Diverse

Die feetjie-ma

Sy het vir almal geglimlag, en by die feetjie-skool het sy raakgevat. Sy was een van die onderwyseresse en al die kleintjies het om haar gedraai soos bytjies om ’n blom. Sy het altyd vir almal iets lekkers in haar sak gehad.

Tuis het sy feetjie-kos gemaak, haar huis pragtig skoongehou en feetjie-skilderye versamel. Wanneer haar man oggens opgestaan en sy die kinders versorg het, het elkeen se feetjie-brekfis vir hulle gewag. Dan het elke klein feetjie sy/haar sakkie gevat en saam met Mamma skool toe gegaan.

Feetjie-ma het die mooiste klere gemaak. Rokkies met kant en broekies en hempies met fyn patroontjies op geborduur. Sy was ook die voorsitter van die feetjie-VLU en ’n diaken in die feetjie-kerk. Sy het gesorg vir die blommerangskikkings by groot feetjie-geleenthede.

Haar kinders was stroopsoet, soos die suiker van die blommetjies in die woud. Haar man het saans lekker op die stoep van hul huisie gesit en suig aan sy feetjie-pyp en by homself gesug: “Ai, ek is die gelukkigste fee-man in die hele wêreld.” En dan het feetjie-ma gekom en oor sy hare gestreel en hom op die voorkop gekus. En wanneer hy speels wou begin vat-vat, het sy hom net so effens gekielie en stuitig gesê: “Later, my liefding, later . . .“

Op Moedersdag het haar gesin vir haar presente gebring. Die kinders het een jaar ’n plakkaat gemaak en buite teen hul huis se muur geplak: DIE BESTE MAMMA IN DIE WÊRELD! En dan het hulle in die bos gaan piekniek hou. En almal het gelukkig saam gelewe, soos dit feetjies betaam, presies soos die storie-vertellers dit uitdink . . .

Daar was egter ’n dag by die koerant dat ’n ma daarop aangedring het om my te spreek, kom wat wil. My sekretaresse het gevra dat ek tog na haar moet luister. Ek het haar teensinnig laat binnekom. Agter haar het haar seun skoorvoetend ingeskuifel. Seun was nie eintlik onbekend nie, maar in groot moeilikheid. Een van ons verslaggewers het snuf in die neus gekry. Sy storie was klaar vir die voorblad uitgemeet, bokant die vou van die koerant.

Ek het hulle na my klein sitkamer genooi. Die ma het begin praat. Ek het haar láát praat, eintlik nie lus om na haar te luister nie. Sy het dit dadelik aangevoel, maar deurgedruk.

“Ons is in die skande, Meneer,” het sy gesê: “Ek kom as ’n moeder na u. Dis my seun, Meneer. Ons het hom nie so grootgemaak nie, Meneer. Maar ek kom pleit vir hom, Meneer. Ons het gehoor julle skryf Sondag oor hom. Dit sal hom breek, Meneer. Wees ons genadig, Meneer, en moenie al die lelike goed skryf nie. Ek praat as ’n moeder, Meneer. Ek bid so baie vir hom . . .”

Die skarminkel van ’n seun het sit en snuif en neus blaas in ’n groot sakdoek. Hy het gedurig na sy ma se hand gesoek. Sy het dit gedruk terwyl sy haar trane afgevee het. In ’n stadium het sy haar arm om sy skouers gesit.

Ek het dit sit en bekyk. Dit was haar uur van verdriet en skande, veroorsaak deur ’n “verlore” seun. Sy was klaarblyklik ’n opregte vrou. Sy het my aangekyk, met pleitende oë. Ek het gesê ons sal die berig nie plaas nie.

Talle male daarna het sy my gebel en dankie gesê. Op ’n dag het ons sommer net gesels, en afgesluit met haar wat sê: “Dankie vir die genade, Meneer.” Op ’n manier het ek bietjie soos ’n fariseër gevoel.

Die Spreuke-digter het van die “deugsame vrou” geskryf, die een wie se waarde “ver bo korale is”. Wat “van ver af brood inbring”. Wat hemde verkoop. Wat spin en brei vir haar kinders. En haar man “is bekend in die poorte”. Pragtig. Die Woord van die Here stel soms voorbeelde wat ’n mens verstom laat.

Maar wie dink jy is die ware feetjie-ma, die moeder in alle opsigte?

Die een met haar ses kinders in die bos?

Die ma met die skarminkel-seun?

Of die vrou wat deur die Spreuke-digter geprys word?

Die eerste een is fiksie.

Die derde een is, met respek vir die Woord, ’n ideaal.

Die een in my kantoor is die werklikheid oor wie ek nou nog baie nadink.