Diverse

Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers

 Haar heuningkleurige hare is perfek gesny, hofknaapstyl en ‘n reuse-donkerbril versteek haar oë. Die uitrusting is ingetoë, byna neutraal, perfek gesny uit ‘n outydse kamstof. Om haar bleek nek, ‘n eenvoudige string amberkrale. Hy, net so bleek, is uitgevat in swart, maar ernstige swart, swart met mening. Sy silwer hare is teruggetrek in ‘n stertjie, en daar is geen teken van sy oë agter die pikswart bril nie. Om die hals, ‘n dun kettinkie, die hande verbloem in vingerlose donkerpers napa-handskoene, rygveters aan die buitekant.
 
Anna Wintour vanAmerikaanse Vogue en Karl Lagerfeld van Chanel langs die loopplank – tussen hierdie twee word daar bepaal hoe die wêreld se rykes en beroemdes die volgende jaar gaan lyk. Twee totaal ondeurdringbare figure – eet hulle somtyds roosterbrood met marmalade, sal hulle op ‘n Sondag in slaapklere rondslons, vir ‘n hele dag sonder grimering loop? ‘n Mens sal nooit weet nie. Want beide is lewende legendes – gode van styl en mode. Sal hy ruik na Chanel se Égoïste, kruie van Provence en vrugte en sy, na No. 19, groen en kurkdroog?
 
Maar selfs sonder Lagerfeld, ja, selfs sonder Coco, die briljante vrou wat hierdie modereus begin het, sal Chanel altyd bekend wees vir slegs één produk – die legendariese parfuum Chanel No. 5. Luca Turin* sê daarvan: Alone among fragrances known to me, it gives the irresistible impression of a smooth, continuously curved, gold-coloured volume that stretches deliciously, like a sleeping panther, from top note to drydown.

Ek vind No. 5 interessant, maar nie boeiend nie. Die oordaad aan aldeïdes pla my neus, die wonderbaarlike roos en jasmyn ten spyt. Onlangs het Chanel hul No. 5 herbesoek, en No. 5 Eau Premier uitgereik. En nou verstaan ek hierdie legende, skielik is die aldeïdes in toom, die balans perfek. Ek dink terug aan die 1960’s toe ek as jong seun ‘n swart-en-wit-foto-advertensie van No. 5 in Life Magazine gesien het – Marilyn Monroe in profiel, ‘n weerlose hand teen haar bleek nek, een skouerband van haar lamé-rok los oor die bo-arm, die parfuum in die ander hand. Êrens het ek gelees dat sy ‘n eetlepel No. 5 in haar badwater gegooi het – en as jong kind het dit my geil verbeelding gevaarlik op hol gehad, nagte aaneen.
 
In teenstelling met baie ander groot parfuumhuise, is Chanel uiters konserwatief met nuwe uitreikings. ‘n Mens verwag so elke tien jaar iets nuuts, en dis gewoonlik die moeite werd om daarvoor te wag. Gaan kyk gerus op hul webwerf, die totale aanbod vir vroue bestaan uit No. 5, Allure, Coco, No. 19 en Cristalle – my peroonlike gunsteling is No.19, wat ek vermoed baie goed aan ‘n man kan ruik. By die mans-geure is daar Allure Homme, Allure Homme Sport, Antaeus (my gunsteling, sien vorige blog), Platinum Égoïste en die briljante Pour Monseur.
 
Is dit al wat ‘n mens van Chanel se parfuums kan sê? Nee, ‘n duisend maal nee. By enkele plekke op aarde, waarvan Kaapstad een is, kan jy van die mees goddelike parfuums op aarde belewe. Sou jy weer by die Kaapse Waterfront aanland, loop reguit na Edgars se Red Square, draai slap links by die deur en stap Chanel se boetiek binne. Regs agter teen die muur staan ‘n bleek toonbank met klassieke Chanel-bottels, voor dit, keramiek-reukstawe.
 
Die Les Exclusives-reeks van twaalf geure is seker een van die merkwaardigste monumente van die kuns van die parfumier. Luister na die name – Bois des Iles, 31 Rue Cambon, 28 La Pausa, Bel Respiro (om vry asem te haal!), Coromandel en Sycomore. Mag ek voorstel dat jy begin by Sycomore, koeskoesgras gevoer tot sy mees hemelse. Cuir de Russie dan? Leer natuurlik, maar soos jy dit nog nooit vantevore geruik het nie – dis gemaak met die afgekookte sap van Russiese berke. Dit is só luuks, só opulent dat jy dit alleen wil dra – die hoogtepunt van dekadensie.
 
Les Exclusives is nie soseer parfuums nie, maar eerder fyn studies in akkoorde. Almal is delikaat, selfs efemeer, maar dit maak hul nog meer spesiaal. As No. 5 as ‘n simfoniese reuk beskou kan word, groot en kompleks, is Beige of Bios des Iles kamermusiek, elke noot duidelik en intiem.
 
Ek het ‘n plan. Sou jy in die noorde van Kaapstad woon, en jou man wil Nuweland toe vir rugby, verras hom. Vra om saam te gaan. Net voor die wedstryd ontwikkel jy ‘n skeelhoofpyn, wag tot hy verkas, en jaag dan reguit na Chanel in die Waterfront. Koop dan éénmaal in jou lewe ‘n meesterstuk. Spuit dit aan, en wag dat hy terugkom …
 
* Turin, L. & Sanches, T. 2008. Perfumes: the guide, Profile Books, Londen.