardie pynlik beeldskone aktrise, Cathrine Deneuve (dink aan haar St Laurent uitrustings in Belle du Jour en veral The Hunger) het sy muse geword en tot sy dood het hy altyd aan haar arm verskyn, bleek en bang.

Maar hoekom juis 1976? Want dit was die jaar toe Yves St Laurent die Ballets Russe as inspirasie en tema vir sy modelyn gekies het.  Toe Serge Diagilev se Ballets Russe die wêreld in 1909 getref het was gehore sprakeloos.  Nuwe musiek van Stravinski, Debussy, Satie en de Falla het danse en dansers losgemaak van stywe formaliteite in die dans.  Skielik was daar mans wat soos vroue gedans het – Nijinski, ten spyte van sy bonkige en boerse liggaam kon die grootste teerheid projekteer – en vroue soos Pavlova, Karsavina en Markova het gedanks met die rou energie en emosie van “A streetcar named desire”.

By hierdie byna bronstige styl het Diagilev van die grootste skeppende geeste van die eeu bygewerk as ontwerpers van stel en kostuum.  Binne die twintig jaar van die Ballets Russe se bestaan het Tchelichev, de Chiroco, Picasso, Chanel en Miró bygedra, maar een figuur troon tot vandag nog bo almal uit.  Die kostuums van Leon Bakst bly van die allermooiste wat nog ooit op ‘n verhoog vertoon is.  Met lappe so geil soos oosterse matte, snitte wat spier en tepel roekeloos vertoon het en woeste hare vol blinkers het die kostuums net soveel geskok as die temas en musiek.  In 1909 tref Anton Arensky se ballet Cléopatre die verhoog, met choreografie deur Fokine en in die hoofrol, Ida Rubenstein.

Kyk nou na Leon Bakst se ontwerp vir Rubenstein se kostuum, die oosterse rooi van die romppanele, die goud en die geel.  Het Yves St Laurent na hierdie ontwerp gekyk toe hy die parfuum Opium bedink het?  Ek is absoluut oortuig daarvan, in teenstelling met die tradisionele storie dat hy ‘n ode aan China wou skep.  Net ‘n jaar na sy Ballets Russe-versameling verskyn Opium op die rakke in 1977 en word oornag die grootste parfuum-sensasie van alle tye.

Sou jy ‘n bottle besit, gaan haal dit en spuit die warm binnekant van jou pols.  Kaneel en peper tref jou eerste, jasmyn en roos daarna (byna in alle YSL-parfuums) en dan in die droogword, vanilje, benzoin en patchouli.  So?  Estee Lauder se Cinnabar (1978) en Guerlain se Samsara (1989) ruik baie dieselfde.  Ja, dis waar, maar Opium se afronding en oorgange is sonder weerga en sal vir tyd en ewigheid staan as reuk verhef tot kunsvorm.  Al dra jy dit nie gereeld dra nie, koop ‘n klein botteltjie en hou dit vir ‘n winternag by ‘n houtvuur………

In dieselfde liga, maar nie naastenby so bekend nie, is M7, na my mening een van die allergrootste parfuums vir mans.  Ek is altyd verbaas dat meeste mans dit somber vind, te swaar en lomp.  Maar ek vind dit romerig en kompleks, met ‘n hart van edel houtsoorte soos oud en agar, vasgevang tussen lemoen-en roosmaryn aan die bo-note en amber by die basis.  Dis byna om soos aan ‘n praline-sjokolade te byt.  Tom Ford was aan die stuur met die ontwikkeling van M7 en mens kan die aanloop tot sy huidige sukses met parfuum reeds hier opmerk.  Koop ‘n bottle M7 voor dit verdwyn en hou dit in jou kas – eendag gaan dit raakgesien en erken word vir die meesterstuk wat dit is.

In teenstelling met eweknie-modehuise soos Dior en Chanel is YSL se parfuum-aanbod klein.  Daarby bly meeste van hulle jare in produksie, wat beteken dat hulle nie ontwerp is as eendagsvlieë nie, maar eerder as stylstellings.

Kouros (1981):  ‘n Kort kop agter M7 in trefkrag maar steeds in my top vyf mansgeure van alle tye.  Waar M7 smeul, is Kouros helder en aards.  Koljander en lemoengeure skyn in die bo-note, gevolg deur malva, jasmyn en angelier, en laastens, met amber en kuskusgras.  Dis ‘n geur vir die somer – ‘n jong man, na die dag in die son en branders, sal met koue water stort en na Kouros gryp op pad uit.

Elle (2007):  Ek moet erken dat ek gladnie ‘n voorliefde vir roosgeur  in ‘n parfuum het nie.  Roosgeure is moeilik om uit die blom te onttrek en dit ruik meestal gekook en bedompig, soos by goedkoop seep en rooswater in plastiekbottels.  Net nou-en-dan verras dit, soos by Jo Malone se Red Roses, waar jy die gesnyde stingel kan ruik, en ook hier by Elle.  Nie ‘n tradisionele roosgeur nie, maar versny met skoon peper en efemere hout.

Paris (1983):  Tipies van die 1980’s YSL-parfuums is Paris ‘n veld van rose.  Persoonlik vind ek dit oorweldigend maar ek kan die pragtige struktuur nie ontken nie.  Paris begin met ‘n ruiker van mimosa (op ‘n haar na ons eie doringbome in blom) en gekneusde malvablare en vorder dan na die ryk hart van roos en dallelie.  Dis deesdae ‘n bietjie outyds en ek sal nie wil wyn proe naby ‘n oop bottle hiervan nie.  Maar as jy wil retro aantrek uit die 80’s, spuit Paris, en spuit baie.
Belle d’Opium (2010):  Die Engelse praat van ‘n “flanker” as ‘n nisparfuum wat probeer uitbou op die roem of goeie verkope van ‘n topverkoper.  Die mark is propvol voorbeelde hiervan, en ek ruik gewoonlik lont as ek dit raaksien.  Dis byna soos om ‘n Rembrand skildery na te boots met “paint by numbers”.  Ongelukkig val Belle d”Opium vir my in hierdie groep want dit verwys na abslouut niks wat Opium so manjifiek gemaak het nie.  Dit ruik my na vrugte eerder as blomme, en ek vind bitter min van die katjiepiering, edel hars en sandelhout wat dit moet bevat.  As skepping is dit interessant en somers, maar as suster van Opium werk dit eenvoudig nie.

Teen die einde van sy lewe was Yves St Laurent ‘n baie siek man.  Hy was asbleek en bewerig, die tol van ‘n leeftyd se stryd met alkohol en dwelms duidelik aan sy ontwykende blik en swaar praak te bespeur (sy lewensmaat Pierre Berge het altyd volgehou dat Yves met ‘n senuinstorting gebore is).  In een van sy laaste televisie-onderhoude, met die lieflike Cathrine Deneuva aan sy arm, is hy gevra wat sy allergrootste uitdaging was.  Hy het duidelik na woorde gesoek en sukkelend het hy geantwoord “Meneer, dit is so bitter moeilik om iets te laat maklik lyk”.

Geen mens kan ‘n YSL-rok deesdae bekostig nie, maar jy kan wel iets van sy meesterskap in ‘n bottel besit.

Dave Pepler

  • Carla Swanson

    Sjoe, Dave, ek was nog altyd ‘n Opium-bewonderaar. Dankie vir die kykie (en ruikie) na binne.

  • KarenS

    M7 is ‘n fantastiese geur…en so onderskat! Ek stel dit gereeld aan mansvriende voor, en dra dit ook nou en dan!