sr1111karoo_fracking
Diverse

Dawid Kramer: “Die Karoo is hard maar pragtig”

“Ek het aan die randjie van die Karoo op Worcester grootgeword en daarom lê dié deel en sy mense my so na aan die hart.

“Die Karoo is ’n wonderlike bron van inspirasie vir my en my werk as liedjieskrywer. Ek het al baie geskryf oor hoe dié wêreld en sy mense lyk, en verskeie karakters in my produksies is op Karoomense geskoei. Ek het selfs al ’n dokumentêre reeks, Karoo Kitaar Blues, oor die musiekmakers van die Karoo gemaak.

“Dié deel het so ’n unieke lewenswyse – hard, maar pragtig – en ’n ongewone kultuur. Ek kan nie dink wat sal gebeur as die oliemaatskappye daar gaan frack nie. Die mense se lewenswyse sal verdwyn. En ja, hulle praat van werkskepping, maar dit sal nie vir die ou wees wat nou daar woon
nie. Wat gaan word van die skaapskeerder en die draadspanner?

“Om nie eens te praat van wat al die trokke aan die omgewing gaan doen nie, en die miljoene liters water wat uit daardie skaars bronne gevat gaan word.

“Elke mens put energie daaruit om tyd in die natuur deur te bring, onder die sterre. Die oop ruimtes, natuurskoon en stilte in die Karoo is te kosbaar om vernietig te word.”