Diverse

Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk

Rooi is rooi is rooi. Maar as dit kom by reuke, raak dinge moeilker. Kyk gerus wat gebeur as ‘n aantal mense ‘n onbekende reuk moet beskryf – is dit toffie, of amber, of roos?  Daar is bitter min vaste reuke, onmiskenbaar en uniek.

By parfuum is dit effe makliker, want daar is groeperings van reuke wat dadelik herkenbaar is, en dit bestaan gewoonlik uit geur-note en families.  As dit by note kom, lyk dit só:

* Blomnote – blomme, sagte blomme

* Oosters – oosters, sag oosters

* Houtagtig – mosagtige hout, droeë hout

* Vars – groen, water en sitrus

Só lyk die geurwiel

Geurwiel

By byna alle parfuums word note gekombineer in “lae” om bo-, middel- en basisnote te vorm, waar mens die bo-noot eerste waarneem, die middelnoot kom te voorskyn nadat die eerste indruk verdwyn, en dan die sogenaamde “drydown”, die blywende indruk van die parfuum.

Teen 1900 het die klassieke klassifikasies ingetree en mens kon dus parfuums indeel as volg:

1.1       Enkel blomgeur – Fracas van Robert Piguet is ‘n skitterende voorbeeld, met tuberoos as dominante geur.

1.2       Blom-boeket – Victorian posy van Penhaligon

1.3       OostersGuerlain se Shalimar troon hier uit met sublieme vanielje en amber

1.4       Houtagtig – Standard van Comme des Garcons

1.5       Leer – Die meesterstuk van Robert Piguet, Bandit, of Rien van Etat libre d’Orange

1.6       Cypre (uitgespreek seefre) – Mitsouko van Guerlain, en, laastens

1.7       Fourgère – laventel en boom-mos domineer met Cartier se Roadster ‘n goeie voorbeeld

Deesdae het moderne en nuwe klassifikasies ingetree, met sintetiese wonders wat water naboots (Davidoff se Cool Water), groen soos in Chanel No.19, lekkerbek-geure soos by Thierry Mugler se Angel en ook die onklassifiseerbare, die randfigure soos Bulgari se hemelse Black, Timbuktu van L’Artisan Parfumeur en die ontstellende Secretions Maginfique van Etat libre d’Orange.

Nou is daar genoeg gepreek, en vanaf volgende week sal ons begin om die ware reënboog van parfuum te verken – noot vir noot en groep vir groep.

Bronne:

Robert Piguet – http://www.robertpiguetparfums.com

Penhaligon – www.penhaligons.co.uk

Guerlain – www.guerlain.com

Comme des Garcons – www.doverstreetmarket.com

Etat libre d’Orange – www.etatlibredorange.com

Cartier – www.cartier.com

Davidoff – www.zinodavidoff.com

Chanel – www.chanel.com

Artisan parfumeur – www.artisanparfumeur.com