Diverse

Die pomponboom

Die boom het kort by die ingang tot die tuin gestaan, byna soos ’n groot pienk sambreel met effe ligpers rantjies. Dit het eintlik die hele prentjie gemaak: Die sambreelboom, nie te groot nie, nie te klein nie, die klein grasperk, die stoeppilare, die Provensaalse deure en vensters, die terracotta-trappe en die donker-magenta bougainvillea in ’n vakkie bo-op die stoep. Dit was ook die foto wat die eiendomsagente in volkleur in die koerant geplaas het.

Nie dat dit juis in ’n kundige se smaak sou val nie, maar op ’n manier, as ek ’n kunstenaar was, sou ek dit graag wou skilder, veral in die lente met die bolronde blomme wat heerlik ruik wanneer die son saans begin wegraak. Daar het soms mense gekom wat by die tuindeur bly staan het om na die boom te kyk.

Toe, ongeveer tien jaar gelede, tref die ramp een nag. Die Hoëveldse Swart Ryp het gekom en ons plante, varings en gras verwoes. Die gras het weer gou herstel, die varings en struike ook. Maar die pomponboom se blomme het verwelk, die takke het droog geword, die blare het slap geword en stadig afgeval tot ’n rare kaal geraamte van ’n boom in die somer. Die pompon was aan die doodgaan. Iets van die tuin se siel was aan ’t verdwyn.

Ek het dit ’n hele tyd so laat staan en maar eers die droogste takke laat afsaag, in die hoop teen alle hoop dat daar tog weer op ’n dag iets sal uitspruit wat ’n teken van lewe was. Niks het gebeur nie.

Op ’n dag het ek vir Samuel gesê om die pomponboom maar stomp af te saag en iets anders te plant. Ons het weer gehoop dat die stompie nog iewers klam sou wees, ’n belofte, ’n moontlikheid. Maar dit was bruin, droog, effe gebars, klaar met die wêreld.

Wanneer ek in die buurt stap, verwonder ek my nog steeds aan pomponbome in tuine en selfs een of twee op die sypaadjies. Maar nie een is my boom nie, so perfek geplaas, so fyn teen die agtergrond van die huis, so vrolik soos ’n strandsambreel by Kampsbaai in die somer by die rustige see.

Ek kan nou nog nie verstaan waarom die ander pomponbome in die buurt nie ook doodgeryp het daardie yskoue nag nie. Veral nie die paar bome wat onbeskut op die sypaadjies staan nie. Maar die Hoëveldse ryp hou, soos die wind en die getye van die see, ook sy geheim.

En op ’n dag het ons die klimop teen die linkermuur teruggesny, en jou werklik, agter die klimop was ’n nuwe klein pomponboom aan die groei, waarskynlik van die saad van my boom. Dié staan nou al hoog, maar maak geen vertoning nie, té weggesteek in ’n hoek en as ’t ware oorgroei deur ’n berkeboom en ’n sipres.

Laas jaar in September het ’n vreemde plant skielik begin groei waar my pomponboom gestaan het, vier stingels bymekaar. Ek was geïnteresseer en wou by gaste weet wat dit is. Niemand kon help nie. Tot op ’n dag dat Samuel vir my sê: “Ek dink dis onse boom wat weer groei. Daai boom wat ons hier afgesaag het.”

Ek kon dit nie glo nie en het gesê hy praat onsin. Toe gaan haal hy ’n paar blare van die ander pompon en vergelyk dit met die nuwe plante se blare. Identies. Kort daarna het ’n boomkundige ander bome in die tuin kom snoei en dit bevestig: Die pomponboom het herleef ná tien jaar! Dit was diep onder die grond nooit heeltemal dood nie, en al het dit baie lank geneem, het dit weer begin groei.

“Maak dit skoon en laat die twee sterkste uitlopers staan, bind die stamme later liggies saam en jy sal weer ’n pomponboom hier hê,” het die boomman gesê.

Dit herinner aan Paastyd, die tyd van lewe. Die nuwe lewe van Jesus Christus. Ons dink soms iets is onherroeplik dood, maar dit sal herlewe. Ons dink iets is weg, en dit word gevind. Ons dink soms alles is verlore, en dan is dit maar net ’n nuwe begin.

Geseënde Paastyd.