jul06izak7
Diverse

Die ry

Skielik het ek myself gesien, net so, toe ek sewe jaar oud was in die Paarl. Ons aardrykskunde-“projek” was om al die Paarlse plekke te leer ken en dit dan te gaan teken, kaart en al. Op sulke togte “ter plaatse” is ons hele klas hand aan hand deur die strate na die stadsaal, die park, die hof, die taalmuseum, die kerke. Ernstige sake, want vir die meeste gebore, ware Paarliete is die Paarl en die Boland eintlik hul lewe lank die hele wêreld – ook nog steeds vir hierdie seuntjie wat nou in Johannesburg woon.

Toe die lig groen word, het die Johannesburgse rytjie kinders begin loop, met die juffrou wat in die middel van die straat gaan staan en hulle soos ’n ma-hen dophou. Twee het aan mekaar begin pluk en die juffrou het bedaard ’n waarskuwende woord laat hoor. Die wêreld gaan voort, maar menslike gedrag, hetsy klein of groot, verander nie.

Ek self het meesal verveeld in my rytjie saamgedrentel, want ek het al die besoekplekke geken en die troepie het te stadig na my sin beweeg. Dis maar my lot: In my lewe het ek al by honderde vergaderings geluister na lang besprekings wat eintlik na nêrens lei nie, en dan weer gevoel soos die seuntjie in die standerd-een-ry, sommer lus om te begin ruk en pluk. Die vernames en geleerdes is soms verveliger en meer koersloos as die geselskap van die dogtertjie hier bo in die straat wat sê ek lyk na haar grandpa en of sy vir my kan dans?

Die kindertjies in die Johannesburg-ry was vars en fyn, en hulle leer orde en veiligheid eerste, en mooi maniere. Maar ek het van vroeg my eie soort paadjie geloop, en meesal nie saam in ’n ry nie. (My oudste seun sê ek is eintlik ’n closet revolutionary! Ander noem my eenvoudig net dwars.) Die dissipline van die ry is noodsaaklik, maar dis wanneer jy alleen sit of alleen loop en dink dat nuwe idees in jou gedagtes in rye begin beweeg.

Wat my van die rye van die samelewing verbaas, is hoe maklik mense wat aan een ry of rigting trou sweer, die volgende dag by ’n totaal ander ry kan aansluit. Ek het dit oor en oor gesien, veral in die politiek. En by sinodes. Een dag is die koers só. Die volgende dag is dit sus. En almal agterna. En hulle kry nie eens skaam nie!

Maar die kleintjies wat hande vat: Ek onthou een baie opwindende dag in my skoolry – dit was die keer toe ek langs die mooiste meisie in ons klas gestap het en ons ewe liefderik handjies gehou en nooit gelos het nie. ‘n Dag lank was ek smoorverlief op haar. Daarna was ek verlief op juffrou Robertson, toe op die drama-juffrou en later op my musiek-juffrou. Dis nogal hemels: Sy ruik so lekker en sy sit langs jou voor die klavier …

Hoe jammer die dae van onskuld gaan verby. In die optog van die lewe word jy soms in ’n ry gedwing waar jy aanvoel die koers is verkeerd. Ek het dikwels sulke rye net eenvoudig verlaat en my eie koers gekry. Want die grootste en moeilikste reise onderneem jy alleen. En die grootste denkers en kunstenaars loop meesal lang afstande deur woestyne en diep driwwe.

Ek het nie saam met die Johannesburgse rytjie kinders oor die straat gestap nie. Ek het bly staan, verwonderd oor iets van ’n teerheid wat uit daardie ry gestraal het, ook toe hulle opgewonde aan die ander kant van die straat na die winkelsentrum koers gekry het.

Toe het ek alleen verder gestap, soos daardie kinders ook nog alleen sal loop wanneer hul rytjie eendag werklik opbreek. En tog is ’n mens nooit alleen nie, al voel jy soms so. Daar is deurentyd in lig en donker ’n Teenwoordigheid langs jou. Iemand wat soms jou hand vat. Iemand wat soms waarskuwend praat soos die juffrou, en dan beter jy luister.

Ja, en soms dra Iemand jou. Dis ’n Misterie. Maar dis so.