krieket1
Diverse

Die (spin)dokters voorspel ernstige krieketkoors!

Sexy Bollywood-sterre Shahrukh Khan (Indië se eie Tom Cruise), Preity Zinta en Shilpa Shetty – eienaars van die Knight Riders, Kings Punjab en Rajasthan Royals onderskeidelik – het net voor die karnaval aangekondig by elk van die 56 wedstryde sal ‘n Mej. Bollywood uit die toeskouers gekies word. Die wenner sal as ‘n gas van Shahrukh Khan Moembaai toe gaan, op die stel van ‘n paar Bollywood-flieks kuier en talle van die Indiese krieketsterre ontmoet. Môre (Vrydag 17 April) word ‘n aankondiging oor ‘n opwindende IPL-gemeenskapsprojek verwag. Saterdag 18 April is die opening-seremonie op Nuweland met vermaak deur die groep Snow Patrol en Cirque d’Soleil.

Dié krieketfees is ‘n wonderlike vermenging van top-krieket en vermaak. En volgens die aktrise Shilpa Shetty is daar in ‘n tyd van ressesie net twee dinge wat bly: sport en vermaak! En hier’s ‘n sterk dosis van albei.

Die IPL in Suid-Afrika is ‘n spel van syfers:
• In net 27 dae is dié byeenkoms in Suid-Afrika gereël
• 8 spanne
• 100 spelers
• Met twee semi-finale en finale wedstryde ingesluit word altesaam 59 wedstryde gespeel
• Met ‘n besteding van sowat R120 miljoen is die IPL die grootste media-adverteerder in die Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis
• Die opening-seremonie het binne 2 ure uitverkoop
• Meer as 40 000 hotelkamers is bespreek
• Meer as 10 000 binnelandse vlugte is bespreek
• 700 IPL-personeellede werk tans voltyds in Suid-Afrika
• Visums is binne 24 uur regoor die wêreld aan organiseerders uitgereik
• 10 000 Indiese ondersteuners word verwag
• 90% van kaartjies is reeds uitverkoop
• ‘n Belegging van tussen R1,5 en R2 miljard word geraam

Die stigter van die IPL, Lalit Modi, het Suid-Afrika bedank vir die oorweldigende ondersteuning met al die reëlings. Hy het dit toegeskryf aan die ongelooflike “ons kan”-ingesteldheid van Suid-Afrikaners en elke probleem wat opgeduik het, is binne minute opgelos.
Nou vir 2010 en die Wêreldbeker!!!