Diverse

Deuntjie

Terwyl die man so staan en skryf, loer hy onderlangs na my en vra: “Het u alle persoonlike besittings uit die motor verwyder?”

“Ja,” reken ek.

“Het u u CD’s uitgehaal?” gaan hy voort.

“Nee,” sê ek, “maar niemand sal tog my CD’s steel nie.”

“Ek dink u moet dit maar liewer verwyder,” sê hy geïrriteerd- taktvol. En ek herhaal: “Niemand sal my CD’s wil steel nie.”

Hy skud sy kop, stap na die motor, draai die sleutel en druk die CD-knoppie. Dit begin dadelik speel, ’n pragtige opname van die aandgesang deur die koor van die NG Kerk Aasvoëlkop. Hy luister ’n rukkie en druk weer die knoppie en die koor sing “O, lieflike Sion”. Daarna Wagner se Venusberg-musiek. Toe skakel hy summier af en sê: “U kan dié CD’s maar laat bly.”

Ek het stilletjies agter sy rug gelag. Mos gesê!

My tipe musiek – darem nie altyd so serijeus nie – is nie juis op die trefferkaart nie. Buitendien het ek al gewonder wat met my aan die gang is, veral nou dat ek ouer word: Allerlei simpel deuntjies van doeriejare draai deur my kop. Laas Saterdag loop ek deur ’n groentewinkel in Dunkeld, Johannesburg, en daar lê groot, oopgesnyde rooi waatlemoene. En skielik hoor sing ek die groenteverkopers van die Paarl weer op hul groentekarretjies soos hulle deur die strate ry: Die waatlamoene ennie waatlamoene, hies die lekke waatlamoene/ soe rooi soes bloed, soe sykersoet/ hies die lekke waatlamoene!

Ek kan die vervlakste deuntjie sedert Saterdag nie uit my kop kry nie. Dis vandag Dinsdag en die “waatlamoene” hou nog aan met sing! Dan, op ’n oggend, skielik, sal dit verdwyn en ’n ander deuntjie sy plek neem: Die Maties wen, die Maties wen, intervarsity! Of: Hou jou roksak toe! Ensovoort.

Ad infi nitum. Gewone ou goed, dikwels uit vergange se dae (dalk simptomaties van mooi tye of van dormante kindsgeit).

Dikwels vervelig en selfs rugbybus-skurf. Maar ook onsin wat hulle as Afrikaanse “rock” oor RSG uitsaai, kry êrens ’n inkomplek soos die “waatlamoene”.

Wat my laat wonder: Hoekom doen ’n mens se brein dit? Van ek baie jonk is, wurm vervelige deuntjies hul pad na my onderbewuste om te bly. En te oordeel na hoe die mense rondom my skielik ook dié niksseggende goed begin sing, is ek nie die enigste deuntjie-dwaas nie.

Buitendien: Hoe kry simpel gedagtes hul plek in ’n mens se kop? Hoe kry aaklige bekommernisse ’n nes in jou gedagtes? Hoe is dit dat skielike onnodige en eintlik verspotte vrese soos ’n aaklige refrein deur jou gemoed maal?

 Hoekom kry dit nie end nie? Ek vermoed ons laat hulle alte gemaklik toe en draai hulle nie dadelik nek om met ’n positiewe deuntjie nie.

Ek het een oggend na my kantoor gery nadat ons die naweek ’n uiters swak koerant op straat gehad het. Ek wou die hoofredaksie daaroor kapittel, maar op pad het Worsie Visser Boesmanland, vat my hand gesing. En die vervelige woorde het bly draal en ek was so geïrriteerd deur die ellendige deuntjie dat ek totaal van die swak koerant vergeet het! (Tot die nuusredakteur se groot verligting, soos ek later gehoor het.)

Want simpel deuntjies het soms hul waarde. En ek het ook uitgevind dat daar maniere is om hulle hok te slaan. Lê jou net daarop toe om die deuntjie te verander.

Byvoorbeeld, met die einste aandgesang van flussies, op die ou pragtige liederewysie (Liedboek 563): Ek weet aan wie’k my toevertrou het/al wissel dan ook dag en nag. Ek ken die Rots op wie’k gebou het/van wie ek al my heil verwag … Sing dit ’n paar maal hardop. Dit dryf nie net simpel wysies weg nie, maar ook vrese en bekommernis.

Daar is ure se verheffende musiek wat die duiwel op loop sit, soos Luther gesê het.

(Maar op die oomblik is die stryd tussen die aandgesang en die waatlamoene nog aan die gang in my kop.)